Voedselvoorsiening steeds ʼn dringende kwessie by US

Die Universiteit van Stellenbosch se studenteraad (SR) sê dat hulle toegewyd is daaraan om oplossings te vind vir die voedselkrisis wat deur baie studente op kampus ervaar word.

Die SR-, koshuis- en PSO-leierskapstrukture, kluster-sameroepers, die nie-geaffilieerde groep The People’s Movement asook die Sentrum vir Studentegemeenskappe (SSG) het gedurende die Maart-vakansie saamgewerk om te verseker dat studente toegang kon hê tot etes by Irene-koshuis.

Voedselsekuriteit is ʼn kwessie wat dringend aangespreek moet word. Dit is die mening van verskeie rolspelers by die Universiteit van Stellenbosch (US) wat betrokke is by inisiatiewe wat poog om die kwessie te verlig.

Een van hierdie inisiatiewe is die #Move4Food-veldtog wat verlede jaar geloods is. Volgens Cailin Perrie, voorsitter van ConnectMaties, is die projek nog steeds volstoom aan die gang.

Lees hier meer oor #Move4Food-veldtog: https://www.smfnews.org/move4food-campaign-reaches-million-rand-milestone/

“Ons stel binnekort die #Move4Food-veldtog vir 2019 bekend. Tans is daar meer as R1 miljoen in donasies ingesamel vir die veldtog en ons werk aan maniere om die breër Stellenbosch-gemeenskap by hierdie pogings betrokke te kry,” het Perrie gesê.

Perrie het die vordering van die veldtog asook toekomstige planne gedeel tydens ʼn byeenkoms wat deur die Luister, Leef en Leer-gemeenskap (LLL) gereël is.

Die LLL beplan om in samewerking met #Move4Food en ander rolspelers verder te gaan met inisiatiewe vanaf hulle kant om die voedselkwessie aan te spreek.

Move4Food

#Move4Food 2018. FOTO: Facebook

Nog hulp vir studente wat met voedselvoorsiening sukkel kom van ʼn groep studente wat bekend staan as “The People’s Movement”.

Volgens Zintle Tunce (20), ʼn BA Internasionale Studies-student, het sy studente in rekenaargebruikersarea in die Neelsie ontdek wat daar geslaap het en ook nie kos gehad het nie. Tunce het toe na die res van die studente in The People’s Movement uitgereik.

The People's Movement

Studente wat deel vorm van The People’s Movement. FOTO: Facebook

“Ek het nie geweet wie almal in die WhatsApp-groep is nie, so ek het in wese met die breër studenteliggaam gepraat. Ons het toe bymekaar gekom, besluit om pamflette te maak en dit by verskeie studie-areas te gaan opplak. Die pamflette het kontakbesonderhede bevat van hoe behoeftige studente met ons in kontak kon kom,” sê Tunce.

Sy noem ook dat mense dadelik begin uitreik het.

“Ons het gevind dat sommige studente NSFAS-beurshouers was, terwyl ander wel geld gehad het vir kos, maar nie genoeg nie. Sommige studente het ook nie akkommodasie gehad nie. Party studente was bietjie skrikkerig, maar dis te verstane, kwesbaarheid doen dit aan ʼn mens. Toe het ons besluit om daadwerklik op te tree. Ons is al vir omtrent drie jaar by die Universiteit en het geweet met wie om te gaan praat, watter kantore op kampus om na toe gaan, en as studente van kleur weet ons wat ons nodig het. Ons het gebruik gemaak van die hulpbronne op kampus.”

Olona Ndudzo (20), ʼn BCom Finansiële Rekeningkunde-student, voeg by dat sy dink die bykomende druk wat die teenwoordigheid van The People’s Movement gebring het, is wat uiteindelik gehelp het om dinge vinniger te laat beweeg.

“Die groep bestaan uit baie verskillende studente en almal ken iemand wat kan help. Ons het mense se sterkpunte gebruik. Sommige studente is goed met kommunikasie, ander is goed met onderhandel. Baie studente het hulle eie geld gegee om te help omdat ons daardie eerste aand nie baie gehad nie.”

Die SR werk tans saam met die US Alumni-kantoor, die SSG en ander rolspelers om maniere te vind om te verseker dat alle studente op kampus toegang tot kos het en ten einde ʼn volhoubare omgewing te skep vir alle studente.