’n Nie-winsgewende organisasie (NWO) in Jamestown wat fokus op die welstand en bemagtiging van die jeug in die gemeenskap, vier vanjaar hul 25ste bestaansjaar en merk dié mylpaal met ’n nuwe veldtog wat mik om R25 miljoen vir hul verskeie programme in te vorder.
Usiko Stellenbosch in Jamestown bied verskeie programme aan wat gemik is op genesing en bemagtiging van die minderbevoorregte jeug deur middel van opvoeding, vaardigheidsontwikkeling, mentorskap, wildernisterapie en kampe aan.

Usiko Stellenbosch in Jamestown is ’n nie-winsgewende organisasie wat fokus op die bemagtiging, opvoeding en genesing van die jeug. Hulle werk met skole in die omgewing, asook regoor die land. FOTO: Nerine Pienaar
Die viering van Usiko se 25ste bestaansjaar is vir die organisasie ’n groot mylpaal.
“Vir ’n NPO om so lank te bestaan – deur Covid – is ’n groot prestasie,” sê Tania Weideman, bestuurder van lewensonderhoud en vaardighede by Usiko.
“Ons is net baie blessed en grateful dat ons 25 jaar van bestaan kan vier,” sê sy. “Die impak wat klein begin het, het so groot uitgebrei. Dis meer as wat ons ooit kon dink.”
Kwarteeu op vyf pieke gevier
Benewens ’n fondsinsamelingprojek het organiseerders ook ’n bewusmakingsveldtog van stapel gestuur om hul kwarteeu te vier. Dit behels dat verteenwoordigers van Usiko vyf bergpieke in Suid-Afrika uitklim en dan die organisasie se vlag daar hys, sê Weideman.
Elke berg verteenwoordig vyf jaar van Usiko se bestaan. Tot dusver is Wolfberg, Stellenboschberg, Simonsberg en Tafelberg afgemerk, met Thabana Ntlenyana in die Drakensberge as die laaste uitdaging om die reeks te voltooi.
Benewens ’n fondsinsamelingprojek het organiseerders ook ’n bewusmakingsveldtog van stapel gestuur om hul kwarteeu te vier. Dit behels dat verteenwoordigers van Usiko vyf bergpieke in Suid-Afrika uitklim en dan die organisasie se vlag daar hys, sê Weideman.
Elke berg verteenwoordig vyf jaar van Usiko se bestaan. Tot dusver is Wolfberg, Stellenboschberg, Simonsberg en Tafelberg afgemerk, met Thabana Ntlenyana in die Drakensberge as die laaste uitdaging om die reeks te voltooi.
Die organiseerders by Usiko nooi die gemeenskap uit om deur middel van hul Given Gain-fondsinsameling donasies te maak aan ’n reeks van tien van Usiko se programme.
Die veldtog sluit programme in soos die jeugontwikkeling- en Rites of Passage-program, nasorg, loopbaangereedheid, plattelandse vroue-bemagtiging, hul organiese gemeenskapsplaas, internasionale uitruilbesoeke en meer.
Die fondsinsamelingsprojek is ’n poging om die gemeenskap by die organisasie te betrek, sê Weideman.
“Ons wil hê dat mense van buite ook moet voel dat hulle help bou aan Usiko,” sê sy.
“Dit gaan nie net oor wat jy donate nie, dit gaan oor jy wat help om ’n baksteen te bou in ’n kind se lewe in,” sê Leana Claasen, hoof van die nasorgprogram by Usiko. “R150 cover ’n stationary pack vir een kind, en R250 cover 2 dae se meals.”

Tania Weideman (links), bestuurder van lewensonderhoud en vaardighede by Usiko Stellenbosch, en Leana Claasen (regs), hoof van nasorg by Usiko Stellenbosch, is trots op die impak wat dié organisasie tydens die 25 jaar van hul bestaan gemaak het. FOTO: Nerine Pienaar
Kinders wat gehoor en gesien word
Die span glo dat tyd in die natuur se stilte tydens hul wilderniskampe genesing kan bewerkstellig en dat die organisasie se programme ’n duidelike verskil maak in die lewens van die kinders met wie hulle werk.
“[Die natuur] bied vir die kinders alleen-tyd,” sê Claasen. Sy sê dat die rustigheid vir baie mense persoonlike deurbrake bring.
“Die kinders se selfvertroue groei,” sê Weideman. “Hulle voel deel van ’n groep – hulle voel hulle behoort en hulle word gehoor en gesien. Kinders het probleme en hulle wil nie praat nie. Ons maak dit ’n safe space dat hulle vir ons kan sê wat pla.”
Reagan Pienaar, ’n nasorgonderwyser by Usiko wat in 2017 ook self as hoërskoolleerder deel was van dié, sê dat Usiko ’n baie groot verskil in sy lewe gemaak het tydens sy uitdagende kinderjare.

Reagan Pienaar is ’n nasorg-onderwyser by Usiko Stellenbosch en was in 2017, gedurende sy hoërskoolloopbaan, deel van Usiko se programme. Hy sê dat Usiko’n positiewe impak op sy lewe gehad het. FOTO: Nerine Pienaar
“Ek het die verkeerde vriende gehad,” sê Pienaar. “Toe ek deel geword het van Usiko se program, het hulle my life skills geleer oor hoe om beter besluite te maak in my lewe; hoe om die gevaar van vêr af te sien aankom.”
Pienaar sê dat dit ’n voorreg is om deel te kon wees van die program en om vandag ook te kan teruggee aan die gemeenskap deur self daar te werk.
Om by te dra tot Usiko Stellenbosch se fondsinsameling in die vorm van ’n donasie, besoek hul webtuiste.
