Studentepublikasie wil toekomstige leiers inspireer

ʼn Studentegedrewe inisiatief aan die Universiteit Stellenbosch (US) sal binnekort hul eerste publikasie bekendstel met die doel om bewustheid oor die ontwikkeling van leierskap te skep.

Die insiatief, LeadUS, se 100 VOICES-publikasie sal aanlyn en as ’n hardekopie gepubliseer word en sal stories oor akademie, sport, sosiale entrepreneurskap, transformasie, skeppende kunste en Covid-19 bevat.

Dit is volgens Thabani Mtsi, voorsitter van die LeadUS-inisiatief en redakteur van die 100 VOICES-publikasie.

Dié publikasie sal op 13 November aanlyn bekendgestel word, het Mtsi gesê.

Die LeadUS-inisiatief  het op sosiale media die Stellenbosse studentegemeenskap aangemoedig om hulle stories in te stuur. INSTAGRAM PLASING: @sustudentaffairs 

“Ons wil deur middel van storievertel studente blootstel aan individue wat hulle kan help om hul eie potensiaal as leiers raak te sien,” het Mtsi gesê. 

Volgens Mtsi wil hy deur hierdie publikasie die Stellenbosse studentegemeenskap inspireer en  bewusmaking kweek rakende persoonlike groei. 

Volgens Anri Magerman, koördineerder  vir die ontwikkeling van studenteleierskap aan die US, sal die aanlyn publikasie op die afdeling vir studentesake se webwerf en sosiale media-platforms beskikbaar wees. 

Daar is nog nie ’n spesifieke datum vir wanneer die gedrukte weergawe bekendgestel sal word nie, het Magerman gesê. 

Meer as nét 100 stories

Volgens Mtsi verwys die getal 100 op simboliese vlak na die 100 jaar geskiedenis van die universiteit. Maar dit verwys ook na die “stories wat bydra tot identiteit, transformasie en toekoms van die universiteit,” het Mtsi gesê. 

Mlungisi Khumalo, ’n finale jaar BCom Bestuurswetenskap-student aan die US, wie se storie in die publikasie gepubliseer gaan word, hoop dat dit studente sal motiveer om hul drome na te jaag. 

Thabani Mtsi en Anri Magerman is opgewonde dat die 100 VOICES-publikasie aanlyn en as hardekopie beskikbaar gestel gaan word. Sodoende sal die inhoud van die publikasie nie iewers in die kuberruim verlore gaan nie. FOTO: Verskaf/Thabani Mtsi en Anri Magerman/Gewysig deur Heidi-Jane de Wee
Thabani Mtsi en Anri Magerman is opgewonde dat die 100 VOICES-publikasie aanlyn en as hardekopie beskikbaar gestel gaan word. Sodoende sal die inhoud van die publikasie nie iewers in die kuberruim verlore gaan  nie. FOTO: Verskaf/Thabani Mtsi en Anri Magerman/Gewysig deur Heidi-Jane de Wee 

“Ek het besluit om my storie te deel omdat ek glo dit kan studente inspireer om hulle volle potensiaal te bereik,” het Khumalo gesê. 

Mtsi het gesê hy hoop dat  die publiek die publikasie positief sal ontvang en dat hulle by die stories aanklank sal vind.

“Elke storie sal ’n unieke ervaring van leierskap deel wat aan die leser insig sal gee oor die verskeie leierskapposisies aan die universiteit,” het Mtsi gesê.