US rektor, 70 Maties, trap by ‘vrék warm’ Kaapse fietstoer

“Dit was warm, vrék warm!” het Prof. Wim de Villiers, rektor en visekanselier van die Universiteit Stellenbosch (US) gesê toe hy en sy seun, Braam de Villiers Sondag, 10 Maart, die wenstreep van die Cape Town Cycle Tour oorgesteek het. 

Die Move4Maties-span, ’n groep verbonde aan die US, insluitend die rektor, Prof. Wim de Villiers, het onlangs aan die Cape Town Cycle Tour deelgeneem, as deel van die Move4Food-inisiatief om fondse in te samel vir behoeftige studente. 

Die koördineerder van dié span, Alwin Mabuza, het bevestig dat 70 fietsryers verbonde aan die US aan die Cape Town Cycle Tour deelgeneem het.

Prof. Wim de Villiers, rektor en visekanselier van die Universiteit Stellenbosch, en sy seun, Braam de Villiers, by die eindstreep van die Cape Town Cycle Tour. FOTO: Maliza Adendorff

‘Dis vir ’n goeie doel’

Die Move4Food-veldtog is een van die prioriteitsinisiatiewe deel van US se Bridge the Gap-fondsinsameling. Dit is volgens ’n persverklaring wat op 1 Maart deur die US uitgereik is. 

Die Move4Food-veldtog is in 2018 van stapel gestuur om geld in te samel vir voedselsekuriteit onder studente aan die US. Die veldtog dien ook as bewusmaking van voedselsekuriteit by US, luidens die verklaring. 

“Ons dink [Move4Food] is vir ’n goeie doel,” het Chris Norton, die hoof van die Maties-rugby-ondersteunersklub in Stellenbosch, in ’n stemnota gesê. 

“Geen student moet honger ly nie, veral nie die wat hulle beste gee om te probeer leer hoe om produktiewe lede van ons samelewing te wees nie,” het Norton gesê.

Volgens Norton het die Fairtree DP Wêreld Cannondale-fietsryspan ook ter wille van die Move4Food-inisiatief aan die Cape Town Cycle Tour deelneem. 

Robyn Emslie, ’n lid van die Maties-Fietsryklub, het aangevoer dat 20 lede van die Maties-Fietsryklub ook deelgeneem het aan die fietsrytoer. 

“Van hulle ding ernstiger mee, terwyl ander vir die eerste keer deelneem, of vir die Move4Food-inisiatief ry om geld in te samel,” het Emslie gesê. 

Fietsryers ry deur Muizenberg as deel van die Cape Town Cycle Tour. FOTO: Maliza Adendorff

“Ons jongste fietsryer is 15 jaar oud, ’n aspirant Matie, terwyl ons oudste fietsryer die rektor [van US], Prof. Wim de Villiers, is,” het Alwin Mabuza, die koördineerder van die Move4Maties-span, gesê.

Mabuza het aangevoer dat die Move4Food-geldinsamelingsveldtog se doelwit is om R350 000 in te samel teen 17 Maart.

“R350 000 is egter net ’n projeksie,” het Mabuza gesê. Mabuza het ook gesê dat daar teen Saterdag 9 Maart R70 000 vir Move4Food ingesamel is, terwyl die peiling op 18 Maart op “sowat R130 000” gestaan het. 

Dit was die tiende jaar dat De Villiers aan die Cape Town Cycle Tour deelgeneem het, het hy in ’n stemnota gesê wat aan SMF News verskaf is. 

Alumni reis ver vir die Kaapstad-fietsrytoer 

Die Move4Maties-span wat Sondag 10 Maart aan die Cape Town Cycle Tour deelgeneem het om fondse in te samel vir die Move4Food-veldtog. FOTO: verskaf/Universiteit Stellenbosch

“Move4Maties is ’n span wat aan verskeie sportsoorte- en geleenthede deelneem om geld in te samel vir die verskillende geldinsamelingsveldtogte by US,” het Mabuza verduidelik. 

“Baie van die US-alumni het van ver af gereis om die Move4Food-inisiatief te ondersteun.”

“Van die alumini het van Nederland, Duitsland of Namibië af gevlieg om deel te neem aan die Cape Town Cycle Tour.”

, ,