Stellenbosser sterf aan hartaanval by plaaslike restaurant

’n Inwoner van Stellenbosch is onlangs oorlede nadat hy ’n hartaanval by ’n plaaslike restaurant gehad het. 

’n Plaaslike inwoner is in Februarie by die Italiaanse restaurant, Gino’s, oorlede nadat hy ’n hartaanval daar gehad het. FOTO: Emma Hamman

Hiram von Willingh was by die Italiaanse restaurant, Gino’s, toe hy ineengesak het, het Dom Mazza, eienaar van die restaurant gesêê.

Von Willingh en sy gesin het net na half sewe by die restaurant opgedaag. Hulle het gewag vir nog gaste om by hulle aan te sluit, het Mazza verder gesê. 

“Omtrent 10 voor sewe was hy nog besig op sy selfoon. Hy het die selfoon neergesit en net ineengestort,” het Mazza gesê.

Volgens Mazza was die eerste mense op toneel die brandweer se paramedici. “Hulle was omtrent 10 tot 12 minute na die ineenstorting daar en het kardiopulmonêre resussitasie [KPR] toegepas tot die ambulans uiteindelik daar aangekom het,” het Mazza vertel.

Hiram Von Willingh se gunsteling restaurant, Gino’s in Stellenbosch. FOTO: Emma Hamman

“Die oomblik toe hul hom dood verklaar het – rondom 19:40 – het ek die restaurant gesluit. Tot daardie oomblik dink mens daar mag dalk nog ’n kans wees,” het Mazza gesê. “Hy was ’n pragtige mens, ’n aangename man en ’n vriendelike siel. Ek ken sy familie al jare, hy het gereeld hier gekom – hulle is lieflike mense.”

Gary van Zyl, Gino’s se bestuurder, was ook teenwoordig tydens Von Willingh se afsterwe. Van Zyl en ander gaste in die restaurant het ook probeer om KPR toe te pas. “Daar was ’n baie somber gevoel in die restaurant na die insident,” het Van Zyl vertel. “As mens in ag neem dat dit sy gunsteling plek was, was dit eintlik die perfekte afskeidsgroet.”

Godwin von Willingh, Hiram von Wilingh se broerskind, beklemtoon dat sy oom ’n gemeenskapsman was en omgegee het vir die mense om hom. “Hy het altyd gesê dat enige kind wat aan sy deur kom klop nie sal weggaan sonder om te eet nie,” het Godwin gesê. “Ons het bymekaar gekom vir my afskeidsete aangesien ek Uganda toe gaan. Ek sou nooit raai dat dit toe in sy afskeid sou ontaard nie.” 

Von Willingh het as argitek by Dennis Moss Architects, wat naby aan Gino’s is, gewerk. Sy kollega, Jeff Lackay, het aan SMF News genoem dat hy ’n ongelooflike goeie vriend en kollega was. “In die afgelope 24 jaar met plesierige tye en kantoorpartytjies was hy die grapjas met die pruik op sy kop.”