US wil voedselonsekerheid op kampus bestry

Voedselonsekerheid en die gebrek aan basiese noodsaaklikhede neem toe onder studente aan die Universiteit Stellenbosch (US).

Befondsing is veral groot in aanvraag aan die begin van die jaar wanneer finansiële ondersteuning steeds afwagtend is en aan die einde van die jaar wanneer studente al hul kostoelae reeds gebruik het.

Die US het dus verskeie inisiatiewe in plek gestel om hulp aan studente met behoeftes te verleen.

Foto 1

Die kafeteria in die Neelsie-studentesentrum waar studente daagliks maaltye geniet.     FOTO: Jody-Lynn Taylor

Vouch4US

Die Vouch4US-program wat aanvanklik ’n Mandela-dag projek was, is in 2013 deur Lizzie Witbooi, maatskaplike werker aan die US, begin. Dit is later omskep in ’n deurlopende poging om hulp aan behoeftige studente op die Stellenbosch en Tygerberg-kampus te bied.

“Die idee was dat personeel en mede-Maties ’n Pick n Pay of Checkers-koopbewys van minstens R50 tot R500 moet skenk. Hierdie skenking sal studente wat in nood is, help met basiese noodsaaklikhede soos kos en toiletware,” sê Witbooi.

Zander Prinsloo tesourier van die studenteraad (SR) aan die US sê die SR en universiteit was aan die einde van verlede jaar grotendeels onvoorbereid vir die grote van die voedselsekerheidskrisis.

“Ek dink egter ons het goed gevaar onder die omstandighede. As die SR het ons geld uit ons begroting los gemaak en gebruik gemaak van die koopbewys-stelsel om hulp aan studente te bied omdat dit baie goedkoper is as om kos te koop in Die Neelsie,” sê Prinsloo.

Die SR het vanjaar die Alumni-kantoor betrek om voedselonsekerheid te bestry.

#Move4Food

Die #Move4Food-veldtog is as gevolg hiervan begin. Die veldtog is Maandag tydens ’n mini-konsert op die Rooiplein by die US-kampus bekendgestel wat gevolg is deur ’n fondsinsamelingskonsert by die Endlersaal.

Foto 2

Cheryl Benadie met ’n #Move4Food-hemp wat jy ontvang as jy inskryf vir die Sanlam-marathon.                  FOTO: Jody-Lynn Taylor

Die #Move4Food-veldtog is ’n studente-inisiatief in samewerking met personeel, alumni en skenkers wat poog om R10 miljoen in kontant en goedere binne 100 dae in te samel om volhoubare voedselbanke op te rig. Dit is om te verseker dat studente aan die Stellenbosch- en Tygerberg-kampus vir die volgende drie jaar in hul basiese behoeftes kan voorsien.

“Dit dien ook as ’n bewusmakingsveldtog dat daar studente op kampus is wat dié probleem ondervind en omdat dit ’n baie sensitiewe kwessie is wil mense nie altyd daaroor praat nie,” sê Cheryl Benadie, skenkerbetrekkinge-bestuurder aan die US.

“Ons het Maandag by die eerste van verskeie veldtogte altesaam R1800 ingesamel, wat ’n baie goeie begin is,” voeg sy by.

Studente, personeel en alumni word uitgedaag om nie-bederfbare kos te skenk en om deel te neem aan die Sanlam Kaapstad-marathon wat op 22 en 23 September plaasvind.

Maties4Maties

Die Maties4Maties inisiatief is ook intussen op die been gebring. Dit bied studente die geleentheid om aansoek te doen vir ’n maandelikse toelaag om voedselsekuriteit asook toiletware te verseker.

“Al die geld wat tydens die #Move4Food-veldtog ingesamel word gaan daarheen, om koopbewyse aan studente te gee. Die maatskaplike werker gaan ook die nie-bederfbare voedselitems in die vorm van kospakkies aan studente gee,” sê Benadie.

Studente word aangemoedig om ’n afspraak met Witbooi by die Sentrum vir Studentevoorligting en -ontwikkeling (SSVO), te maak indien hulle in nood is.

Had to choose between food and medical

Meer oor die #Move4Food veldtog.  Infographic:Jody-Lynn Taylor