Stellenbosse student bied ’n bietjie WynVirDie(Inperkings)Pyn

’n Honneursstudent in Kreatiewe Skryfkuns aan die Universiteit Stellenbosch (US) het ’n potgooi geskep met die oog daarop om eensaamheid binne die tydperk van inperking te bekamp. 

https://open.spotify.com/show/7ohbZawlIOdJcBgKEzD9N2?si=qyB8d_dXRT6I3dAi84v5lw

WynVirDiePyn is ook aanlyn beskikbaar op Buzzsprout, Listennotes, Deezer en iTunes.

Volgens Wynand Kotze is die doel van WynVirDiePyn om eerlike gesprekke te voer met kunstenaars en om hulle bymekaar te bring. 

“Dit is belangrik omdat kunstenaars nou in ’n posisie sit waar hulle hulle identiteit, maar ook hulle loopbane moet herdefinieer,” het Kotze gesê. 

WynVirDiePyn, wat amptelik op 18 Mei 2020 van stapel gestuur is, bestaan uit agt episodes. Dit word op ’n weeklikse basis uitgereik, met episodes wat sowat ’n uur lank duur. 

Die idee vir WynVirDiePyn het ontstaan uit Kotze se eie eensaamheid gedurende die tydperk van inperking. “Ek dink dit was maar meer om my te red van myself en om bewyse aan myself te gee dat ek nie alleen is nie,” het Kotze aan MatieMedia gesê.  

Die potgooi is, volgens Kotze, daarom belangrik vir mense wat ander mense wil leer ken. Volgens Anmari Oosthuizen, aanhanger en omroeper van die kampus- en gemeenskapsradiostasie, MFM 92.6, is dit ook die hoofrede waarom sy aandagtig na elke episode luister. 

“[Die potgooi] leer jou iets van mense en ek voel jy kan altyd iets van jouself uit ander leer,” het sy gesê. 

C16AE7BE-306D-4148-88E6-3E3A15A5105C WynVirDiePyn

Wynand Kotze het aan die begin van die jaar aan die WynVirDiePyn-potgooi begin werk, en gedurende die inperkingstyd besef dat dit die ideale tyd is om dit bekend te stel. FOTO: Wynand Kotze

Kotze bied die program self aan en behartig ook die vervaardiging. “Ek neem dit self op met twee mikrofone en sit voor die mense – twee meter uitmekaar uit. Ek redigeer ook self die opnames op my rekenaar,” het hy aan MatieMedia vertel

“Kunstenaars is veral nou baie beperk” 

Die potgooi geniet finansiële ondersteuning van die Nasionale Afrikaanse Teater-inisiatief (NATi). 

Cornelia Faasen, uitvoerende hoof van NATi, het gesê dat dit belangrik is om aan mense platvorms te bied om te kan eksperimenteer sonder dat daar druk op hulle is om kaartjies te verkoop vir ’n inkomste.

“Daar is ’n paar goue jare in kunstenaars se lewens waar die gewone finansiële druk van die grootmenslewe nog nie so swaar op hulle weeg nie,” het sy gesê. Volgens Faasen is ondersteuning in dié jare juis vir NATi belangrik, omdat grensverskuiwende idees en werk veral hier na vore kom.

Faasen het gesê omdat kunstenaars se opsies tydens die tydperk van inperking beperk word, is ’n potgooi die ideale platvorm vir gesels en idees uitruil. 

Wynand Kotze is in 2018 aangewys as die wenner van die Première Teaterfees. In die video gesels hy met Nicolette van Schalkwyk, voormalige MatieMedia-joernalis, op Chalk Talk oor die pad na een van sy grootste mylpaale.

Kotze het ook al ’n pad gestap in radio. Hy was onder meer vantevore ’n omroeper by die gemeenskapsradiostasies, Radio Namakwaland 93.4 FM en by Bok Radio 98.9 FM.

Volgens Kotze is radio en potgooie ’n natuurlike vertakking van sy liefde om stories te vertel. “My droom bly om stories te vertel en potgooie is een van die mediums waardeur ek my passie kan uitleef,” het hy gesê. 

, , , ,