SS ‘volbespreek’ vir eksamentyd ondanks Covid-19-uitdagings

Die Universiteit Stellenbosch (US) se studiesentrum (SS) volg ’n Covid-werkplekplan om die veiligheid van studente te verseker terwyl die sentrum tydens eksamens volbespreek is.

Dít is volgens Martin Viljoen, US-woordvoerder, wat die gebruik van die SS beskryf as “sentraal tot so baie mense se ervarings” op kampus. Die plan wat tans gevolg word is deur die US se Institusionele Komitee vir Bedryfsvoortsetting (IKBV) goedgekeur, het Viljoen per e-pos aan MatieMedia gesê.

SS

Die studiesentrum (SS) by die Universiteit Stellenbosch (US) is tydens eksamentye gewoonlik volbespreek, volgens Martin Viljoen, US-woordvoerder. Met die Covid-19-pandemie is daar “verskeie uitdagings om studente in die SS-ruimte te akkommodeer”, het Viljoen via e-pos aan MatieMedia gesê. FOTO: Anri Matthee

“Die uitleg van die [SS] is van so ’n aard dat dit voldoende afstand tussen studente verseker,” het Viljoen gesê. “Studente se toegang tot die SS word gemonitor mits ’n Covid-geval opduik.”

Die SS het normaalweg ’n kapasiteit van 503 studente, volgens die sentrum se Facebook-blad. Weens die Covid-19-pandemie kan die sentrum tans slegs 200 studente – 100 op elke vloer – akkommodeer.

’n Goeie leeromgewing

“Normaalweg sal ek nie SS toe gaan nie, maar […] in die eksamen, boer [ek] letterlik in die SS. Ek leer nét daar,” het Melinda Mieny – ’n finalejaarstudent wat BSc (Menslike Lewenswetenskappe) studeer – aan MatieMedia gesê. “Dis ’n goeie leeromgewing en almal om jou leer, so daar’s baie motivering om te leer.”

“Dis rustig en dis stil en […] almal het wedersydse respek vir mekaar,” het Janke Ryan – ’n finalejaar BScAgric (Landbou-ekonomiese Analise en Bestuur)-student – verduidelik. “Dis lekker om te kom leer hierso, want jy kan bespreek voor die tyd, so jy weet jy gaan ’n plek hê om te gaan sit.”

SS

Die studiesentrum (SS) word tans volgens ’n Covid-werkplekplan bestuur, volgens Martin Viljoen, Universiteit Stellenbosch-woordvoerder. ’n Aanlyn besprekingstelsel, beperkte kapasiteit en saniteerder by die sentrum se ingang vorm deel van die huidige veiligheidsriglyne. FOTO: Anri Matthee

Uitdagings en frustrasies

“Ek is die afgelope maand in die SS en ek bespreek omtrent van 08:00 tot 21:00, soos die meeste honneursstudente wat op die oomblik hier studeer,” het Bailey Hall – ’n US-student wat tans haar Nagraadse Diploma in Rekeningkunde voltooi – verduidelik. Die aanlyn besprekingstelsel vir die sentrum vereis egter dat elke uur-lange sessie per sitplek individueel bespreek moet word, en kan dus tydrowend wees. 

“Dit vat baie lank om ’n dag se besprekings te maak,” het Ryan gesê, “wat nog te sê ’n week of twee weke?”

“SS-bestuur het terugvoer van studente oor die besprekingstelsel ontvang. Die stelsel het ruimte vir verbetering en baie kan gedoen word om die studente-ervaring te optimiseer,” het Viljoen gesê. “Daar was egter uitdagings om die terugvoer van studente om te skakel in tegniese spesifikasies vir die besprekingstelsel.”

Hall het voorgestel dat ’n stelsel soos dié van die US se biblioteek – waar studente makliker kan sien watter sitplekke nog beskikbaar is en besprekings kan maak in vier-uur-lange sessies – meer doeltreffend sou wees. Volgens die SS se besprekingswebtuiste mag studente tans nie meer as vier opeenvolgende sessies bespreek nie.

Besprekings word gemonitor deur die studenteassistente wat by die SS aan diens is, aangesien hulle toegang het tot “hoeveel besprekings op elke studentenommer gemaak word”, het Viljoen gesê. “Die besprekingstelsel wat deur die biblioteek gebruik word, word tans as ’n opsie vir die toekoms oorweeg.”

VIDEO: Anri Matthee

, , , ,