Studenteskrywer vuur en vlam oor vervolgroman

’n PhD-student aan die Universiteit Stellenbosch se tweede roman gaan binnekort op winkelrakke landswyd verskyn.

Joha van Dyk, wat tans haar PhD in Engels aan die Universiteit Stellenbosch voltooi, poseer trots met haar vervolgroman, Vuurvreter. FOTO: Karla de Bod

Joha van Dyk, ’n PhD (Engelse Studies)-student, het onlangs die eerste kopie van haar Afrikaanse vervolgroman, Vuurvreter, ontvang. Dié roman gaan vanaf 20 Junie in boekwinkels beskikbaar wees en is, volgens Van Dyk, die “aantrekliker boetie” van haar debuutroman, Branderjaer.

Wat lesers kan verwag

Vuurvreter was verskriklik lekker om te skryf. Die temas waarmee ek hierdie keer werk volg op Branderjaer s’n,” het Van Dyk gesê. “Ons kyk nog steeds na boeliegedrag, vriendskap, jong liefde en gesinskonflik, maar ons kyk ook na klasseverskille soos old money, new money en middelklas, asook deeply personal temas vir die karakters self.”

Joha van Dyk verduidelik die storielyn van haar vervolgroman, Vuurvreter. VIDEO: Karla de Bod

Van Dyk het verlede jaar Vuurvreter voltooi nadat sy vir twee maande in haar woonstel op Stellenbosch aanhoudelik gesit en skryf het, het sy vertel. “Ek kan distinctly onthou hoe ek sit en skryf terwyl [my vriende] Bohemia toe loop en ek kon nie saam gaan nie, want ek moes isolate om te skryf. Maar dis lekker, want na die tyd kon ek hulle vertel wat ek skryf,” het Van Dyk gesê.

“Ek het saadjies in Branderjaer geplant wat deurdra na Vuurvreter, wat deurdra na al die ander boeke,” het Joha van Dyk, skrywer van Branderjaer en Vuurvreter, vertel, “Dis fun, want eendag as al vyf boeke uit is, gaan jy die eerste boek regdeur kan lees en jy gaan al daai klein goedjies kan optel.” FOTO: Karla de Bod

Die vervolgroman se verhaal vind twee en ’n half maande na dié van die debuutroman plaas. “Aan die einde van Branderjaer het die leser nie geweet wat volgende kom nie; Vuurvreter  tel daar op,” het Van Dyk verduidelik. Volgens die skrywer gaan lesers al die onbeantwoorde vrae se antwoorde in Vuurvreter kry.

’n Blink toekoms in die skryfwêreld

Van Dyk het baie geleer nadat sy haar eerste boek gepubliseer het, het Simone Hough, Van Dyk se uitgewer by Human & Rousseau, vertel. 

“Dit is altyd baie bevredigend om te sien hoe ’n skrywer groei en hulle vaardighede slyp,” het Hough gesê. “Ek voorspel dat daar nog baie opwindende dinge wag in haar loopbaan as skrywer.”

Joha van Dyk vertel dat sy ’n vervolgroman om twee redes geskryf het. Eerstens omdat sy nie ’n kort storie kan vertel nie. Tweedens omdat elke karakter in die verhaal hul eie boek gaan kry. “Elke karakter het sy eie storie, so elke karakter gaan ’n solid boek kry. Hulle elkeen verdien hul eie boek,” het Van Dyk gesê. FOTO: Karla de Bod

Volgens Hough het Van Dyk ’n fyn aanvoeling vir karakters en leef sy haarself totaal in die verhaal in wat sy vertel. “Soms is ek verstom oor die goed waarmee sy vorendag kom en hoe diep sy in ’n karakter se vel kan klim!” het Hough gesê.

Nog altyd ’n skrywer

Van Dyk was reeds op hoërskool ’n kreatiewe skrywer, het Lourette Erasmus, Van Dyk se destydse Afrikaans-onderwyseres by Hoërskool Stellenbosch, vertel. 

Joha van Dyk het vertel dat sy haarself in die buitelewe plaas wanneer sy nie in die “skrywer headpsace” is nie. “As ek writer’s block kry dan insert ek myself in die omgewing. Ek gaan see toe of ek gaan woud toe of ek gaan bos toe,” het sy gesê. FOTO: Karla de Bod

“Joha was nog altyd ’n skrywer en het nog altyd meer volwasse temas gekies om oor te skryf,” het Erasmus vertel. “Haar [skryfwerk] was uiters kreatief en anders as enige ander leerder in haar graad s’n.”

Erasmus is opgewonde en nuuskierig om die vervolgroman te lees, het sy vertel.

Rakende motivering en inspirasie, het Joha van Dyk vertel dat haar droom haar dryf. “Ek wou altyd ’n skrywer gewees het. Dit het my droom geword en dit het letterlik die ding geword wat my gedryf het. My droom het my gedryf, elke tree,” het Van Dyk gesê. FOTO: Karla de Bod

Van Dyk hoop dat lesers tevrede en opgewonde sal wees wanneer hulle Vuurvreter klaar gelees het. “Die einde van die boek is die eerlike einde en hoe dit moes eindig,” het Van Dyk gesê. “There’s more to come, so dit gaan okay wees.”

, , , , , , ,