SR-verkiesing gaan voort na verlengde nominasie-periode

Die verkiesing vir die Universiteit Stellenbosch se studenteraad vir 2019/2020 sal voortgaan soos beplan. Die nominasie-periode vir hierdie jaar se studenteraad-verkiesing is aanvanklik tot Vrydag 2 Augustus met ʼn week verleng weens ʼn gebrek aan applikante. 

social media

Sosiale media inligting vir hierdie jaar se SR-verkiesing. Grafika: Verskaf

Volgens Wiann Bester (21), stembus-sameroeper vir hierdie jaar se verkiesing, vereis die studentegrondwet dat indien daar minder as nege applikante vir die SR-posisies is teen die eerste sperdatum, die nominasie-periode met ʼn week verleng moet word. Teen 2 Augustus het daar egter genoeg aansoeke ingekom vir die verkiesing om voort te gaan. 

“Omdat daar nege SR-lede verkies word, vereis die grondwet dat daar nege of meer kandidate vir die verkiesing staan. As daar teen 2 Augustus nie genoeg aansoeke was nie, dan vind daar nie ʼn verkiesing plaas nie. Dit is dan die verkiesingskomitee se werk om die kandidate wat kwalifiseer, op akademiese gronde ook, aan te stel as die volgende SR,” sê Bester. 

Teen die einde van die eerste sperdatum vir nominasies was daar slegs sewe aansoeke vir die SR. 

Volgens Mari Fölscher, wat sosiale media en bemarking vir hierdie jaar se verkiesing hanteer, is die SR-koukusse geskeduleer om vanaf 8 tot 23 Augustus plaas te vind. Studente sal dan aanlyn kan stem vir die kandidate vanaf 16 tot 23 Augustus. 

SRC ELECTIONS

Tydlyn van die SR-verkiesingsproses. Grafika: Verskaf

 Bester verwys enige student met vrae oor die proses vir die verkiesing na Skedule 1 van die studentegrondwet. Beide Bester en Fölscher doen ʼn beroep op alle studente om te stem in die verkiesing. 

“Dis vreeslik belangrik. Dit is in die land se grondwet dat daar studenterade by universiteite moet wees. Mens moet onthou dat as jy iemand nodig het om jou stem te dra na die rektoraat en ander liggame, dit [die SR] die mense is wat dit gaan doen,” sê Fölscher.

Bester sê dat daar teen die einde van hierdie week meer inligting beskikbaar gestel sal word rakende die verkiesing. 

 

,