Terwyl daar mense is, is daar nuus

Die Overstrand Herald, ’n gemeenskapskoerant in Kleinmond, is in 1995 deur Gerard Grobler, redakteur en uitgewer van dié koerant, op die been gebring. Ná jare as verslaggewer by die SAUK, het Grobler uitgesien na ’n nuwe uitdaging en met sy gesin na Kleinmond verhuis. Hy het elke dag in die dorp rondgery, vasberade op soek na plaaslike nuusstories… Binne twee weke het hy die eerste uitgawe van die koerant bekend gestel. 

Deesdae word ’n oplaag van 1 200 kopieë van die Overstrand Herald weekliks na afsetpunte in vier dorpe versprei, en word teen R13 elk verkoop, luidens die publikasie se webtuiste. Die koerant het ook ’n betaalde digitale platform met 250 huidige intekenaars. Om die publikasie aanlyn te lees, moet intekenaars ’n maandelikse fooi van R30 óf jaarliks R320 betaal, volgens die webtuiste.

Foto: Verskaf/Karl Spingies

Die Overstrand Herald, ’n gemeenskapskoerant in Kleinmond, word weekliks in vier dorpe aan die Overberg versprei. FOTO: Verskaf/Karl Spingies

“Dit is eintlik baie maklik om iets aan iemand te verkoop, mits jy aan jou produk glo,” meen Lindy Groenewald, bemarkingsbestuurder by die Overstrand Herald. Passie en ondervinding, meen Groenewald, is belangrik vir die koerant se sukses. 

Vir Grobler is die geheim tot volgehoue sukses in die mediabedryf om beheer oor jou produksiemiddele te hê. Die Overstrand Herald word daarom onafhanklik besit, gedruk én gevou, het hy gesê. “As daar ’n agenda is, is dit ons eie – nie dié van ryk mense of politieke partye nie,” het hy bygevoeg.

Die verslagspan by die Overberg Herald, wat tans uit Kobie Coetzee en Grobler bestaan, is daarop toegespits om ’n “wye veld van onderwerpe” in die koerant te dek, het Groenewald gesê. Volgens haar is die koerant juis gewild onder lesers omdat dit ’n gebalanseerde kombinasie van harde en sagte nuus bevat.

Flukse vouers

Die Overstrand Herald word weekliks by die koerant se kantoor gedruk en met die hand gevou, volgens Mary Ross, ’n spanlid by die koerant wat vir die afgelope 15 jaar na die vou en verpakking daarvan omsien. Om die koerant betyds te kan versprei, moet Ross en haar span soggens om 7:00 wegspring om die vouwerk af te handel, het sy gesê. 

Foto: Verskaf/Gerard Grobler

Die eerste uitgawe van die Overstrand Herald in 1995. Dié koerant het toe as die Hangklip Herald bekend gestaan. FOTO: Verskaf/Gerard Grobler

Pandemie net ’n “hobbel”

Tydens die eerste week van die nasionale grendelstaat wat weens die uitbreking van die Covid-19-pandemie in Maart verlede jaar ingestel is, is die Overstrand Herald se drukpers vir die eerste keer tot stilstand gebring, het Grobler gesê. “Daar was nog nie duidelikheid of koerante ’n noodsaaklike besigheid is of nie, [maar] natuurlik is ons noodsaaklik,” het Grobler oor gemeenskapskoerante gesȇ.

Die span by die Overstrand Herald het tydens die grendelstaat ongeveer 20% van hulle adverteerders verloor, wat hulle hoofbron van inkomste is, het Grobler gesê. “Bemarking is dikwels die eerste plek waar klein besighede in ’n krisis hul uitgawes probeer sny,” het hy gesê. 

Dít, volgens Grobler, was egter net ’n “hobbel” waarna hulle weer soos voorheen kon voortgaan met produksie. “Mense het nie ophou leef nie, en terwyl daar mense is, is daar nuus,” het hy gesê.

Om advertensiespasie in die koerant te probeer vul, bemark Groenewald gedurig die publikasie by verskeie moontlike kliënte, het sy gesê.

Foto 3: Verskaf/Karl Spingies

Die Overstrand Herald se drukpers is in Maart verlede jaar, gedurende die eerste week van die nasionale grendelstaat, vir die eerste keer tot stilstand gebring, het Gerard Grobler, redakteur en uitgewer van dié koerant, gesê. Dit was egter net ’n “hobbel” in die pad waarna lesers weer die koerant in sy tradisionele vorm kon geniet, meen Grobler. FOTO: Verskaf/Karl Spingies