Studente platsak ná reuse brandstofprysverhoging

Studente aan die Universiteit Stellenbosch (US) spreek hul kommer uit na gelang van reuse brandstofprysverhogings waaronder motoriste oor die land gebuk gaan sedert Dinsdag middernag.

Studente sal meer moet spandeer vir hul motorritte sedert die brandstofprysverhoging. FOTO: Ross Michaels

Studente sal meer moet spandeer vir hul motorritte sedert die brandstofprysverhoging. FOTO: Ross Michaels

Die prys van 93-loodvrye brandstof het met 99 sent opgegaan, terwyl 95-loodvrye brandstof motoriste nou R1 meer kos in die kusstreke, luidens die Departement van Energie se aankondiging.

Suid-Afrika ervaar tans die hoogste brandstofpryse wat nog vantevore opgemerk is.

Volgens Joshua Posh (23), ’n natuurbewaringstudent aan die US, het die prys van brandstof ’n beduidende impak op sy beursie.

“Ek en my vriende was op pad na Elandsbaai om branderplank ry en het gesê ons sal die brandstofonkoste tussen mekaar moet deel.Maar toe ons terugkeer [Stellenbosch toe] was die pryse uit proporsie en ek moes ’n ekstra R400 uitgee, want ’n voltenk het ons nie eers 200 kilometer daarheen en 200 kilometer terug gevat nie,” sê Posh.

“Ek sal nie meer uit Stellenbosch kan ry nie, dalk Strand as die verste punt. Dis moeilik om die onkostes uit te werk wanneer die prys opgaan en jy weet dit jou meer gaan kos. Dit is selfs moeiliker om ’n vriend wat daaraan gewoond is om oral saam met jou rond te ry nou te vra vir R35 as hy voorheen net R20 bygedra het. Maar as jy hom nie vra nie dan moet jy self die onkostes dra.”

Die middag voor die petrolprys Dinsdag middernag opgegaan het. FOTO: Ross Michaels

Die middag voor die petrolprys Dinsdag middernag opgegaan het. FOTO: Ross Michaels

Shirah Theron (20), ’n geesteswetenskappe-student aan die US, was een van talle motoriste in Stellenbosch wat Dinsdagmiddag plan gemaak het om vóór die brandstofprysverhoging brandstof in hul motors te gooi.

“Ek het [Dinsdag] gegaan om petrol in te gooi by die BP[-vulstasie] in Merrimanlaan en dit was ontsaglik besig gewees. Daar was amper nie genoeg plek vir al die karre om daar te staan nie en letterlik almal het petrol ingegooi voor die prys [Woensdag opgegaan het],” sê Theron.

VIDEO: Motoriste by die Total-vulstasie het in groot getalle hul tenke gevul voor die prysverhoging aangepas is. Ross Michaels

Die Departement van Energie het in ’n verklaring Maandag gesê dat Suid-Afrika se brandstofpryse op ’n maandelikse basis aangepas word na gelang van beide internasionale en plaaslike faktore. Volgens die departement is die Rand-Dollar-wisselkoers een van die groot faktore wat ’n rol speel in die nuutste brandstofprysverhoging. 

Die regering moedig motoriste aan om nuwe voertuie aan te skaf om sodoende geld te spaar na gelang van die brandstofprysverhoging. FOTO: Twitter

Die regering moedig motoriste aan om nuwe voertuie aan te skaf om sodoende geld te spaar na gelang van die brandstofprysverhoging. FOTO: Twitter

Intussen het die Suid-Afrikaanse regering in ’n reeks wenke, op onder andere Twitter, motoriste aangemoedig om geld te spaar deur ’n nuwe “brandstofdoeltreffende” voertuig aan te koop.

INFOGRAPHIC FINAL

Toename van 95-loodvrye brandstof oor die afgelope 5 maande. BRON: Outomobiel-Assosiasie van Suid-Afrika (AA)