US-alumnus se mode-handelsmerk wil kollig op SA straatmode skyn

’n Voormalige student aan die Universiteit Stellenbosch (US) is uitgenooi na die internasionale modeskou, Agenda, wat volgende jaar by Ceaser’s Palace in Las Vegas sal plaasvind.

BRAhSSE het ’n fondsinsameling gestig om die handelsmerk se droom om Agenda volgende jaar te besoek, te verwesenlik. INSTAGRAM-PLASING: (@shakbad_xcv)

Abdu-Shakoer Baderoen, stigter van die mode-handelsmerk, BRAhSSE, het dié nuus vroeër vandeesmaand op sosiale media bekend gemaak.

“Ons wil Agenda bywoon om die wêreld te wys wat Suid-Afrika aan die straatmode-wêreld kan bied,” het Baderoen aan MatieMedia gesê. 

Baderoen, wat in 2019 sy nagraadse diploma in bemarking aan die US voltooi het, het in 2017 BRAhSSE gestig, met behulp van sy twee vriende, Chad Mockey en Ethan Beukes. 

“Omdat ek vanuit ’n voorheen benadeelde gemeenskap kom, het ons nie genoeg befondsing gehad om die handelsmerk te stig nie,” het Baderoen gesê. 

Matt Grobler, wat saam met Baderoen in die US-koshuis, Metanoia, gebly het, het die groep gehelp om die handelsmerk op die been te bring.  

“Ek het op sosiale media gesien hoe [Baderoen] foto’s gedeel het van BRAhSSE se t-hemde. Nadat ek my t-hemde bestel en gaan optel het, het ek en Baderoen aan die gesels geraak. Nét daar het ek besluit om te belê in BRAhSSE,” het Grobler gesê.  

Agenda beoog om deur middel van hulle platform klein besighede die kans te gee om hulle stem te laat hoor deur hulle handelsmerke op ’n groot verhoog uit te stal, het Veronica Gruneberg, visepresident van Agenda se vennootskap-afdeling, gesê. INSTAGRAM-PLASING: (@agendashow)

Volgens Veronica Gruneberg, visepresident van Agenda se vennootskap-afdeling, hou hulle veral van die ontwerp, algemene voorkoms en gevoel van BRAhSSE. 

“[BRAhSSE] is divers in terme van wat die klere-reeks bied, máár ook die uniekheid van die ontwerpe,”  het Gruneberg gesê.

Agenda ontvang jaarliks honderde aansoeke vanaf verskeie handelsmerke om by dié skou ​​uit te stal, het sy gesê. 

“Ons nooi tussen 100 en 150 handelsmerke per skou uit om [hulle handelsmerk] uit te stal,” het Gruneberg gesê.

BRAhSSE se volgende pop-up winkel sal in die Strand, Kaapstad op die 29ste Augustus wees. INSTAGRAM-PLASING: (@brahsse_)

Volgens Mockey is BRAhSSE meer as nét ’n handelsmerk. 

“[Dit is] in my oë ’n versameling van klere, beelde, denke, mense en vriende wat saamstaan as een entiteit,” het Mockey gesê.


Om aan hulle fonds te skenk:

Besoek die BRAhSSE donasie-webblad.

,