Sistiese Fibrose keer nie dié jong besigheidsvrou nie

Toe Carmen Möller in 1997 met Sistiese Fibrose (SF) gediagnoseer is, het haar dokter nie verwag dat sy ouer as 16 sal word nie. Vandag, op 25, vertel dié jong besigheidsvrou meer oor haar uitdagings met SF, haar besighede, verhoudings, en planne om ander se drome te bewaarheid. 

Carmen Möller in 2020 by die opening en bekendstelling van haar eerste restaurant, Eten., wat ’n gesonde wegneemete-restaurant is. FOTO: Verskaf/Carmen Möller

In 1997 hoor Henk en Christa Crous dat hul 13-maande-oue dogtertjie ’n chroniese siekte het én moontlik nie ouer as 16 sal word nie. 

Hulle lees op oor dié oorerflike siekte, wat ’n een-in-vier kans het om oorgedra te word indien albei ouers draers van die geen is. Die siekte veroorsaak dat hulle dogtertjie, as gevolg van ’n soutwanbalans, nie vloeibare slym in haar lyf het nie. Hulle leer dat haar slym taai en dik is, en dat dit die afskeidingsbuise en -kanale – veral in haar longe en pankreas  – verstop. Dít veroorsaak skade aan haar longe, spysverteringstelsel en organe.   

Hierdie dogtertjie is Carmen Möller. 

Carmen is vandag ’n 25-jarige besigheidsvrou en een van die 449 mense in Suid-Afrika wat met Sistiese Fibrose (SF) leef. Carmen het in April haar derde besigheid oopgemaak. Hierdie keer het sy saam met haar sussie, Melissa Crous, die restaurant, Hygge Hygge, in die hart van Stellenbosch begin. 

As ’n baba, kon haar ma haar nie neerlê sonder dat sy huil nie. “My ma moes haar skud, want dit was die slym wat losgeskud het, maar niemand het daardie tyd geweet wat dit was nie,” vertel Melissa van haar sussie. Carmen en Melissa sit teenoor mekaar in die moderne en minimalistiese groen, swart en goue Hygge Hygge. 

Carmen besoek daagliks haar fisioterapeut op die dorp om die slym in haar lyf los te kry. “Die slym sit net daar ー dit beweeg nie. As dit daar bly, begin bakterieë broei en dit maak dat ek infeksies kry, wat veroorsaak dat ek hospitaal toe moet gaan,” verduidelik Carmen. Dié infeksies kan lei tot longskade wat iemand met SF se longfunksie kan verswak.

SF is op die kantlyn 

Ondanks die impak wat SF op Carmen se lewe het, meen sy dat dié siekte eerder aan die kantlyn van haar lewe loop. Haar ouers het hulle so normaal as moontlik grootgemaak. “Dit was nooit dat ek tot minder in staat was nie ー dalk is ek fisies. Ek het dit net nooit geglo nie, want ek het alles gedoen wat my sussies en maatjies gedoen het,” sê Carmen.  

“My lewe loop in ’n reguit lyn en SF loop in ’n reguit lyn langsaan dit. Soms moet ek oorspring na die SF lyn toe, dan handle ek dit: Ek gaan hospitaal toe, word behandel en raak gesond. Dan spring ek weer terug en die twee bane loop weer langsaan mekaar.”

“Soms kruis ek meer oor daardie kant toe. Ander kere raak my SF heeltemal verlore en ek doen nie alles wat ek moet doen om myself gesond te hou nie. Die lewe raak soms te besig, maar ek dink oor die algemeen probeer ek dit goed juggle,” sê Carmen. 

Eten., Hygge Hygge en Yawn

Op 6 Maart 2019 het Carmen haar eerste gesonde wegneemete-restaurant, Eten. oopgemaak. By beide Hygge Hygge en Eten. word Carmen se eie koffiereeks, Yawn, bedien. 

Carmen wou nog altyd ’n restaurant gehad het en het as ’n klein dogtertjie vir Melissa en hulle oudste sussie, Azél, warm sjokolade op ’n skinkbord bedien. “Ek dink ek hou net daarvan om mense te bedien. Dis vir my lekker, maar met my gesondheid kon ek nooit ’n plek soos Hygge op my eie aanpak nie.”

“Eten. kan ek op my eie hanteer. Dis klein, dis wegneemetes en ek hoef net een mens aan te stel,” sê Carmen.

Melissa sê sy dink die feit dat Carmen móés gesond eet, het ook ’n invloed gehad op die feit dat sy ’n gesonde restaurant oopgemaak het. “Dis die niche wat sy gevind het. Sy kon gesonde kos lekker laat proe. Sy maak vir my iets vreeslik lekker en dan sê sy: ‘Daar is niks kalorieë daarin nie’,” vertel Melissa. 

Carmen verduidelik dat sy met Eten. vir verskeie mense opsies wou aanbied. “As jy vegan is of as jy gluten intolerant is, wil ek vir jou iets kan aanbied. As gevolg van alles wat in kos ingepomp word, ontwikkel mense hierdie probleme.”

“Ek wil gesonde wegneemetes, wat vullend is, vir mense aanbied,” sê sy. 

