Voormalige US dramastudent wen gesogte teaterprys

’n Voormalige dramastudent aan die Universiteit Stellenbosch (US), het die toekenning vir die mees belowende student by die 58ste Fleur du Cap-teatertoekennings gewen. Die toekennings het op 26 Maart by die Oude Libertas-amfiteater in Stellenbosch plaasgevind. Dit is volgens Africa Melane, voorsitter van die Fleur du Cap-teatertoekennings.

Mikayla Joy Brown het meegeding teen onder meer Minke Marais, tans besig met haar honneursgraad in  BA Drama- en Teaterstudie by US, en Miché van Wyk, wat verlede jaar haar honneursgraad in BA Drama- en Teaterstudie by US ontvang het. 

Mikayla Brown het by vanjaar se Fleur du Cap-teatertoekenings weggestap met die trofee vir die mees belowende student. FOTO: Anri van Helsdingen

“Ek het die nominasie glad nie verwag nie”

Brown se nominasie is gegrond op haar werk wat sy deur die jaar by die US dramadepartement gedoen het. Dit sluit in ’n produksie wat sy self geskryf het.  

“Hierdie jaar sal my produksie, Jantjies and the Pearls, by KKNK sowel as Suidoosterfees wees,” het Brown aan MatieMedia vertel. Volgens Brown het sy Jantjies and the Pearls oorspronklik vir die 2022 Première Teaterfees geskryf, ’n kompetisie wat jaarliks deur die US dramadepartement aangebied word.

“Ek het die nominasie glad nie verwag nie,” het Miché van Wyk, voormalige dramastudent van Universiteit Stellenbosch, aan MatieMedia vertel. Van Wyk is een van drie studente verbonde, of voorheen verbonde, aan dié departement, wat onlangs genomineer is vir die toekenning van mees belowende student by vanjaar se Fleur du Cap-teatertoekennings. FOTO: Anri van Helsdingen

Die produksie is geïnspireer deur haar oupa, Gerald Brown, wat in Distrik Ses grootgeword het, het Brown gesê.

Van Wyk sal ook in hierdie produksie te siene wees. Ek het die nominasie glad nie verwag nie,” het van Wyk gesê oor háár benoeming vir haar vertolking van Ruth Jantjies in dié produksie. 

Loopbaan-hoogtepunt 

Volgens Marais het US se dramadepartement verseker dat teater sal voortleef, ongeag die negatiewe uitwerking wat die Covid-19-pandemie op die teatersektor gehad het. “Hierdie nominasie is my heel eerste nominasie vir ’n teatertoekenning. Dit was vir my ’n groot hoogtepunt in my teaterloopbaan,” het Marais gesê.

Marais sal ook by vanjaar se Klein Karoo Nasionale Kunstefees (KKNK) en Suidoosterfees in die produksie Afval te siene wees. Afval was saam met Jantjies and the Pearls een van die top vier produksies by die 2022 Première teaterfees.

Minke Marais, tans besig met haar honneursgraad in BA Drama- en Teaterstudie by Universiteit Stellenbosch, is ook genomineer vir die toekenning van mees belowende student by vanjaar se Fleur du Cap-teatertoekennings. FOTO: Anri van Helsdingen

Daar is ’n trotse gevoel in die US dramadepartement te midde van hierdie nominasies, het Nicole Holm, aktrise en dosent by dié departement gesê. 

“Elke nominasie, nevermind wen, maak my tranerig gelukkig,” het Holm gesê. Holm het self ’n Fleur du Cap-nominasie ontvang vir die beste teater produksie vir kinders en jongmense, vir Sonde met die Spoke, ’n departementele kinderproduksie wat sy verlede jaar op die planke gebring het. 

Sonde met die Spoke is ’n verwerking van drie van CJ Langenhoven se spookstories. Dus, kultuurskatte,” het Holm vertel.

“Verlede jaar was ’n moeilike jaar vir dié [toneel]-sektor,” het Melane gesê, en verduidelik dat dit op een van die mees verwoestende tydperke in Suid-Afrika se teatergeskiedenis gevolg het. Vanjaar het 71 produksies vir die Fleur du Cap gekwalifiseer, wat weereens die veerkragtigheid van die plaaslike teatermakers demonstreer, het Melane bygevoeg.

Vanjaar se 58ste Fleur du Cap-teatertoekennings is op 26 Maart by die Oude Libertas-amfiteater in Stellenbosch aangebied. FOTO: Anri van Helsdingen

,