Vermeende misdadiger vasgetrek tydens gemeenskapsoptog in Idasvallei

’n Vermeende misdadiger van Idasvallei is vasgetrek en in hegtenis geneem nadat die gemeenskap hom tydens ’n protesoptog aan die polisie uitgewys het. Dit is volgens Stephani Heneke, ’n gemeenskapsleier van Idasvallei wat die protesoptog bygewoon het. 

Die beskuldigde is gearresteer vir gewapende roof, het Kaptein Zenobia Sedeman, kommunikasiebeampte van Cloetesville-polisiestasie, bevestig.

Die protesoptog het op 4 September plaasgevind, ná ’n gewapende roof vroeër die dag.

Die gemeenskap weet dat die verdagte ’n algemene oortreder in Idasvallei is, het Henneke beweer.

Die Idasvallei-gemeenskap het op 4 September ’n protesoptog gehou en ’n vermeende misdadiger aan die polisie uitgewys. Dit is volgens Mildred Gordon, ’n gemeenskapslid wat aan die protes deelgeneem het. Die verdagte is gearresteer vir gewapende roof, het Kaptein Zenobia Sedeman, kommunikasiebeampte van Cloetesville-polisiestasie, bevestig. FOTO: Liza-May Pieters

‘Die gemeenskap staan saam’

Die optog het plaasgevind nadat die gemeenskap ingelig is dat twee skoliere vroeër die dag deur iemand met ’n geweer van hulle selfone beroof was, het Henneke gesê.

Volgens Kaptein Sedeman het die insident 11:45 in Daliastraat, Idasvallei plaasgevind.

‘n Taxibestuurder het glo die rooftog sien afspeel, en het besluit om die rower agterna te sit, het Henneke vertel.

“Die bestuurder van die taxi het toe die slagoffers se selfone teruggekry,” het Henneke gesê.

“Die gemeenskap het by die Trinity Methodiste-kerk in Bloekomlaan bymekaargekom en na die slagoffers se huise toe geloop om te wys dat ons hulle ondersteun,” het Mildred Gordon, ’n gemeenskapslid wat die protes bygewoon het, aan SMF News gesê.

Ons wou die slagoffers aanmoedig om ’n klag te maak,” het Henneke gesê.

Daarna het die gemeenskap na die verdagte se huis toe geloop, “waar die ma van die bekuldigde aan [die gemeenskap] uitgewys het waar [hulle] hom sal kan vind”, het Henneke gesê.

Die gemeenskap het die verdagte in ’n sloot in Newmanstraat gekry en aan die polisie gaan uitlewer, het Gordon verduidelik.

Studentekaarte, sowel as ‘n skêr, is glo in die verdagte se rugsak gevind, het Mildred Gordon, ’n gemeenskapslid wat aan die protes deelgeneem, het aan SMF News gesê. FOTO: Liza-May Pieters

Misdaad-bewusmaking

Die optog was ook vir bewusmaking rondom misdaad en die gebruik van dwelms in die gemeenskap, want “ons het nou genoeg gehad van drugs”, het Gordon verduidelik.

Die vermeende verdagte se borgtog-aansoek sal op 18 September plaasvind, het Sedeman gesê.

Die gemeenskap van Idasvallei het besluit om op 4 September ‘n protesoptog te hou ter bewusmaking van misdaad in die gemeenskap, het Mildred Gordon, ’n gemeenskapslid wat aan die protes deelgeneem het, aan SMF News gesê. FOTO: Liza-May Pieters

, ,