Vanaf 20 tot 20 000…

Johlize van der Merwe, ’n visuele kommunikasieontwerp-student aan die Universiteit Stellenbosch (US), het Suid-Afrika aan die gons met haar sosiale media-profiel, Watookal. Die 21-jarige spog tans met meer as 20 000 aanhangers op Instagram en dié profiel groei ook by die dag op Facebook, YouTube en TikTok. 

Die keuse om die naam van die platform Watookal te maak was, volgens Johlize, die beste en mees gepaste keuse ooit. “Wat ook al kan enigiets insinueer wat jy wil hê dit moet.” FOTO: Johlize/Instagram

Nadat Johlize van der Merwe die idee gekry het om ’n aanlynprofiel te begin, kon sy nie aan ’n beter naam as Watookal dink nie. 

“Ek het ’n Afrikaanse onderwyseres gehad op Hoërskool Oudtshoorn wat verskriklik streng was met die taalgebruik in die klas,” vertel sy. Op pad na die volgende klas toe, het Johlize ‘Ag, whatever’ in gesprek met ’n klasmaat, gesê. 

Die juffrou stop haar nét daar en sê: “Dit is ‘wat ook al’, nie ‘whatever’ nie”. Van daardie oomblik af het “wat ook al” vir ewig in haar gedagtes gebly. 

Johlize maak gebruik van memes en humoristiese video’s om haar boodskap aan die wêreld oor te dra. “Ek wil net mense laat lag,” sê sy. Sy deel ook graag inhoud waarmee elke millenniër hulself mee kan vereenselwig. In haar video’s plaas sy die kyker in die skoene van ’n tipiese jongmens, met haar unieke skerp humorsin. 

Watookal is in die middel van haar matriekeindeksamen, op 2 November 2016, op Instagram begin. “Watookal was my manier om te ontsnap van die eksamenstres,” sê sy. 

Sy het aanvanklik begin om nét memes op Instagram te plaas, maar na ’n vier maandelange breuk het sy besluit om meer persoonlik te raak. Tussen Maart en September 2018 het Johlize begin om haar gesig in die kollig te plaas en so het haar lewe as ’n meme op Watookal begin. Teen Februarie 2019 het sy ook begin om video’s op te laai. 

“Ek het met baie min volgelinge begin. Ek onthou ek het altyd crazy gegaan as ek net 20 likes [op Instagram] kry,” vertel Johlize. Na ’n paar maande se harde werk, het haar profiel op Instagram al hoe meer gegroei. Soos wat haar profiel meer gegroei het, het Johlize haar sosiale media-vlerke versprei en Watookal op ander sosiale media-platforms gevestig. Sy het in Maart 2018 ’n profiel op Facebook geskep, in April 2019 ’n YouTube-profiel en vanjaar ’n profiel op TikTok.

Hoewel dit nie in haar video’s voorkom nie, sê Johlize, is sy ’n gebore introvert. “Watookal het my gehelp om makliker met mense te gesels oor dinge in die lewe.”

Huisgenoot en ander hoogtepunte 

Johlize het deur Watookal vele mylpale bereik. “Ek moet sê ’n hoogtepunt was toe ek in Huisgenoot verskyn het,” sê sy. Volgens Johlize was die gevoel onbeskryflik. “Hulle’t na my uitgereik en ek kon nie anders as ‘ja’ sê nie.” Sy’t amptelik haar Huisgenoot-verskyning in die 13 Februarie 2019-uitgawe gemaak.

Johlize sal nooit die dag vergeet toe sy vir die eerste keer haar naam in Huisgenoot raakgelees het nie. FOTO: Watookal/Instagram

Hoewel Johlize verskeie mylpale en suksesse bereik het, het sy nooit sekerheid gehad oor haar rigting nie. Dit was óf dramatiese kunste óf skeppende kunste óf sielkunde. Sy’t eers in die middel van haar matriekjaar die spyker op die kop geslaan.

“Ek het vir aanlegstoetse in die Kaap gegaan. [Die sielkundige] het my opsies baie duidelik uiteengesit. Visuele Kommunikasieontwerp was op die lys,” sê Johlize. 

Daarna het sy ’n afspraak gemaak met die departementshoof en voor sy haar oë kon uitvee staan sy voor die visuele kommunikasieontwerp-werkspasie by die opedag. 

Met die eerste tree in die werkspasie het sy dadelik tuis gevoel en die volgende jaar het sy haar eerstejaar begin as ’n Visuele Kommunikasieontwerp-student aan die US. 

