Studenteraad se gestremdheid-veldtog nou in volle swang

Die Studenteraad van die Universiteit Stellenbosch (US) se komitee vir spesiale behoeftes het gedurende die maand van Junie hul gestremdheid-veldtog op die sosiale media platforms, InstagramSRC Special Needs en Facebook, SRC Special Needs bekendgestel. 

Dit volg nadat die US vanjaar as die jaar van gestremdheid verklaar het.  

Volgens Luigia Nicholas, bestuurder van die afdeling vir spesiale behoeftes binne die Studenteraad, handel dié veldtog oor opvoedkunde en bewusmaking.

“Ons wil bewustheid skep oor die diversiteit van leerbehoeftes en gestremdhede onder studente, dosente en ander werknemers aan die US,” het Nicholas gesê.

Die portefeulje vir spesiale behoeftes is al in 2018 binne die Studenteraad gestig. Die gestremdheid-veldtog is vanjaar van stapel gestuur. 

Made with Square InstaPic

Skermgrepe van die gestremdheid-veldtog op Instagram en Facebook waar studente en die publiek bewus gemaak word van die unieke uitdagings wat gestremde studente ervaar. SKERMGREPE: Instagram/@specialneedssu/Facebook/SRC Special Needs/Heidi-Jane de Wee (Aangepas deur Heidi-Jane de Wee)

Volgens Nicholas het die komitee besef dat hul meer mense kan bereik as hulle hul veldtog op sosiale media bekendstel. Dit help ook met groter bewusmaking onder lede van die publiek wat baat kan vind by die veldtog – veral tydens die grendelstaat. 

“Hierdie platforms is vir ons tot voordeel omdat dit ons in staat stel om studente en jong werknemers te bereik, aangesien hulle die toekomstige benadering tot studente met gestremdhede sal bepaal,” het Nicholas aan MatieMedia gesê.

Vir Nicholas is dit baie belangrik dat mense aangemoedig moet word om te verstaan hoe gestremde studente elke dag gemarginaliseer word.

“Die veldtog is gemik op individue met fisiese gestremdhede en dié wat ly onder verstandelike gebreke,” het Sinazo Mtshali, bemarker vir sosiale media van die afdeling vir spesiale behoeftes binne die Studenteraad, gesê.

FOTO 2- Sinazo

Sinazo Mtshali beoog om vanjaar bewustheid rondom verskillende leerbehoeftes en gebreke op kampus te skep. FOTO: Instagram/@specialneedssu

Die veldtog het ook ten doel om studente met gestremdhede by te staan deur die publiek bewus te maak van dié studente se daaglikse uitdagings. 

“Ons het ook die veldtog bekendgestel om die werk wat die Studenteraad se komitee vir spesiale behoeftes doen – soos meer toeganklike staproetes en tasbare plaveisel op kampus – met die kampusgemeenskap te deel,” het Nicholas gesê.  

Luigia final

Luigia Nicholas wil hierdie jaar verseker dat alle studente en werknemers aan die Universiteit Stellenbosch met gebreke die nodige hulp en ondersteuning ontvang. FOTO: Luigia Nicholas

Volgens Mtshali skep hierdie veldtog eenheid tussen die gefragmenteerde en gemarginaliseerde gestremdes en nie-gestremdes binne die kampusgemeenskap.

“Deur eenheid te skep kan individue inspirerende lewenservarings en uitdagings wat hulle oorkom het, met mekaar deel en ook mekaar motiveer op verskillende vlakke,” het Mtshali gesê.

Volgens Lewis Mboko, voorsitter van die Studenteraad, hoop hulle dat die kampusgemeenskap deel sal vorm van die veldtog sodat ondersteuning aan alle studente gebied kan word.

“Dit is ’n baie goeie veldtog omdat dit inklusiwiteit uitbeeld. Dit is een van die maniere hoe die komitee vir spesiale behoeftes en die algehele Studenteraad wil verseker dat elke student gehelp word om hul volle potensiaal te bereik,” het Mboko gesê.

Lewis Mboko gesels oor wat gestremdheid vir hom beteken en hoe die gestremdheid-veldtog by sal dra tot inklusiwiteit binne die kampusgemeenskap. 

 

, , ,