Wat is binne die Doos?

By vanjaar se US Woordfees het die onkonvensionele toneelstuk Doos/Box gesorg vir ’n intieme teaterervaring. Die regisseur, Llandi Beeslaar (ook bekend as Mielie Senekal), het dit beskryf as ’n “konseptuele teaterervaring” aangesien die toneelstuk binne ’n lewensgrote “boks” afspeel. Daar is 16 openinge in die “boks” waarin teatergangers hul koppe moet steek om die toneelstuk te sien.

Daar is twee afwisselende toneelstukke wat binne die “boks” opgevoer word, waarvan Wessel Pretorius en Philip Rademeyer die skrywers is. Rademeyer se Die laaste ding het hoë aanvraag geniet tydens die US Woordfees en daarom was dit die meerderheid van die kere opgevoer. Rademeyer se werk verleen hom perfek tot Doos/Box se speelruimte, omrede dit die rouheid van sy karakter beklemtoon.

boks

Die lewensgrootte Doos/Box waarbinne Philip Rademeyer se Die laaste ding opgevoer is. Foto: Instagram/doosboxwf

Stephanie Gericke (28) vertolk die rol van die laaste persoon op aarde, ’n vrou. Die “boks” bevat haar dorre wêreld en forseer die teatergangers om elke emosie van haar karakter self te ervaar. Gericke neem die teatergangers op ’n reis wat insig gee oor die kronkelpaaie van haar karakter se herinneringe van dit wat eens was en nou nie meer is nie.

Die regie, storielyn en toneelspel is van so ’n aard dat die gehoor nooit wil of kán wegkyk nie. Die aandag dwaal nooit na die ander 15 gesigte wat in die “boks” loer nie, alle oë bly vasgenael op Gericke.

Doos/Box het by die Klein Karoo Nasionale Kunstefees in 2018 sy debuut gemaak en is toe benoem vir die beste Uitkampteater-produksie by die 2018 Kannas. Gericke en Beeslaar se sinergie is tasbaar en saam beplan hulle talle optredes van Doos/Box in die nabye toekoms.

Stephanie

Stephanie Gericke binne die boks. Foto: Instagram/litnet

Vyftien minute van nabye en direkte konfrontasie met Gericke se kragtige toneelspel het veroorsaak dat die storie van ’n vrou wat verlang na vlees, liefde en ander lewe, lank na die toneeloptrede in die gedagtegang van die gehoor sal bly.