US-studie verminder kinders se TB-behandeling met twee maande

ʼn Studie wat gedoen is deur die Desmond Tutu Tuberkulose-sentrum aan die Universiteit Stellenbosch se Tygerberg-kampus, het aangetoon dat behandeling vir kinders met nie-ernstige TB vanaf ses tot vier maande gesny kan word.

Dié studie, genaamd SHINE (Shorter Treatment for Minimal Tuberculosis in Children) se resultate is aangekondig op 24 Oktober tydens die 51ste Union World Conference on Lung Health. Die konferensie het hierdie jaar – as gevolg van die Covid-19-pandemie – virtueel plaasgevind.

Hoe werk die studie?

Volgens Professor Anneke Hesseling, direkteur van die Desmond Tutu Tuberkulose-sentrum (DTTS), is SHINE ʼn ewekansige oopproef fase drie studie. In hierdie studie is geen inligting vanaf deelnemers weerhou nie en ʼn nuwe duurte vir behandeling is vergelyk met die standaard tyd van ses maande, het Hesseling verduidelik.

Professor Anneke Hesseling het die eerste leerstoel vanaf die Suid-Afrikaanse Navorsingsleerstoel-inisiatief (SARChI) in pediatriese tuberkulose (TB) in Suid-Afrika ontvang. Vir meer as 18 jaar doen sy al kliniese TB-navorsing by kinders in gebiede met ʼn groot las van TB en MIV in Suid-Afrika en wêreldwyd. FOTO: Verskaf/ Professor Anneke Hesseling

Sy het verder vertel dat 1 204 kinders tussen die ouderdomme van nul tot 16 aan die studie deelgeneem het. SHINE het ongeveer drie jaar geduur en het in vyf plekke in Suid-Afrika, Uganda, Zambië en Indië plaasgevind, het Hesseling gesê.

“Ons het baie nou saamgewerk met klinieke en hospitale om hierdie studie te kan voltooi,” het Hesseling aan MatieMedia vertel. “Sodra ʼn kind gediagnoseer is, is die kind [se behandeling] aan ons oorgegee nadat die toepaslike riglyne gevolg is.”

Professor Anneke Hesseling en dr Megan Palmer vertel dat TB in kinders voorkombaar en geneesbaar is, veral omdat baie TB-gevalle in kinders aanvanklik nie so ernstig is nie. As dit egter by die behandeling van kinders met TB kom, lyk Suid-Afrika se statistiek só. INFOGRAFIKA: Carl Thomas

Hesseling vertel dat hulle die gewone medisyne teen die gewone dosis gebruik het, maar in plaas daarvan dat behandeling vir ses maande lank geduur het, is dit tot vier maande beperk.

“Nadat ons die kinders behandel het, is hulle ook vir 18 maande opgevolg. Die studie het bevind dat die behandeling van vier maande nie minderwaardig is teenoor die standaard ses maande nie,” het Hesseling gesê.

Studies op kinders

Dr Megan Palmer, ʼn dokter by die DTTS wat ook aan SHINE gewerk het, het aan MatieMedia vertel dat SHINE belangrik is, omdat daar nie genoeg studies oor TB in kinders gedoen word nie.

Dr Megan Palmer sê dat om TB in kinders te diagnoseer is moeilik, veral onder jonk kinders. Sy vertel dat sy hoop die resultate van SHINE sal bespreek word deur die belanghebbende partye en dan geïmplementer word om sodoende die riglyne vir die behandeling van kinders met nie-ernstige TB aan te pas. FOTO: Verskaf/Dr Megan Palmer

“Studies op kinders is noodsaaklik, want anders word volwasse behandelinge op kinders toegepas. Dit is nie goed nie, want TB in kinders is anders as TB in volwassenes,” het Palmer gesê.

Volgens Palmer en Hesseling het hulle medisyne in ʼn vaste-dosis kombinasie aan die kinders gegee om die studie meer prakties te maak. Dit beteken dat die verskillende medikasies wat kinders apart sou moes neem, saamgevoeg is in een tablet wat oplosbaar in water is, het Palmer bygevoeg.

“Die gemiddelde ouderdom van kinders in die studie was tussen twee en drie jaar oud,” het Hesseling gesê. “Dit kan nogals moeilik wees om sulke jonk kinders te kry om al hul medikasie te neem. Die tablet het gehelp om die inname van medikasie te vergemaklik.”

Die Wêreldgesondheidsorganisasie het sedert 1997 jaarliks ʼn wêreldwye tuberkuloseverslag gepubliseer. Die verslag bied ʼn omvattende en aangepaste beoordeling van die TB-epidemie en die vordering met die voorkoming, diagnose en behandeling van die siekte op wêreldwye, streeks- en landsvlakke. Die 2020-uitgawe van die wêreldwye TB-verslag is op 14 Oktober 2020 gepubliseer. INFOGRAFIKA: Carl Thomas

Wat sê ander oor die studie?

Die Wêreldgesondheidsorganisasie (WGO) het in Oktober in ’n persverklaring gesê dat hulle die uitslae van die studie verwelkom. WGO het bygevoeg dat SHINE se resultate oorweeg sal word wanneer die WGO volgende jaar hul TB-riglyne hersien.

Ingrid Schoeman, hoofbedryfsbeampte van TBProof, ʼn nie-winsgewende organisasie wat veg vir TB-regte, het aan MatieMedia vertel dat dit wonderlik is om vooruitgang in TB-navorsing te sien.

“Hopelik sal die resultate spoedig lei tot nuwe riglyne en bekostigbare behandeling sodat alle pasiënte voordeel daaruit kan trek,” het Schoeman gesê.

Professor Anneke Hesseling vertel dat in 2020 was die fokus van die wêreldgemeenskap op die globale Covid-19-pandemie. Sy meen dat versorging van reeds kwesbare gesinne en kinders wat deur tuberkulose geraak word moet egter nie gedurende hierdie kritieke tyd verwaarloos word nie. In die bostaande video word nog ʼn studie wat die Desmond Tutu TB-sentrum ondervat het, verduidelik. VIDEO: YouTube/Stellenbosch Faculty of Medicine & Health Sciences

,