US-studente help om beweerde aanrander aan te keer

Twee studente aan die Universiteit Stellenbosch (US) het onlangs gehelp om ʼn beweerde aanrander aan te keer na ʼn voorval by een van die plaaslike koshuise.

Martin Viljoen, woordvoerder vir die US, het in ʼn e-pos aan MatieMedia bevestig dat Kampussekuriteit onlangs ʼn verdagte van die US se hoofkampus moes verwyder nadat hy na bewering twee individue voor Huis Russel Botman aangerand het. Die voorval het op 29 Maart plaasgevind. 

“Geeneen van die [slagoffers] … wou strafregtelike klagtes indien nie,” het Viljoen gesê.

Saadiq Lakay en Urich Rosant, studente aan die US, het die voorval gesien en het, saam met nog ʼn ooggetuie, die verdagte agternagesit. 

“… [E]n toe het ons hom uiteindelik ingehaal en … ons het hom net gevang,” het Lakay gesê.

studente

Huis Russel Botman. Saadiq Lakay, een van die studente wat die beweerde aanrander agternagesit het, dui aan waar die insident plaasgevind het. FOTO: Candice Jantjies

Die verdagte is volgens Viljoen bekend aan Kampussekuriteit as ʼn “swerwer” wat gereeld van die kampus af verwyder word.

Een van die slagoffers, ʼn student aan die US wat verkies om anoniem te bly, het via ʼn WhatsApp-boodskap aan MatieMedia gesê dat die voorval laatmiddag plaasgevind het. Sy was op pad van kampus af toe sy by die koshuis “in die kruisvuur vasgevang” is, het sy gesê.

Volgens die student het sy die koshuis se deur vir die ander slagoffer, ʼn skoonmaker by die koshuis, oopgehou toe ʼn man op haar begin skree het om die deur toe te maak en nader begin kom het.

“Hy het gekom en die deur toegeslaan, en my in die proses geslaan toe hy sy hand wegtrek,” het sy gesê. 

Daarna het die man, volgens die student, in die rigting van die Jan Marais Natuurreservaat weggehardloop, waarna Lakay en Rosant hom agternagesit en aangekeer het.

aanrander

Die Jan Marais Natuurreservaat waarheen die verdagte na bewering probeer vlug het. FOTO: Candice Jantjies

Die verdagte is volgens Rosant op pad terug na die koshuis deur een van die ADT-sekuriteitsdiens se reaksie-eenhede geboei en teruggebring na die toneel. Daarna het Kampussekuriteit hom van die perseel verwyder. 

Volgens Viljoen wek enige misdaad rede vir kommer. Die universiteit het uitgebreide veiligheids- en sekuriteitstelsels in plek wat “voortdurend opgegradeer en verbeter” word, het hy bygevoeg. 

“[Die US] is nie vrygestel van kriminele aktiwiteite soos in die res van die land ervaar word nie. Die feit dat ons ʼn oop kampus is, bied unieke veiligheidsuitdagings,” het Viljoen gesê.

studente

Kampussekuriteit buite die Huis Russel Botman-koshuis. FOTO: Candice Jantjies

, , ,