Stellenbosch PSO’s daag studente uit om gesigmaskers te maak

Twee van die Universiteit Stellenbosch (US) se Private Studente Organisasies (PSO’s), Osler en Olympus, het hande gevat met die #MaskMakingMovement-inisiatief in die stryd teen die Covid-19-pandemie. 

Dié inisiatief is deur die nie-winsgewende organisasie, The Serendipity Project, in samewerking met Netwerk 24 se studenteplatform, Die Student, geloods. 

Volgens Suzanne Loots, stigter van The Serendipity Project, daag die inisiatief koshuise en PSO’s reg oor die land uit om gesigmaskers te maak en dit aan kwesbare gemeenskappe te skenk.  

“As student het ek self besef dat daar ’n sin van gemeenskaplikheid onder studente is. Ek glo dat ons dit tot ons voordeel moet gebruik en die mensdom kan verryk,” het Loots gesê. 

Osler het die #MaskMakingMovement as die ideale geleentheid beskou om ’n verskil te kan maak, het Bianca Mariani, huiskomiteelid van Osler, gesê. 

Oslerians is nou reg oor Suid-Afrika versprei en dit is ’n uitdaging om bymekaar uit te kom én ’n verskil te maak – maar ons het die hande. Om maskers te maak is iets wat ons van enige plek af kan doen,” het Mariani gesê.

Volgens Leoné Wilkinson, primaria van die Olympus, is samewerking die beste manier om die verspreiding van die virus te bekamp. Daarom het Olympus by dié inisiatief aangesluit. 

“Die stryd teen die verspreiding van Covid-19 is nie iets wat ons alleen kan oorwin nie. Ons moet almal nou saamstaan om mekaar te help,” het Wilkinson gesê.

Volgens dokter Jane Shaw, ’n pulmonoloog van die Departement Geneeskunde aan die US, is inisiatiewe soos dié veral belangrik vir mense in minderbevoorregte gemeenskappe waar ’n digte bevolking en die uitdaging om ’n sosiale afstand te handhaaf, daaglikse werklikhede is. 

“Dié gesigmaskerprojek, tesame met die belangrike ingrypingsmaatreëls, kan help om die verspreiding van Covid-19 tussen mense in hierdie gebiede te bekamp,” het Shaw gesê.

IMG_6949 studente

Infografika: Instagram/The Serendipity Project

, ,