Unlock Escape Room, ’n eerste vir Stellenbosch

Twee dosente aan die Universiteit Stellenbosch (US) het onlangs ’n nuwe avontuurspel by Stellenbosch se lys van rekreasie-aktiwiteite gevoeg. 

Unlock Escape Room is deur Petrie van Wyk en Robbie Pott, dosente van die Departement Proses Ingenieurswese aan die US, en Mia Auret, ’n aktuaris by Momentum Metropolitan Holdings in Bellville, gestig.

Dié avontuurspel het verlede maand sy deure vir die publiek oopgemaak en is oorkant Arizona Spur Steak Ranch in die Eikestad-winkelsentrum geleë.

“Unlock is ’n klein, plaaslike onderneming wat ’n uitdagende en prettige ervaring [aan die publiek] bied,” het Pott aan MatieMedia gesê. 

Volgens Pott beoog hulle om die publiek se verbeelding op ’n unieke manier te stimuleer.

Na ses maande, hoop Unlock Escape Room om die sleutel te wees tot individue se avontuurlustigheid en nuuskierigheid. FOTO: Instagram/ @unlockstellenbosch

“’n Escape Room is ’n live adventure game waar spelers vir ’n beperkte tyd, tipies ’n uur, ’n reeks raaisels moet oplos om die storielyn te voltooi [om sodoende uit die kamer te kom],” het Van Wyk gesê. 

Unlock Escape Room beoog om sowat vyf verskillende kamers in te rig, waarvan twee teen Desember voltooi sal wees, het Van Wyk gesê. 

Volgens Pott moes die besigheid al in April oopgemaak het. 

“Die grendelstaat het ons verhoed om ons deure oop te maak, omdat dit die konstruksieproses vertraag het,” het Pott gesê. 

Om die raaisel op te los 

Dié idee het oorsprong gevind in Pott se liefde vir avontuur en escape rooms, het Van Wyk gesê. 

Volgens Robbie Pott het dié idee oorsprong gevind in sy liefde vir avontuur en sy besoeke aan ander escape rooms tydens sy oorsese reise.

“[Pott] het heelwat ander escape rooms as kliënt besoek, beide in Suid-Afrika en in die buiteland. Dis iets wat ons [saam] baie geniet het en gedink het baie goed in Stellenbosch sal werk,” het Van Wyk gesê. 

Volgens Van Wyk is Unlock Escape Room ideaal vir Stellenbosch omdat dit iets bied vir almal wat in en rondom Stellenbosch bly – asook dié wat die dorp besoek.

Die “Evil Doctor”-kamer is ’n scenario-gebaseerde speletjie, waar die spelers ondersoekende joernaliste is wat agter die kap van die byl moet kom rakende ’n geheimsinnige verdwyning. FOTO: Unsplash/ Dima Pechurin

“Dit is ’n fun uitstappie vir enige hoërskool vriendekring sowel as ’n uitdaging vir studente wat mekaar kan challenge,” het hy gesê. 

Alex West, ’n apteker van Port Elizabeth, was een van die eerste mense wat die Unlock Escape Room besoek het. 

“Dit was die eerste keer wat ek al een aangedurf het. Dit was ’n nuwe tipe uitdaging wat baie indrukwekkend was om uit te leef,” het West gesê. 

Volgens West was sy ontsnapping uit die Evil Doctor-kamer ’n baie interessante ervaring, omdat al die raaisels saam een tema vorm. 

Deesdae is ontsnapkamers veel meer as nét ’n sogenaamde ontsnapkamer, het Van Wyk gesê.

“Elke kamer handel oor ’n spesifieke tema en beskik oor ’n unieke storielyn wat dit baie meer interessant maak,” het Van Wyk gesê.

,