US Woordfees sluit selfs nóg meer in

Die negentiende US Woordfees skop op 2 Maart af en bied vanjaar selfs ’n groter verskeidenheid as vantevore. 

Vir feesgangers is daar 63 verskillende toneelproduksies om van te kies en trekpleisters soos Alexandra Fuller, skrywer van Don’t Let’s Go to the Dogs Tonight, en Fred Khumalo (#ZuptasMustFall, and Other Rants) kan by die Skrywersprogram gesien word.

Die Sanlam-Musiekfees bring ook weer bekendes soos Karen Zoid, Fokofpolisiekar, Laurika Rauch en Koos Kombuis op die planke en volgens Danie Marais, skakelbeampte van die Woordfees en koördineerder-organiseerder van die filmfees, behoort Bombshelter Beast ook ’n vertoning te wees wat feesgangers nie wil misloop nie.

Karen Zoid by die US Woordfees 2016. Zoid tree 8 en 9 Maart by die Spier Amfiteater op. (FOTO: Anelia Loubser)

Karen Zoid by die US Woordfees 2016. Zoid tree 8 en 9 Maart by die Spier Amfiteater op. FOTO: Anelia Loubser

 

Die Woordfees bied ook die geleentheid vir feesgangers om ’n ete in Kayamandi te geniet en bekende akteurs soos Neels van Jaarsveld gaan in Cloetesville te siene wees vir die produksie Melk & Vleis wat deur RAMINIDAM vervaardig is.

“Die fees brei nie net uit in terme van wat dit aanbied nie, maar ook in terme van venues,” vertel Marais.

Gebiede soos Cloetesville en Kayamandi word ingesluit om aanbiedinge te huisves. Vir Saartjie Botha, direkteur van die US Woordfees, is die sosiale impak van die fees veral belangrik.

Woordfees verskaf vanjaar aan sowat 600 mense werk en dit sluit nie eens kunstenaars of musikante in nie.

“Die algemene doelstelling is om Woordfees ’n fees vir almal te maak,” vertel Marais. “Stellenbosch is nie net ’n dorp vol Markus Joostes of inwoners van Mostertsdrift nie. Woordfees wil graag vir mense wys ‘ons is almal Stellenbosch’.”

,