Vermeende rowers vasgetrek in gesteelde motor

Vier persone is verlede week in hegtenis geneem in verbinding met ’n inbraak by Zimbabwe Flats in Borcherdstraat, Stellenbosch. Kaptein Nathalie Martin, woordvoerder vir die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD) in Stellenbosch, het die voorval van 16 April bevestig.

“Die klaagster het opgemerk dat haar Volkswagen Jetta, platskermtelevisie, skootrekenaar, kamera en juweliersware gesteel is. SAPD-lede het patrollies gedoen en die gesteelde motor by die verkeersligte van die R44 opgemerk,” het Martin per e-pos aan MatieMedia gesê.

Volgens die Stellenbosch-landdroshof, is borgtog van R500 elk reeds aan drie van die beskuldigdes toegestaan. Die vierde beskuldigde sou weer op 26 April in die hof verskyn. Al vier verdagters was egter met die tyd van publikasie steeds in aanhouding.

inbraak

Lede van die Suid-Afrikaanse Polisiediens in Stellenbosch het die woonstel waar die inbraak was, vir vingerafdrukke gefynkam. FOTO: Jamie Venter

‘Ons yskas en koskaste is leeggemaak’

Gerda Barnard, die slagoffer van die inbraak, het aan MatieMedia gesê dat haar woonstel chaoties was toe sy na Paasnaweek daar aangekom het. “Met ons terugkeer, het ek agtergekom dat die veiligheidshek en die deur nie gesluit [was] nie,” het sy gesê.

Die inbrekers het vermoedelik die bure se hek oopforseer en toe oor die muur gespring om toegang tot Barnard se woonstel te verkry.

“Ons yskas en koskaste is leeggemaak. Dit het ook gelyk asof hulle eers hier geëet en [ge]drink het, want op die tafel het koeldrank, kos, ’n bord en ’n glas gestaan,” het sy gesê.

Volgens nog ’n inwoner in die kompleks, word inbrake veral sedert verlede jaar ervaar. “Verlede jaar is ’n fiets en twee skootrekenaars gesteel, waarvan een deur die venster gesteel is,” het Olivia Jones beweer.

inbraak

Inbrekers het oor Paasnaweek toegang tot ’n woonstel in Zimbabwe Flats  in Stellenbosch gekry deur ’n deur oop te forseer. Verskeie items, insluitend ’n Volkswagen Jetta, is gesteel. FOTO: Nazley Wilschutt

Wat sê Zimbabwe Flats

Luidens ’n verklaring van die regspersoon wat namens die trustees per e-pos aan MatieMedia gestuur is, is hulle bewus van die onlangse inbrake. “Sekuriteit is ’n bekommernis vir almal en daarom word elke voorval ondersoek sodat die nodige verbeteringe aangebring [kan] word,” het die verklaring gelees.

Alle inwoners van Zimbabawe Flats het op 21 April briewe van die regspersoon ontvang, waarin daar bekend gemaak is dat ’n stel sleutels tot die kompleks ook gesteel is. Volgens dié brief, moes “alle kenplaatjies gedeaktiveer word om enige ongewenste toegang tot die kompleks te vermy.”

inbraak

Dít is Borcherdstraat in Stellenbosch waar Zimbabwe Flats geleë is. Inbrekers het toegang tot een van die woonstelle gekry en verskeie items gesteel. FOTO: Nazley Wilschutt

Inwoners word, volgens die brief, ook aangemoedig om met hul selfoonnommers te registreer ten einde toegang tot die hoofhek te kry. “Alle afstandbeheerders sal later gedeaktiveer word sodra ’n gepaste oplossing vir toegang tot die kompleks gekry is,” lees die brief.