Stellenbosch se pinotage pronk wéér

Stellenbosse pinotage-produsente spog vanjaar weereens met die meerderheid mededingers in die finale rondte van die 2020 Absa Pinotage Top-10-toekennings. Agt pinotage-wyne vanuit die Stellenbosch-streek se wynlandgoedere sal vir die top-10 posisies in dié toekennings meeding.

Die 20 finaliste is vroeër vandeesweek deur die Pinotage Assosiasie aanlyn bekend gemaak. 

“Pinotage is ’n eg Suid-Afrikaanse variëteit – maar dis ook ’n Stellenbosse variëteit,” het Beyers Truter, stigter en voorsitter van die Pinotage Assosiasie, aan MatieMedia gesê. 

Het jy geweet_

GIF: Jenna Lemmer

Volgens Beyers Truter word pinotage-wyne beoordeel op die variëteit se unieke balans, klassieke geure van pruim, swart- en rooibessies, asook volgens die wyn se vertoning van die grond waarin die wingerd geplant is. 

Meer oor die finaliste

“Vir die afgelope 24 jaar is Stellenbosch konstant die streek wat die meeste wyne in die top-10 óf -20 het,” het Anri Truter, Beyerskloof se wynmaker verantwoordelik vir hul pinotage, gesê. 

Beyerskloof Estate

Vir Anri Truter, die Beyerskloof-wynmaker, is dit ’n “klop op die skouer” dat daar drie Beyerskloof-wyne in vanjaar se finale rondte van dié toekennings meeding. FOTO: Verskaf/Beyerskloof

Drie van die finalis-wyne kom vanuit die Beyerskloof-kelder. Dit sluit in die Diesel Pinotage 2016 en 2017 én die Pinotage Reserve 2017, het dié wynmaker gesê.

“Ons selekteer net die beste 20 of 30 vaatjies vir die Diesel Pinotage. Ons gaan elke vaatjie individueel deur en proe elkeen blind,” het Anri Truter gesê.

Volgens hom het Beyerskloof al nege keer vantevore dié toekennings gewen.

 “Ons sal kyk wat vanjaar gebeur – ons het darem drie perde in die resies,” het Anri Truter gesê.

Beyerskloof_DieselPinotage

Die Beyerskloof Diesel Pinotage 2018 het onlangs ook Top-10 status in die eerste Prescient Pinotage-verslag behaal. Dié verslag is deur die wynpublikasie Winemag.co.za gepubliseer. FOTO: Verskaf/Beyerskloof

Delheim-, Kaapzicht-, Simonsig-, Kanonkop- en die Spier-wynlandgoed het ook tot die finale rondte van vanjaar se toekennings deurgedring.

“Om [agt] wyne in die top-10 te hê, bring hulde aan die moeite, ywer en absolute fokus op die gehalte van die pinotage wat in hierdie streek gevind word,” het Johan Jordaan, die wynmaker verantwoordelik vir die Spier-wynlandgoed se inskrywing in die top-20, gesê.

Volgens Jordaan is Spier se 21 Gables Pinotage 2017 spesiaal, omdat dit geproduseer word van wingerde wat aan die Atlantiese kus, naby Valsbaai, geleë is. 

“Omdat die wingerde naby ’n koue waterbron geleë is, ontwikkel die druiwe stadiger en meer egalig as in ’n warmer klimaat – wat gewoonlik vroeër in die seisoen ryp word,” het Jordaan gesê.

21 Gables Pinotage Floral_02

Volgens Johan Jordaan, die wynmaker verantwoordelik vir Spier se 21 Gables Pinotage 2017, handhaaf ’n topgehalte pinotage-wyn ’n goeie balans tussen onder meer die diepte van verskillende geure, suurheid en tannien. FOTO: Verskaf/Spier

Simonsig se Redhill Pinotage 2018 is van wingerde gemaak wat in 1995 geplant is en jaar ná jaar beter oeste lewer, het Michael Malan, die wynmaker by Simonsig, gesê.  

simonsig-stellenbosch

Die klimaat in Stellenbosch is veral gunstig vir die verbouing van Pinotage-druiwe, het die Simonsig-wynmaker, Michael Malan gesê. FOTO: Simonsig-webtuiste

“Ons werk al lank met hierdie wingerd en verstaan dit nou al goed,” het Malan gesê. 

Die Absa Pinotage Top-10 toekennings is “’n tawwe kompetisie”, en die beoordelingsproses is van uiterse hoë standaard, het Malan gesê. 

Pinotage: ’n Plaaslike juweel 

Volgens Beyers Truter het die Pinotage Top-10 toekennings oor die afgelope 24 jaar bygedra tot die kwaliteit, bekendheid en waarde van Pinotage in die plaaslike, sowel as die internasionale wynmark.

truterquote

Navorsing het getoon dat die aanvraag na pinotage in Suid-Afrikaanse wynproelokale hoër is as die aanvraag na enige ander variëteit, het Beyers Truter gesê.

Die Absa Pinotage Top-10 sal teen einde September aangekondig word – net betyds vir die viering van #PinotageDay op 10 Oktober.

ToekaTotNou (2)

GRAFIKA: Jenna Lemmer

, , ,