Straatligkinders verras aanhangers met nuwe album

Die omslag van Straatligkinders se jonkste album, Verdwyn. FOTO: Verskaf

Die omslag van Straatligkinders se jongste album, Verdwyn. FOTO: Verskaf

Ses jaar ná hulle laaste album het bekende Afrikaanse rockgroep Straatligkinders gister aangekondig daar is ’n nuwe een beskikbaar – sy naam is Verdwyn.

Net soos Amerikaanse rapper Eminem vroeër vanjaar die musiekbedryf met Kamikaze verras het, het dié band die verrassingsalbum skielik op sosiale media bekendgemaak.

“Guess who’s back, back again, Straatlig is back, tell a friend,” skryf baskitaarspeleer Hein Kruger gister op Instagram. “Dit was rerig m*er moeilik om dit vir die laaste vier maande geheim te hou, maar die kat is uit die sak.”

Nie net die album se koms is gister bekendgemaak nie, maar ook ’n enkelsnit op die album as voorsmaak. Die snit, getiteld “Wonder”, is reeds op iTunes beskikbaar en die musiekvideo kan op YouTube gesien word. Binne slegs ’n paar uur is die video reeds byna 5 000 keer gekyk.

“Ons het hierdie meer nodig gehad as ’n nuwe Minister van Finansies,” sê aanhanger Nelco van der Vyver onderaan die video.

“Wonder” is een van die eerste liedjies wat vir die album, getiteld Verdwyn, geskryf is, en gaan oor die groep se reis en terugkeer na die musiekwêreld; om te ontdek wat hul as groep wil sê, weer hul stem te vind en te besluit oor die boodskap wat hulle wil oordra.

Straatligkinders Ruan Kruger, Hein Kruger, Benjamin de Jager en Bouwer Bosch in hul nuutste musiekvideo, "Wonder". FOTO: Verskaf

Straatligkinders Ruan Kruger, Hein Kruger, Benjamin de Jager en Bouwer Bosch in hul nuutste musiekvideo, “Wonder”. FOTO: Verskaf

Die album se omslag en die eerste musiekvideo verklap ’n tema van ’n tipe terugblik. Die band  is in ’n outydse styl aangetrek en selfs die video is op dié manier verwerk.

Luidens ‘n persverklaring is die ontwerp en konsep van die nuwe album geïnspireer deur die gedagte van hoe Straatligkinders sou lyk indien dit ’n rock-groep van die 1960s was.

“Verbeel jou die ou wat nooit die pos gekry het as Noot Vir Noot-aanbieder nie, het wel sy eie talentprogram gekry in 1964. Dít is die konsep. ’n Baie gemiddelde talentprogram met ’n fantastiese gaskunstenaargroep,” sê hoofsanger, Bouwer Bosch.

’n Totaal van sewe vervaardigers het saam aan die album gewerk. Dit sluit Stefan Swart, Ewald Jansen Van Rensburg, Carlo de Villiers, Peach van Pletzen, Rudolph Willemse, Bouwer Bosch en Johann Oelofsenn in.

“Ons record al vir vyf maande lank aan hom saam met ‘n ongelooflike span vervaardigers en musikante. Die geheim bly maar altyd om jouself te omring met mense beter as jy,” skryf Bosch op Instagram.

“Party dinge gebeur net natuurlik, en ons wou ’n lang breuk neem van Straatligkinders om ander drome en passies te volg,” sê Bosch.

“Daar word gesê dat jou beste album gewoonlik jou eerste album is omdat jy jou hele lewe al daaraan skryf, maar ons is baie opgewonde om ons stories en ervaringe van die laaste ses jaar met die wêreld te deel.”

Straatligkinders (Ruan Kruger, Hein Kruger, Benjamin de Jager en Bouwer Bosch) is veral bekend vir hul 2010-snit, “Kan ek met jou dans”. “Die avontuur van ‘n Hartbreek” en “Gedagte vir die dag” was ook van hul bekendste snitte.

’n Hele paar bekende gesigte is in die eerste musiekvideo te sien. Aktrise Mila Guy, sanger Deon Meiring en sanger en musiekvervaardiger Peach van Pletzen maak onder andere hul verskyning.

Gerrit van der Westhuizen, student aan die Universiteit Stellenbosch en aanhanger, sê “Wonder” sal beslis deel word van sy Afrikaanse speellys. “Die musiek se styl is wat mens van hulle verwag. Dit vat my terug na my skooljare van Bakgat en na Afrikaanse musiek luister.

“Ek het probeer luister vir ‘n dieper betekenis soos wat mens verwag van Glaskas en Francois van Coke, maar dit is maar net soos ‘n normale romantic tipe song vir my,” sê Van der Westhuizen. “Die musiekvideo was cool, soos die retro effect en die failed magic tricks. Dit het my aandag getrek, so oor die algemeen is dit ’n liedjie wat ek beslis weer sal luister.”

Nog ‘n aanganger, James Gerber, sê “om na Straatligkinders te luister is soos om sop te eet met ‘n vurk. Jy kan net nooit genoeg kry nie.”

Verdwyn, Straatligkinders se vyfde album, kan reeds aanlyn bestel word, maar sal op 16 November aanlyn beskikbaar wees.