Met Eten. help Carmen ook ander mense om hulle drome te bewaarheid. “Al die voorraad van Eten. kom van plaaslike klein besighede af. My droom het waar geword, daarom wil ek ploeg in ander mense se drome en help om dit waar te maak deur hulle produkte aan te hou,” sê sy.

Carmen Möller (links) en Melissa Crous (regs) voor Hygge Hygge, hulle nuwe restaurant wat in April in Stellenbosch oopgemaak het. FOTO: Verskaf/Carmen Möller

Yawn het ontstaan uit Carmen se liefde vir koffie. “Ons het bone gaan kies, dit gaan proe en nou word dit plaaslik gerooster,” sê Carmen. 

Hygge Hygge, verduidelik die sussies, moet jou tuis laat voel: op jou gemak en ontspanne. Dit is wat dié Deense-woord en -leefstyl verteenwoordig. “Dis om die klein goedjies van die lewe meer plesierig te maak en ‘hart’ in kleiner dingetjies in te sit,” verduidelik Carmen.

“Dit was ’n droom om so ’n tipe plek oop te maak en ’n lekker sit-down te hê. Nou kan ek dit doen, want ek het ’n sussie wat saam met my is en ons kan alles saam doen. Met iemand anders sou my SF ’n rol gespeel het, maar Melissa verstaan as ek dalk hopsitaal toe moet gaan en vir twee weke nie hier kan wees nie. Ek kan ook vir haar instaan as sy dit nodig het,” verduidelik Carmen.

Gesondheid en ondersteuning

“My ouers het verantwoordelikheid vir my siekte gevat. Selfs toe ek op 21 nog by die huis gebly het, het hulle nie verwag dat ek my eie medisyne moet meng nie. Dit was iets wat hulle vir my wóú doen. Fourie, my man, is nou dieselfde. Hy meng my medisyne en hy haal my pilletjies vir my in die oggend uit,” sê Carmen.

“Dit is so selfless. Ek is baie gelukkig,” sê sy. 

Carmen en haar man, Fourie, het hul eerste huweliksherdenking op 13 Desember 2020 gevier. 

“My beste vriendin, Linda, het ook SF. Toe ontmoet ek haar nefie, en dit is Fourie! Dit was ’n bedekte seën, want Fourie het alles van SF geweet nog voordat ek hom ontmoet het,” sê Carmen. 

“Hy is regtig wys. Ek dink altyd dat ek al deur emosionele goed gegaan het, wat ek voel my lewenservaring gegee het… Soms voel dit vir my of hy dit ook al ervaar het, want hy gee vir my raad!”

Carmen Möller (links) en Fourie Möller (regs) op hul troudag op 13 Desember 2019. FOTO: Verskaf/Carmen Möller

Carmen gesels oor die belangrike rol wat ’n dokter speel in die lewe van mense met ’n chroniese siekte. “Hulle word soos jou familie.”

Carmen was vir 10 jaar by haar pediater, Dr Fiona Kritzinger, omdat daar baie min pulmonoloë was wat gespesialiseer het in volwassenes met SF. “Dit was net nie ’n siekte waarmee jy ouer word nie. Ek het my pediater gesien totdat ek 22 geword het. Toe skuif ek eers,” sê sy. 

Sy verduidelik dat sy en haar ouers gevolglik ’n baie spesiale verhouding met Dr Kritzinger het. “Ek dink selfs ouers met kinders wat SF het, kort ook berading…’n Persoon wat hulle verstaan en vir hulle kan sê dat hulle kinders okay gaan wees. Sy was ongelooflik in daardie aspek. Ek is baie lief vir haar,” sê Carmen.

jong

Henk Crous (links) en Christa Crous (regs) staan vir Carmen Möller (middel) in die hospitaal by. FOTO: Verskaf/ Carmen Möller

Daar is ’n gevoel van kameraderie onder Suid-Afrikaners met SF. “Ek dink omdat die SF-gemeenskap so klein is, is ons almal daar vir mekaar. Ek is seker op vier verskillende WhatsApp-groepe met verskillende tipe SF-mense.”

Carmen het hulle hoofkok by Hygge Hygge, Andries van der Merwe, op hierdie groepe ontmoet. Andries het ook SF. 

“Ek kan dit nie verduidelik nie. Hulle praat met mekaar op ’n vlak wat ek nie verstaan nie. Ek raai dis wat gebeur as jy die dood al ’n ruk in die gesig staar. Stel jou voor jy is een jaar oud en jou ma sê vir jou dat jy vir jou lewe moet baklei. SF-mense het net ’n ander manier om die lewe te sien,” sê Melissa. 

jong

Carmen Möller kry behandeling in die hospitaal vir haar Sistiese Fibrose. FOTO: Verskaf/Carmen Möller

Carmen verduidelik weer haar lewe in lyne: “Dood is bietjie aan die ander kantlyn. Dit is iets wat ’n mens oor dink en wonder. Die lewensverwagting waaroor almal heeltyd praat, maak mens bang. Dit is maar ’n lyn wat jy na toe oorgaan en dan kom jy weer terug,” sê Carmen. “Jou immuunstelsel is altyd onder druk en dit is gevaarlik om klein gewone siektes te kry wat ander mense vinnig van herstel. Dit kan maande vat vir iemand met SF om te herstel.” 

, , , , ,