Tweejarige dood na motor hom tref: Saak van strafbare manslag ondersoek

*Verandering aangebring: Een van die foto’s is op 16 Maart vanuit die artikel verwyder

Bykans drie weke nadat ’n tweejarige seuntjie in Klapmuts doodgery is, is niemand nog in verband met die voorval inhegtenis geneem nie. Dit is volgens adjudant-offisier Joseph Swartbooi, provinsiale woordvoerder van die Wes-Kaap.

’n Klag van strafbare manslag word wel deur die Klapmuts-polisie ondersoek, het Swartbooi gesê. “Die Klapmuts-polisiestasie bevestig dat geen arrestasies nog uitgevoer is nie. Die nodige verklarings van die bestuurder asook die ooggetuies is bekom,” het hy telefonies bevestig.

tweejarige

Só lyk Juliusstraat in Klapmuts waar die tweejarige Jean-Luke Dumas omgery is. Die draai aan die linkerkant is waar die bestuurder van die motor na bewering spoed begin optel het. FOTO: Nazley Wilschutt

Die voorval wat tot die dood van die tweejarige Jean-Luke Dumas gelei het, het op 24 Februarie plaasgevind. Die polisie is om 17:45 na die toneel ontbied, het Swartbooi aan MatieMedia gesê.

“Met hul aankoms is die polisielede ingelig dat ’n tweejarige seuntjie na ’n nabygeleë hospitaal geneem is. Die personeel van die hospitaal het die polisie ingelig dat die seuntjie met sy aankoms dood verklaar is,” het hy gesê.

Volgens Gertruida April, Jean-Luke se oumagrootjie en voog, het hulle op die sypaadjie in Juliusstraat in Klapmuts gestaan en gesels toe die voorval gebeur het.

“Twee treë van ons af het Lukie en sy maatjie gestaan en bessies eet. Die kar het skielik vinnig om die draai gekom en vir Lukie raakgery. Ons het nie geweet hy sal uitdraai en vir hom raakry nie,” het April gesê.

Die persoon wat die voertuig bestuur het, is bekend aan die gemeenskap.

tweejarige

Jean-Luke Dumas met sy oumagrootjie, Gertruida April, in die agtergrond. FOTO: Verskaf/Anneline Goeieman

Volgens April is Jean-Luke teen die been getref waarna hy vorentoe geval het. Hy het op sy kop beland en die bestuurder van die motor het twee keer oor sy kop gery, het April beweer.

Susanna Dumas, Jean-Luke se ouma, het hom gaan optel. “Lukie se oë was nog oop. Ek sien dit elke keer voor my afspeel, hoe ek met my bebloede kind in my arms sit, hoe sy gesiggie lyk en hoe sy ogies vir my kyk,” het sy gesê.

tweejarige

Susanna Dumas staan voor haar huis regoor die plek waar Jean-Luke omgery is. In haar hande is die foto van hom wat by die begrafnis gebruik is. FOTO: Nazley Wilschutt

Steeds op vrye voet

Die Klapmuts-gemeenskap is glo woedend omdat daar nog geen arrestasies gemaak is nie. “Vandat my kind gestamp is, was hier nog nooit ’n speurder of polisieman by my nie,” lui ’n Facebook-plasing op 7 Maart van Genevieve Dumas, Jean-Luke se ma.

Genevieve Dumas het op 15 Maart aan MatieMedia gesê dat die bestuurder van die motor na haar wete steeds nie inhegtenis geneem nie. “Die polisie was nogsteeds nie hier nie,” het sy aan MatieMedia gesê.

Volgens haar is hulle gereed om op 17 Maart ’n optog na die polisiestasie vir Jean-Luke te hou. “Ek wil justice vir my baby hê. Ons gaan van die plek loop waar hy omgery is tot voor die polisiestasie in Klapmuts,” het sy gesê.

Jean-Luke was sy ouers se enigste kind.

Sy begrafnis is op 5 Maart uit die Mooihawenskerk in Klapmuts gehou.