Stellenbossers vuisvoos oor buitensporige waterrekeninge

Verskeie inwoners van Stellenbosch en ander omliggende gebiede het onlangs hulle ontsteltenis uitgespreek nadat hulle vir omtrent drie agtereenvolgende maande “buitensporige” hoë waterrekeninge van die Stellenbosch Munisipaliteit af ontvang het. Dit is volgens ’n anonieme inwoner van Paradyskloof.

“Die munisipaliteit is bewus van die geïsoleerde gevalle van buitengewone hoë rekeninge in sommige areas,” het Stuart Grobbelaar, woordvoerder van Stellenbosch Munisipaliteit, per e-pos aan MatieMedia gesê.

Hierdie hoë waterrekeninge kan volgens Grobbelaar aan drie faktore toegeskryf word: “Dit kan wees as gevolg van buitengewone hoë watergebruik, foutiewe lesings wat aan ’n menslike fout toegeskryf kan word, of ’n lekkasie op die eiendom.” 

Volgens Grobbelaar word alle waterlesings deur munisipale beamptes geneem.

waterrekeninge

Buitengewone hoë waterrekeninge het verskeie inwoners regoor Stellenbosch warm onder die kraag. “Alles val op dowe ore, en vanjaar is my rekening verby R80 000, en dit oor drie maande,” het ’n anonieme gemeenskapslid op ’n WhatsApp-groep vir diegene wat soortgelyke probleme het, beweer. FOTO: Nazley Wilschutt

Buitensporige rekeninge

Nadat die voorafgenoemde anonieme bron ’n waterrekening van R43 763,80 ontvang het, het sy op Facebook haar misnoeë daaroor uitgespreek. Ander individue het toe soortgelyke hoë waterrekeninge onder haar plasing gedeel. 

Dit het haar gemotiveer om ’n WhatsApp-groep te stig vir diegene wat die situasie wou aanspreek. Volgens boodskappe op dié groep, is daar mense met rekeninge wat van R38 000 tot R48 000 strek.

“Dit is verregaande om soveel te moet betaal,” het die bron gesê.

waterrekeninge

’n Groep Stellenbossers beweer dat hul waterrekeninge skielik die hoogte ingeskiet het. “Toe ek bel om uit te vind hoe die bedrag van my [waterrekening] bereken [is], kon niemand my antwoord nie. Jy moet net betaal,” het ’n gemeenskapslid wat anoniem wou bly, gesê. FOTO: Nazley Wilschutt

Michael Scheepers, wat in Simonswyk, Stellenbosch woon, het gesê dat hy ’n waterrekening van meer as R27 000 ontvang het.

“Die aantal oproepe, besoeke aan die kantore van die munisipaliteit, e-posse met foto’s en verduidelikings, kostes vir loodgieters om foute te soek, tyd om vergadering met die burgemeester te hê en dan woon sy dit self nie by nie, maak mens moedeloos,” het Scheepers aan MatieMedia gesê. 

’n Plan van aksie

Lede van die bogenoemde WhatsApp-groep het besluit om e-posse aan die betrokke beamptes van die Stellenbosch Munisipaliteit te stuur. Mervyn Manuel, ’n beampte van die munisipaliteit se water- en elektrisiteitafdeling het, volgens ’n skermgreep wat deur die groep aan MatieMedia gestuur is, op hulle besware gereageer. 

Volgens Manuel se e-pos sal inwoners hul rekeninge moet vereffen. “Ongelukkig sal Stellenbosch Munisipaliteit jou faktureer vir die aantal eenhede wat gebruik is. [Die munisipaliteit] kan net krediet toestaan ​​as daar ’n lekkasie aan [jou] kant is,” het die e-pos gelui.

waterrekeninge

Stellenbosch Munisipaliteit is bewus van die geïsoleerde gevalle van buitengewone hoë rekeninge in sommige areas, het Stuart Grobbelaar, woordvoerder van die munisipaliteit gesê. FOTO: Nazley Wilschutt

“Enige inwoner wat hulle waterrekening wil betwis moet asseblief bewyse van hulle munisipale rekening na [die munisipaliteit se] Finansies Departement bring, waarna deeglike ondersoek ingestel kan word en die betrokke watermeter weer besoek kan word om vas te stel of daar moontlik ’n probleem is soos ’n foutiewe lesing of waterlek,” het Grobbelaar in gesê.