Só werk nuwe US-parkeertoekennings

Parkering in Stellenbosch kan nou selfs nog skaarser word met nuwe parkeertoekennings wat vandag by die Universiteit Stellenbosch (US) in werking sal tree.

Dié veranderinge bepaal dat studente wat voorheen geregistreer was by enigeen van vier periferie-parkeergebiede, nou slegs by een gebied toegelaat sal word  indien hulle daarvoor geregistreer en betaal het.

Nog ’n verandering sal bepaal dat studente wat koshuisparkering ontvang het, nie tydens klasure op algemene parkeerplekke op kampus mag parkeer nie.

Martin Viljoen, US-woordvoerder, verduidelik dat parkeerplekke by die US-Museum, Skuilhoek, Smuts/Merriman en aan die noordekant van die Ingenieurswese-fakulteit in die verlede teen periferietariewe gehef is, maar dat daar nie toegangsbeheer was nie. Dié gebiede word egter nou strenger beheer.

Roelof Loubser, mobiliteitsbestuurder, vra dat geregistreerde studente seker moet wees van watter areakode hulle ontvang het, aangesien hulle slegs in een van die vier parkeerterreine toegelaat word.

Niemand mag egter op spesifieke parkeerplekke in die terrein aanspraak maak nie en dit werk op die beginsel van “eerste kom, eerste gehelp”.

Dit is ongeveer waar die parkeergebiede naby die US-Museum, Skuilhoek, Smuts/Merriman en aan die noordekant van die Ingenieurswese-fakulteit geleë is. ILLUSTRASIE: MatieMedia

Dit is ongeveer waar die parkeergebiede naby die US-Museum, Skuilhoek, Smuts/Merriman en aan die noordekant van die Ingenieurswese-fakulteit geleë is. ILLUSTRASIE: MatieMedia

Volgens die universiteit is algemene of periferie-parkeerplekke vir private studente wat buite ’n radius van 2,5 km van die kampuskern af woon en personeel wat nie parkering ontvang het in die personeelparkeerareas nie.

Loubser verduidelik verder dat indien die area waar studente mag parkeer reeds vol is, parkeergebiede by Coetzenburg, die Maties-hokkieveld, asook Silvertrees of Lentelus beskikbaar sal wees.

Tydens Woordfees sal studente wat toegang tot die US-museum se parkeerarea het, tydelik na Coetzenburg verplaas word. Studente met die areakode ‘Area PRF’ sal ook by hierdie parkeerareas kan parkeer.

“Personeel en studente kan dan die beskikbare pendelbussie gebruik om te ry tot op die sentrale kampus,” verduidelik Loubser.

Dagpendelbussies ry slegs op Maandae tot Vrydae van 07:00 tot 17:30 met drie spesifieke roetes tussen die algemene parkeerarea op die rand van kampus en sentrale kampus.

Optelpunte op die dagroete word met 'n diamant en aflaaipunte met 'n vierkant aangedui. Maroenroete: Coetzenburg na Konservatorium via Skuilhoek of Van Riebeeckstraat. Geelroete: Lentelus/Silvertrees na Joubertstraat via Hammanshandweg. Blouroete: Konservatorium na Welgevallen-proefplaas. ILLUSTRASIE: Universiteit Stellenbosch

Optelpunte op die dagroete word met ‘n diamant en aflaaipunte met ‘n vierkant aangedui. Maroenroete: Coetzenburg na Konservatorium via Skuilhoek of Van Riebeeckstraat. Geelroete: Lentelus/Silvertrees na Joubertstraat via Hammanshandweg. Blouroete: Konservatorium na Welgevallen-proefplaas. ILLUSTRASIE: Universiteit Stellenbosch

Van 18:00 tot 02:00 kan beide geregistreerde en nie-geregistreerde studente van die nagpendelbussies gebruik maak, maar teen R9 per rit. Dié bussies volg geen spesifieke roete nie en beweeg slegs binne ’n 6km-radius van die optelpunt by die Neelsie-studentesentrum na private behuising vir studente wat tot laat studeer.

Weens ’n ooreenkoms tussen die US se studenteraad (SR) en die universiteit se kampuspendeldiens sal dié bussies egter van 9 April gratis wees, het Lwando Nkamisa, SR-voorsitter, gesê.

Alle kampusparkering sal ook na ure vir personeel en studente beskikbaar wees.

Viljoen vra dat personeel en studente in ag moet neem dat ’n tekort aan parkeerplekke ’n landwye probleem is.

Die kostes verbonde aan parkering op die universiteit se kampus vir 2018. ILLUSTRASIE: Universiteit Stellenbosch

Die kostes verbonde aan parkering op die universiteit se kampus vir 2018. ILLUSTRASIE: Universiteit Stellenbosch

 

 

 

 

,