So Groen soos Dave: 71 jaar tussen die plante

Dit is 17 jaar sedert Dave Pepler bekendheid verwerf het as die eko-oom op Groen. Hy het met MatieMedia gesels oor sy wortels, klasgee, die aarde, en sy lewe in Idasvallei. 

Groen

Die Universiteit Stellenbosch (US) Botaniese Tuin is vir Dave Pepler ’n “onderskatte, wonderbaarlike plek”. FOTO: Carla Visagie

Die roomkleurige “Field Notes”-boekie is vol potloodkrabbels. Elke krabbel is ’n kode vir die stories wat hy bymekaar gemaak het in die skilderagtige stede, woestyne en woude waar hy al was.

Met sy gematigde stem en suiwer Afrikaans, vertel Dave Pepler al sedert 5 Januarie 2004 natuurstories op die kassie. 

Mense stop hom dikwels op straat vir raad. Veral die VLV-tannies (Vroue-Landbouvereninging) stop hom gereeld om iets te vra, vertel Pepler.

Een van dié tannies het eendag na Pepler toe gekom en vir hom gesê dat haar seun sestien jaar gelede in ’n motorongeluk was. “En hy’s blind,” vertel Pepler. “Die chiasma het geskeur.”

“Toe sê sy dat Groen die enigste tv-program is waarna hy luister, want dit bring nog die beelde terug. So ek moes darem iéts reg gedoen het,” sê Pepler.

Sy wortels

As kind het dié omgewingskenner geen spesifieke loopbaandrome gehad nie, maar hy het verwoed gelees en in álles belang gestel.

“Ek was ’n redelik geïsoleerde kind. Onsosiaal. Vet. My verweer teen eensaamheid was om te lees. Woedend. Alles. En ek het nog nie opgehou nie,” vertel Pepler.

Pepler, wat op Robertson grootgeword het, sê sy ma se “onwrikbare morele kompas”, en sy pa se “volslae onbaatsugtigheid” was van die groot invloede op Pepler se lewe. “Dominee Hanekom het gesê my pa was seker een van die armste mense in die dorp, maar ons huis het altyd oopgestaan vir almal wat swaarkry. ”

Groen

Dave Pepler, bekende omgewingskenner, sê hy skryf baie klein en baie kripties, maar sy notaboeke is “’n goudmyn van kodes na gebeure of gedagtes”. FOTO: Carla Visagie

’n Lewe in die akademie

Dié omgewingskenner meen hy maak nét groot foute. Klein foute verveel hom, want “hy is geneig om dit te herhaal”. 

Om ná matriek in te skryf by die Saasveld-bosboukollege vir ’n diploma in bosbou, was een van sy gróót foute.

Pepler het ná sy studies aanvanklik by die Universiteit Stellenbosch (US) se voormalige departement natuurbewaring gewerk, waar hy vir navorsingsdoeleindes so baie gejag het dat hy “doofgeskiet is”.

Dit is egter nie wat hy wou doen nie. Pepler het in sy vrye tyd begin om navorsingsartikels te skryf. Dit het daartoe gelei het dat hy gekeur is om soölogie aan die Universiteit van Cambridge te studeer. “Dit was die intellektuele hoogtepunt van my lewe,” vertel Pepler. “Ek het elke oggend verby Stephen Hawking verbygeloop waar hy in sy rolstoel op pad was.” 

Hy het voor sy dae as Groen-tv-aanbieder en Hoe Verklaar Jy Dit-aanbieder op RSG vir 30 jaar by die US klasgegee. Hy beskou homself as ’n gebore onderwyser, “alhoewel die studente nie so gedink het nie”.

Die “toppunt van dawerende onnoselheid” het Pepler in 2019 teëgekom in ’n openingsmodule van ’n meesterskursus in omgewingbestuur wat hy aangebied het. 

Groen

Pepler meen hy is ’n gebore onderwyser. “Ek het [aan] soveel studente punte gegee wat dawerend verkeerd was, maar wat elegant gedink het oor hulle foute. Ek sê dit vandag nog: Jy kan totaal verkeerd wees, maar ek sal vir jou laat deurkom as jy mooi gedink het oor jou fout,” sê Pepler. FOTO: Carla Visagie

“Ek sê: ‘Ons is hier omdat die aarde in duie stort as gevolg van habitatfragmentering en die landscape invasion of aliens.’ [Die student] steek sy hand op en sê, ‘Sir, from which planet are the aliens.’ Ek het nog nie begin nie, toe wil ek al huil,” vertel Pepler. 

‘Kyk wat jy eet’

Groen het Pepler se liefde vir natuurbewaring verdiep, maar sy reise deur die Afrika-vasteland het hom oortuig dat die aarde besig is om te “breek”.

“Nasies wat aansluit by Parys-verdragte help f*kk*l.”

“Ek konsulteer baie in Soedan of na die suide toe, so ek weet wat aangaan in die kontinent. Dis ’n ongemaklike situasie. ’n Organisme kan net soveel houe vat,” sê Pepler.

