US Taalsentrum gedenk Wêreld Geletterheidsdag 2019

“Geniet hierdie boek in Afrikaans, Engels en isiXhosa, maar lees dit en dan moet jy dit vir iemand gee”. Dit is die boodskap wat personeellede van die Universiteit Stellenbosch (US) se Taalsentrum wil uitstuur met hul derde jaarlikse “Boektsunami” ter viering van Wêreld Geletterheidsdag. Hierdie jaar se geleentheid het op Vrydag 6 September plaasgevind. 

Sticker

’n Plakker binne een van die boeke met die Taalsentrum se boodskap. FOTO: Roxanne Mooneys.

Wêreld Geletterheidsdag word sedert 1967 jaarliks op 8 September gevier. Volgens ’n verklaring van die Verenigde Nasies (VN) se Opvoedkundige, Wetenskaplike en Kulturele Organisasie (UNESCO) is dit ’n dag waarop daar opnuut beklemtoon moet word dat geletterheid deel vorm van menswaardigheid en menseregte. 

UNESCO sien die bevordering van geletterheid as die sleutel tot ’n meer geletterde en volhoubare samelewing. Die kwessie van geletterheid vorm ook deel van die VN se Volhoubare Ontwikkelingsdoelwitte en die 2030 Agenda vir Volhoubare Ontwikkeling. 

 

Hierdie jaar se tema is “Geletterheid en Veeltaligheid”. Die VN het ook 2019 verklaar tot “Internasionale Jaar van Inheemse Tale”, en gedenk ook die 25ste herdenking van die Wêreldkonferensie oor Spesiale Onderwys waartydens die Salamanca-verklaring oor Inklusiewe Onderwys aangeneem is. 

Skakel na Salamanca-verklaring: http://www.csie.org.uk/inclusion/unesco-salamanca.shtml

Volgens Dr Vernita Beukes, koördineerder vir Taal- en Kommunikasieontwikkeling by die Taalsentrum en een van die organiseerders van die Boektsunami, is die idee in 2017 gebore uit gesprekke tussen haar en twee ander kollegas, JC Rademeyer en Ydalene Coetzee, by die Taalsentrum. 

DSC_0074

Personeellede van die US Taalsentrum in die Neelsie-studentesentrum. FOTO: Roxanne Mooneys

“Dosente moet onderrig gee, navorsing doen en gemeenskapsdiens doen. Ons het iets gesoek om vir gemeenskapsdiens te doen. Toe begin ons dink aan hierdie Boektsunami. Ons het ook gepraat oor [die Britse aktrise] Emma Watson wat ’n “Book Fairy”-projek gehad het waar sy boeke neergesit het oral waar sy gereis het vir mense om te vat, te lees en dan vir iemand anders te gee. Ons het toe met die idee gekom van ‘pay-it-forward’,” sê Beukes. 

Coetzee sê dat hulle eers net in die Taalsentrum vir boek-donasies gevra het maar ook reeds geweet het dat hulle dit wou koppel aan Wêreld Geletterheidsdag. 

“Die tweede jaar het ons bietjie breër gegaan, en hierdie jaar is die eerste jaar wat ons eintlik so geadverteer het want ons het altyd gedink dit moet maar net ’n interne projek wees. Maar dit is eintlik verbasend hoe die mense dit geniet,” voeg Beukes by. 

Beukes, Coetzee en ander kollegas beplan om die Neelsie-studentesentrum op 6 September in ’n reuse biblioteek te verander deur boeke oral neer te sit. Studente en enige ander belangstellendes kan dan bloot ’n boek wat hulle graag sou wou lees optel.

“Dit is eintlik ’n verassingsfaktor dat ons al 07h30 die oggend boeke begin neerplak en dan as studente klas toe begin stap is dit reeds daar. Ons het in elke boek ’n plakkaatjie van die Taalsentrum wat sê ‘Geniet hierdie boek in Afrikaans, Engels en isiXhosa, maar lees dit en dan moet jy dit vir iemand gee’, ” sê Beukes. 

“Ek dink dis vir enige mens lekker om in ’n plek in te stap en daar is iets wat jy kan vat en dis ’n boek. Ek dink dis daardie gevoel van stap in en vat ’n boek en jy hoef nie eers daarvoor te betaal nie.”

Coetzee en Beukes sê dat hulle sowat agt bokse vol boeke ingesamel het in die weke voor die Boektsunami. 

Studente en personeellede in die Neelsie het hul opwinding uitgespreek oor die Boektsunami. 

DSC_0081

’n Persooneellid van die skoonmaakdienste in die Neelsie met ’n gekose boek. FOTO: Roxanne Mooneys.

Jan Rossouw (21), ’n BCom Ekonomiese Wetenskap student aan die US, sê dat hy dink dit is ’n baie goeie idee en dat dit meer mense in boeke geïnteresseerd sal kry. 

“Baie mense lees digitale boeke, persoonlik verkies ek ’n harde kopie so dis lekker om my persoonlike versameling aan te vul,” sê Rossouw.

DSC_0072

Jan Rossouw (21) besig om boeke te kies tydens Vrydag se Boektsunami. FOTO: Roxanne Mooneys

Visuele Kommunikasie student Edward Musakwa (21) sê boeke is ’n goeie manier vir mense om te verken en om opgevoed en ingelig te word.

“Dit stel jou voor aan ’n nuwe wêreld en ’n nuwe realiteit wat hulle nie voorheen verstaan het nie. Dis ’n goeie ding wat die Taalsentrum doen. Ek hou van Charles Dickens en Roald Dahl en ek wou nog altyd ’n kopie van een van hul boeke gehad het, maar het net nooit sover gekom nie.

“Baie dankie aan die Taalsentrum, en hou asseblief aan om dit te doen,” sê Musakwa. 

DSC_0082

Musakwa besig om ’n boek te lees op die trappe in die Neelsie. FOTO: Roxanne Mooneys.

 

Indien jy deel wil word van projekte wat deur die jaar bedryf word, kan jy aansluit by UNASA-Stellenbosch se weeklikse leesprojekte by iKhaya Primêre Skool en Pieter Langeveld Primêre Skool.  

 

,