Slangseisoen in die Boland: In gesprek met ’n slangvanger

Die Bolandse slangseisoen het onlangs begin in Stellenbosch, Franschhoek, Worcester en die Paarl. 

Dit is volgens Eduanne Niemand, eienaar van Boland Snake Removals 24/7. Die seisoen het vroeër vandeesmaand begin en sal tot omtrent Mei volgende jaar duur, het Niemand gesê. Hy het sedert die begin van die maand 40 slange gevang. 

slangseisoen

Eduanne Niemand, eienaar van Boland Snake Removals 24/7, met ’n Kaapse kobra wat hy onlangs gevang het. Hy laat die slange wat hy vang weekliks by die Du Toitskloof-pas in die Paarl vry. FOTO: Inge du Plessis

“Die vorige somer het ek 1 003 Kaapse kobras tussen Malmesbury en Franschhoek gevang,” het Niemand per WhatsApp-boodskap aan MatieMedia gesê. Die getal sluit uit ’n “helse klomp pofadders, boomslange en onskadelike slange”. 

Hoe om ’n slang te ontglip

As jy op ’n slang in jou huis of tuin afkom, is dit belangrik om kalm te bly en die slang van ’n afstand af dop te hou terwyl jy die nommer van jou naaste slangvanger kry, volgens Francois Botha, ’n finalejaar mediese student aan die Universiteit Stellenbosch (US) wat deeltyds slange vang. 

’n Slang sal iemand slegs met opset byt as hulle dit “in ’n hoek vasdruk en wil karring met dit”, het Niemand gesê. 

slangseisoen

Eduanne Niemand, eienaar van Boland Snake Removals 24/7, laat die slange wat hy vang weekliks vry nádat hy hulle gerehabiliteer het. “As die slange gedehidreer is, dan vat ek hulle huis toe, gee vir hulle water. En dan die volgende dag, as hulle rustig in die bak is nádat hulle gevang is, dan gooi ek ’n witmuis in. Dan het hulle weer krag om hier te oorleef as ek hulle vrylaat,” het Niemand gesê. FOTO: Inge du Plessis

As ’n mens of ’n troeteldier wél deur ’n slang gebyt word, moet hulle so gou moontlik by ’n hospitaal of ’n veearts uitkom, volgens Botha. Moet nie tyd “mors met enige boererate of die gif probeer uitsuig nie”, het Botha per WhatsApp-boodskap aan MatieMedia gesê. 

Die US se Tygerberg Gifinligtingsentrum ontvang per slangseisoen gemiddeld 300 slangbytgevalle – die meeste daarvan pofadderbyte, volgens Dr Carine Marks, direkteur van dié sentrum.

“Slange is ’n belangrike deel van ons ekosisteem en ’n natuurlike beheermiddel vir rotte en muise,” volgens Botha.

Niemand laat die slange wat hy vang weekliks by die Du Toitskloof-pas in die Paarl vry. Party van die slange benodig soms rehabilitasie vóór hulle weer in die natuur vrygelaat kan word, volgens Niemand.  

“As die slange gedehidreer is, dan vat ek hulle huis toe, gee vir hulle water. En dan die volgende dag, as hulle rustig in die bak is nádat hulle gevang is, dan gooi ek ’n witmuis in. Dan het hulle weer krag om te oorleef as ek hulle hier vrylaat,” het hy gesê. 

Eduanne Niemand, eienaar van Boland Snake Removals 24/7, vertel meer van die Kaapse kobra en hoe hy die slange hanteer wanneer hy hulle vrylaat. VIDEO: Inge du Plessis

, ,