Voorval op Rooiplein belig veiligheidsrisiko’s van oop kampus

Een van die grootste uitdagings rondom die bestuur van die Universiteit Stellenbosch (US) se oop kampus, is om veiligheidsmaatreëls in plek te stel wat totale sekuriteit aan besoekers kan verseker.

Dit was volgens Martin Viljoen, woordvoerder vir die US. “Veiligheid op kampus vereis samewerking tussen die kampusgemeenskap en sekuriteitsdienste, soos Kampussekuriteit en die polisie,” het Viljoen per e-pos aan MatieMedia gesê.

Die Rooiplein is ʼn gewilde area vir studente en besoekers aan die Universiteit Stellenbosch (US) omdat dit in die middel van die oop kampus is. FOTO: Nicola Spingies

Dít volg na ’n onlangse voorval op die Rooiplein, waartydens studente mondelings deur ’n vrou geïntimideer is.

Vezokuhle Mtungwa, ’n BA-student in politieke wetenskap aan die US, is een van die studente wat by die voorval betrokke was. Tydens die voorval het die vrou, vermoedelik ’n hawelose, op kampus rondgeloop en op studente geskree.

Vir Mtungwa is hawelose individue wat ook toegang tot die US-kampus het, veral ’n “ernstige veiligeheidskwessie”. 

“Soms wil ek nie eers meer my middagete buite [op kampus] eet nie, omdat die haweloses ’n mens te skuldig en ongemaklik laat voel,” het Mtungwa gesê. 

“Omdat die US ’n oop kampus en toeganklik vir enige persoon is, is dit moeilik om spesifieke mense te probeer weghou,” het Viljoen gesê. Viljoen het bygevoeg dat dit wel van tyd tot tyd gebeur dat haweloses ’n oorlas van hulself maak deur vir studente en personeel vir geld te vra. Hulle het egter “net soveel reg soos enige iemand anders” om op kampus te wees, het Viljoen verduidelik.

Bly uit die spervuur

Viljoen het aanbeveel dat studente nie by onderonsies met haweloses betrokke moet raak nie. “Hiérdie gevalle moet eerder so gou as moontlik by Kampussekuriteit of by die polisie aangemeld word,” het Viljoen gesê.

Wanneer die gevalle aangemeld word, kan sekuriteitsdienste met meer erns reageer, in plaas daarvan om bloot net die haweloses weg te jaag, het Kaptein Natalie Martin, woordvoerder vir die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD) in Stellenbosch, per e-pos aan MatieMedia gesê. 

“Die SAPD werk saam met Kampussekuriteit om die US-kampus gereeld te patrolleer sodat studente van hul veiligheid verseker kan wees,” het Martin verduidelik.

Gevalle waar studente deur haweloses geteister word, moet by Kampussekuriteit of by die polisie aangemeld word, het Martin Viljoen, woordvoerder vir die Universiteit Stellenbosch (US), gesê. FOTO: Nicola Spingies

Haweloses kan ook verwys word na een van die verskeie ingrypingsprogramme wat in die dorp beskikbaar is, het Viljoen gesê. “Dié uitdaging is een waarin ons almal ’n rol het om te speel,” meen Viljoen.

Een van die programme word bestuur deur vrywilligers wat elke Vrydagoggend kos en koffie aan haweloses uitdeel by die Kruiskerk. Dit was volgens Berndt Lindner, ’n vrywilliger by Street People Ministries. “Benewens die kos en koffie, neem ons ook oor naweke ’n paar hawelose mense na die dieresorgvereniging om met die honde te gaan stap. Só verdien hulle ’n kaartjie wat vir hulle toegang gee tot die veilige hawe, Heartflow,” het Lindner gesê. Heartflow is ʼn nie-winsgewende organisasie wat skuiling en kos aan haweloses verskaf deur middel van ʼn R10-koeponsisteem. Vrywilligers kan by verskillende besighede in die dorp die kaartjies koop en aan haweloses skenk.

Volgens Lindner is ’n aantal haweloses al deur die programme gehelp om minder gewelddadig op te tree. “Ons hoop maar net dat ons gebare van vriendelikheid hulle in ’n meer stabiele rigting sal lei,” het hy bygevoeg.

, , ,