Styging in watertariewe laat inwoners van Idasvallei en Cloetesville ontsteld

Talle inwoners van Idasvallei en Cloetesville het vandeesweek hul ontevredenheid uitgespreek oor die styging in Stellenbosch se watertariewe vir 2018 en 2019.

Volgens ’n verklaring deur die Stellenbosch Munisipaliteit, is daar meer kategorieë in die glyskaal ingebou “om waterbesparing aan te moedig en grootskaalse gebruik te ontmoedig”. Dié aanpassing het tot gevolg dat rekeninge vinniger styg indien waterverbruik meer is as die voorgestelde beperkings.

Dié besluit volg nadat die waterbeperkings in Stellenbosch op 1 Oktober vanaf vlak 6B na vlak 5 verslap is. Volgens Jameel Golding, leier van die Stellenbosch Gemeenskapsgroep, moet die watertariewe dus ook hierdie afname weerspieël.

VIDEO: Talle inwoners van beide Cloetesville en Idasvallei het hul misnoë uitgespreek oor die verhoging in die watertariewe. Kyk hier:

Die Stellenbosch Gemeeenskapsgroep het op 4 Oktober ’n vreedsame optog na die munisipaliteit gehou waartydens ’n memorandum aan burgermeester Gesie van Deventer oorhandig is.

Volgens Golding, die leier van die optog, oorskry talle mense se waterrekeninge die bedrag wat hulle per maand as staatstoelaag kry.

“Die logiese vraag is: Betaal ek my waterrekening of gaan ek kos op die tafel sit om te eet?” sê Golding.

“Wat van my bure, wat van die ouer mense, wat van die armes, wat van die siekes en die werkloses? Hoe is hulle veronderstel om te oorleef?”

Golding sê die munisipaliteit sny huishoudings se elektrisiteit af indien hulle nie hul rekeninge betaal nie.

Adeline Lamohr, ’n onderwysstudent aan die Universiteit van Stellenbosch en ’n inwoner van Idasvallei, meen sy is veral bekommerd oor die invloed wat die prysverhoging op haar huurrekening kan hê.

DSC_0107

Adeline Lamohr, ’n student aan die Universiteit van Stellenbosch, spaar water deur gebruik te maak van ’n tenk in haar agtertuin wat reënwater opvang. FOTO: Nicolette van Schalkwyk

DSC_0131

Adeline Lamohr was slegs een maal ’n dag skottelgoed om so veel as moontlik water te spaar. FOTO: Nicolette van Schalkwyk

“Daar is baie mense wat hul huise uitverhuur aan studente. Ek dink veral dié mense trek swaar in hierdie tye omdat hulle nie net hul eie huis se waterrekening moet dek nie, maar ook die studente se rekeninge,” sê Lamohr.

Norman Farao, ’n inwoner van Idasvallei sê sy waterrekening het van R700 na R1400 gestyg sedert die tariefverhoging. Hy meen die munisipaliteit neem nie die aantal mense in ’n huishouding in ag nie.

“Hulle vergeet dat daar in dié omgewing meer mense in ’n huis woon as gewoonlik,” sê hy.

“Die persone wat die meeste geraak gaan word, is dié wat die minste verdien. Die pensioenarisse gaan die swaarste trek.”

DSC_0157

Norman Farao, ’n inwoner van Idasvallei, was sy hande in die badkamer. FOTO: Nicolette van Schalkwyk

Juanita Fortuin, ’n inwoner van Cloetesville en die eienaar van Nita’s Haarsalon in Idasvallei, meen die hoë watertariewe het ook ’n groot invloed op haar werk.

“Die munisipaliteit het ons reeds gebel en gesê ons waterrekening is baie hoog,” sê Fortuin. “Weens die hoë watertariewe het mense ook nie meer geld om haarsalon toe te gaan nie.”

Volgens Stuart Grobbelaar,  kommunikasiebestuurder by die Stellenbosch Munisipaliteit, is daar later vandag ’n raadsvergadering waartydens die nuwe watertariewe ter tafel gelê gaan word. Die munisipaliteit sal na aanleiding van die vergadering ’n verklaring vrystel.

Die watertariewe vir die 2017/2018 boekjaar. GRAFIKA: Nicolette van Schalkwyk. Bron: Stellenbosch Munisipaliteit

Die watertariewe vir die 2017/2018 boekjaar. GRAFIKA: Nicolette van Schalkwyk. Bron: Stellenbosch Munisipaliteit

Die watertariewe vir die 2017/2018 boekjaar. GRAFIKA: Nicolette van Schalkwyk. Bron: Stellenbosch Munisipaliteit

Die watertariewe vir die 2018/2019 boekjaar. GRAFIKA: Nicolette van Schalkwyk. Bron: Stellenbosch Munisipaliteit

This slideshow requires JavaScript.