Toneelfees onder streng maatreëls verfilm weens kommer oor derde vlaag

Die jaarlikse Toneelfees wat deur die Universiteit Stellenbosch (US) se Kultuurkomitee (KuKo) vir koshuise en private studente-organisasies (PSO’s) aangebied word, is vanjaar verfilm om vir die eerste keer aanlyn aangebied te word. Dít was volgens Rewaldo Carolus, voorsitter van KuKo. 

Daar is oorspronklik beplan vir vanjaar se Toneelfees om soos gewoonlik in ’n teater aan ’n gehoor van toeskouers en beoordelaars aangebied te word, het Carolus gesê. KuKo moes egter die aanbieding van die fees aanlyn skuif ter nakoming van “streng” Covid-19-maatreëls wat deur die US benadruk is, het hy bygevoeg. 

Sowat 14 groepe het vanjaar aan die Toneelfees deelgeneem, het Gerrard Damons, projekbestuurder van KuKo, gesê. Die US wou hê dat hulle versigtig moet wees ‒ veral met die moontlikheid van ’n derde vlaag van Covid-19-infeksies, het hy bygevoeg. 

Die verfilming van die opvoerings is dus onder dié streng maatreëls op 5 Junie in die Fismersaal van die US se Konservatorium uitgevoer, het Damons gesê. Almal moes ’n aanlyn gesondheidsondersoek voltooi en toon voordat hulle by die saal ingelaat is, akteurs moes maskers dra gedurende opvoerings, en die saal moes ná elke opvoering ontsmet word, het hy bygevoeg.

“Die gesondheid en veiligheid van ons studente was ons eerste belang,” het Damons gesê. 

verfilm

Die Aurora private studente-organisasie (PSO) ontruim die verhoog ná hulle groep se opvoering, sodat die saal ontsmet kan word voordat die volgende groep die saal binnekom om verfilm te word. FOTO: Inge du Plessis

verfilm

Merwe van Gent, ’n eerstejaarstudent aan die Universiteit Stellenbosch (US) se dramadepartement, besig met sy opvoering vir die Dagbreek-koshuis. Akteurs moes gedurende alle opvoerings maskers dra, het Gerrard Damons, projekbestuurder van die Universiteit Stellenbosch (US) se Kultuurkomitee (KuKo), gesê. Slegs 20 toeskouers is toegelaat om elke opvoering waar te neem, het hy bygevoeg. FOTO: Inge du Plessis

Die opvoerings gaan volgens Damons nou in film-formaat saamgestel word en sal dan in die derde kwartaal vertoon word. Die datum vir die filmvertonings moet nog vasgestel word, het hy gesê. 

Hoewel die Toneelfees nie meer ’n “teatergevoel” het nie, is dit steeds ’n “drama-georiënteerde geleentheid vir studente om hulle talente ten toon te stel”, meen Carolus. 

“Dit was ’n voorreg om ná ’n lang tyd weer op die verhoog te kon [optree],”  het Zandri Swanepoel, skrywer en regisseur van die produksie, Water always finds a way, gesê. Dié produksie is deur die Aurora PSO opgevoer, het sy in ’n WhatsApp-boodskap aan MatieMedia gesê. Studente kon hul kreatiwiteit uitleef en nuwe verhoudings bou, het sy bygevoeg. 

verfilm

Die Fismersaal in die Universiteit Stellenbosch (US) se Konservatorium is ná elke opvoering ontsmet voordat die volgende opvoering verfilm kon word en ’n nuwe groep toeskouers in kon kom, het Gerrard Damons, projekbestuurder van die Universiteit Stellenbosch (US) se Kultuurkomitee (KuKo), gesê. FOTO: Inge du Plessis

, , ,