Die eerste stap om die vernietigende effek wat die mens op die aarde het, te buffer, is volgens Pepler as mense “hul dade bedink”. 

“Nasies wat aansluit by Parys-verdragte help f*kk*l,” meen hy.

“[Natuurbewaring] begin by die self, en die verkenning en wete van die self. Sonder dit, kan jy nie gesond oordeel nie. Kan jy nie liefhê of haat nie,” sê Pepler.

Groen

Dave Pepler gebruik sy fiets as vervoermiddel, omdat dit omgewingsvriendelik is. “Ons moet eenvoudig deur voorbeeld lewe en nie deur preek nie, dit help nie,” sê hy. FOTO: Carla Visagie

Dié natuurliefhebber onthou ’n frase wat hom werklik geraak het. ’n Toergids van Indië het vir hom gesê: “Dave, please look at your food.” 

“En dit is ’n kode, natuurlik. Ons doen dit nie meer nie,” sê hy. Deesdae gaan mense na kettingrestaurante toe, sê Pepler. “En dan kom ’n verwronge ding uit met geen skakel na die natuur nie. Daar is niks wat die ketting verbind nie.”

Ekstase en gorilla’s

Die Weste verstaan nie ekstase soos die Ooste nie, meen Pepler. “Ons gaan trek pakke aan, ons ruik na motgif en dan gaan sit ons in die conserve [en luister na musiek]. Ons mag nie hoes nie. Vir ure.” 

“Die Egiptenare, met ’n fabelagtige noot, staan op, ontplof [vir] vyf minute, en stop die orkes in ekstase. Terwyl ons kurkdroog sit en luister na voorgeskrewe musiek,” sê hy ter vergelyking. “Ek neem toergroepe die wêreld vol. En ek het hulle nou al geleer voor die tyd… as iets vir jou mooi is, staan op, klap hande en skree.” 

“En toe sit sy haar wang op my knieë, ek kan nie dink dat ek al so gehuil het nie.”

Behalwe vir die liefde vir Oosterse musiek wat hy oorsee aangeleer het, het Pepler ook al tydens sy reise besonderse oomblikke met diere gehad. Die merkwaardigste was in die Bwindi-woud in Uganda. 

“Dit was laterig in die middag, en ek besef toe iemand kyk vir my. En daar staan ’n wilde wyfiegorilla by die voordeur. Jy mag nie naby aan hulle kom nie. En sy kom staan voor my en voel saggies aan my broek. Sy kyk, en skielik sien sy ’n rofie op my elmboog, en met ’n sagte vingertjie krap sy die rofie af. En toe sit sy haar wang op my knieë… ek kan nie dink dat ek al so gehuil het nie,” sê Pepler.

Groen

Dave Pepler het al vyf-en-twintig keer as toerleiers gaste na die gorilla’s in Bwindi toe gevat. “Daar was min gaste wat ek vat wat nie begin huil [het] nie. Ek meen, daar is minder as ’n duisend van hulle oor. Hulle gaan uitsterf,” sê Pepler. FOTO: Verskaf/Dave Pepler

Die aanval

Ná Pepler en ’n student in 2017 beroof en aangeval is toe hulle by Bothmaskop gaan stap het, sal hy nooit weer op sy gemak in die veld wees nie.

“Ek en ’n student het gaan stap om veldwerk te doen op ’n Saterdag, en toe ons terugstap, redelik styl teen Bothmaskop, sê ’n stem vir my: ‘Wat soek julle in my bos?’”

Pepler en die student het beide ernstige beserings opgedoen. 

“Die student het gesê die laaste ding wat hy gehoor het van my voor hy sy bewussyn verloor het, was ‘f*k jou, nie vandag nie’. Ek het vir die eerste keer in my lewe hardhandig geraak. Ek is ’n passifis, en ek het ’n man gem**r. Ek het dit nie verwag nie,” sê Pepler.

Hy het ook onlangs by ’n buurtwag in Idasvallei, waar hy woon, aangesluit . Pepler meen Idasvallei is besonders, want die gemeenskap is “funksioneel”.

“Dis ’n gemeenskap wat waak by sterftes. Dis ’n gemeenskap wat kos aandra as iemand siek is,” vertel Pepler.

Pepler het twee jaar gelede Idasvallei toe getrek en die tuin van nuuts af begin. Met die vygies, turksvye en malvas wat in sy voortuin geplant is, wou hy ’n ode bring aan Idasvallei, sê hy.

Al is hy van mening dat die mens se egoïsme die wêreld se ondergang gaan wees, glo Dave onwrikbaar in die inherente goedheid van die mens. Die mensdom het die kapasiteit om goed te wees, sê hy, maar ons steek dit vir onsself weg.

Groen

Droë plekke en Ysland is Dave Pepler se gunstelingplekke, “omdat dit so gestroop is en jou volledig aan jouself uitlewer”. FOTO: Carla Visagie

, , ,