Johlize het in 2017, na die voltooiing van haar matriekjaar, Stellenbosch toe verhuis om met ’n graad in Visuele Kommunikasieontwerp te begin. Johlize is tans die hoofmentor by Nemesia-koshuis. Sy het op verskeie leierskapposisies binne die koshuis gedien. Sy was voorheen ’n mentor vir die 2017/2018-termyn en daarna ’n huiskommittee-lid in die 2018/2019-termyn. FOTO: Nemesia Ladies’ Residence/Instagram

Met die goed, kom die sleg…

Volgens Johlize was dit veral moeilik vir mense om te glo dat sy ’n introvert is, omdat haar video’s ’n heeltemal ander persepsie skep.

“[Watookal] is ’n deel van my, maar dit is ook net ’n oordrewe deel van myself,” spot sy.

As kind was Johlize altyd besig om karakters te skep en stories te vertel, en daardeur het haar humorsin en liefde om stories te vertel soos ’n saadjie ontkiem. Dit het alles begin in die Beaufort-Wes-omgewing in die Karoo.

“As kind het ek altyd buite gespeel en modderkoekies gebak,” vertel sy. In 2018 het sy en die res van haar familie die Karoo verruil vir Upington in die Noord-Kaap. 

Johlize het haar skoolloopbaan begin op Laerskool Niko Brummer. Daarna het sy besluit om haar hoërskool loopbaan te voltooi by Hoërskool Oudtshoorn. 

Hoewel Johlize haarself beskryf as ’n ‘pliggie’ op skool, was die aanpassing op koshuis die moeilikste. “Dit was vir my baie moeilik omdat ek baie huisvas was. Ek het vir die eerste agt maande elke dag gehuil,” sê sy. 

Johlize was veelsydig op skool en het aan verskeie kreatiewe aktiwiteite deelgeneem, soos toneel en skryfwerk. Sy het vanaf Graad 8 leierskapposisies beklee. In 2016, was Johlize die hoofdogter en koshuis-onderhoofdogter van Hoërskool Oudsthoorn. “Elke jaar was daar ’n optog voor die groot eerste span-game, waar die vlag ingedra word deur die hoofleiers van albei skole,” sê sy. FOTO’S: Verskaf/ Johlize van der Merwe

Die donkerkant van sosiale media

Johlize moes haarself goed voorberei om die donker en somber deel van die lewe te hanteer. Onder andere, moes sy leer om haarself te distansieer van negatiewe terugvoer.

Hoewel daar tye was waar Johlize wou tou opgooi, glo sy dat die positiewe altyd die negatiewe kant troef. Hierdie mentaliteit het gelei na Johlize se besluit om vol te hou met wat sy doen, ongeag die trolls. “Hierdie is wat ek geniet om te doen. Ek geniet dit om met mense te praat en ek het besluit ek gaan volhou hiermee.”

Volgens Johlize maak die ongelooflike boodskappe wat sy van jong meisies en vroue ontvang, alles die moeite werd. 

“Ek is net myself, maar ek besef nou ek kan mense inspireer om ook hulself te wees.”  

Hoewel sy ander mense inspireer, beskryf sy nie haarself as die tradisionele sosiale media beïnvloeder nie. “As ek die woord ‘influence’ vat en kyk na hoe ek mense raak, dan stem ek saam dat ek een is,” sê sy. “[Maar] ék sien net myself as Johlize wat video’s maak.” 

Volgens Johlize is sosiale media veral die ideale platform vir inhoudskeppers om te wys wat nog gewys moet word. “Ek voel ons is só beperk tot ’n mate. Mense het soveel om te bied. Daar is soveel ander kreatiewe uitlaatkleppe wat mense nie noodwendig op televisie sien nie,” sê sy. 

Johlize droom daarvan om eendag naam te maak in die vermaaklikheidswêreld, maar sy hou vol dat daar geen stop gaan wees aan Watookal nie. “Ek voel net dit sal groei soos wat ek ouer raak,” vertel sy.  

Volgens Johlize, was daar ’n bepaalde tydstip in haar lewe waar sy besef het wie sy werklik is: ’n dromer. “Ek en my ma was by ’n winkel. Ek het toe ’n koppie ontdek en op die koppie het gestaan: ‘As jy dit kan droom, kan jy dit doen’,” vertel Johlize. 

Vanaf daardie oomblik het daai frase op die koppie vir ewig soos ’n oorwurm in Johlize se kop vasgesteek.

“Ek is en sal altyd ’n dromer wees.”

,