Venstervlieë binnekort op die spyskaart danksy Stellenbosse beginbesigheid

’n Stellenbosse beginbesigheid begin in November om ’n suiwer proteïen-poeier vir menslike gebruik op kommersiële skaal te vervaardig – uit venstervlieg-larwes.

Produksie sal begin by Susento se eerste kommersiële aanleg wat tans tussen Wildernis en Sedgefield opgerig word. 

Dit is volgens dr. Michael Woods, ’n navorser, mede-stigter en die hoof uitvoerende beampte en direkteur van Susento. 

Susento, ’n afwentelmaatskappy van die Universiteit Stellenbosch (US), fokus op volhoubaarheid deur middel van die studie van insekte.

“Die produkte waarmee ons die larwes groei is byprodukte van die graanindustrie,” het Woods gesê. Om met venstervlieë te boer is dus ’n meer omgewingsvriendelike manier om proteïene te produseer, aangesien ’n groot hoeveelheid van die wêreld se geproduseerde voedsel op stortingsterreine beland, het hy bygevoeg. FOTO: Verskaf/Michael Woods

Volgens Woods het Susento se produksie en prosessering voorheen op die US se Mariendahl-proefplaas plaasgevind. 

“Feitlik geen water word benodig om [met venstervlieë] te boer nie. Hulle produseer ook minimale kweekhuisgasse en indien hulle nie vir menskos gebruik word nie, kan hulle vinnig van organiese afval ontslae raak,” het Woods gesê.

Om met venstervlieë te boer is dus ’n omgewingsvriendelike manier om proteïene te vervaardig en dit kan moontlik ook ’n positiewe bydrae tot voedselsekerheid lewer, het Woods verder gesê.

“[Susento] gaan so 70 ton larwes produseer en [sowat 26 ton] gedroogde produk,” het Woods aan MatieMedia gesê.

Venstervlieg-larwes kan vertikaal mee geboer word en kan ook vir die produksie van biodiesel gebruik word, het dr. Michael Woods, ’n navorser, mede-stigter en die hoof uitvoerende beampte en direkteur van Susento, gesê. FOTO: Verskaf/Michael Woods

Die proteïen-poeier is ’n suiwer proteïen-produk wat in ’n hoër waarde proteïen-mark, soos die mens se voedselmark, eerder as vir dierevoer gebruik kan word, het hy gesê. 

Volgens dr. Gareth Haysom, ’n navorser in voedselsekuriteit en -sisteme aan die Universiteit van Kaapstad, neem die diversiteit in mense se dieet af namate verstedeliking toeneem. 

“Ons sien dus ’n dieet wat hoofsaaklik bestaan ​​uit graan as die stapelvoedsel. ’n Vermindering het plaasgevind in terme van proteïene en groente [in mense se dieet],” het Haysom gesê.

Proteïene is veral vir jong kinders ’n noodsaaklike voedingstof en in Suid-Afrika is daar ’n mark vir ’n “bekostigbare, toeganklike proteïenvorm wat nie baie voorbereiding benodig nie en wat nie gekook hoef te word nie,” het Haysom gesê.

Volgens Woods het Susento ten spyte van die streng nasionale inperking steeds ’n suksesvolle eerste beleggingsrondte gehad. FOTO: Verskaf/Michael Woods

“Ons glo Susento is aan die voorpunt van hoe die waardeketting rondom die venstervlieg gaan ontwikkel. Ons sterk fokus op goeie kwaliteit produkte, die effektiwiteit van ons boerdery en waardetoevoeging tot ons eie produk gaan van kardinale belang wees om ons vorentoe ’n markleier te maak,” het dr. Neill Goosen, ’n navorser, mede-stigter en hoof van ingenieurswese van Susento, gesê.

Volgens Woods laat hul prosesseringsmetode hul toe om die suiwer proteïene heeltemal van die vet en chitien – ’n keratienagtige stof wat die basis van die eksoskelet van ongewerwelde diere vorm – te skei.  

“Ons sit dus met ’n produk wat géén vet oor het nie,” het hy gesê. 

Dié prosesseringsmetode onderskei Susento van ander deelnemers in die insekproteïen-mark, het Woods gesê.