Ses tips vir studente om die KKNK te oorleef en te beleef

Die KKNK wat meeste van ons as kinders saam met ons ouers leer ken het, is nie dieselfde KKNK wat jy as student sal beleef nie. Die aande is langer, en die naweek aansienlik duurder as toe jou ma daarvoor betaal het. Veral vir KKNK-groentjies is dit soms nuttig om ’n paar riglyne te hê om jou veilig weer terug in Stellenbosch te kry. Deur met ’n paar gesoute feesgangers te gesels, het MatieMedia se span ’n paar tips bymekaar gemaak om die KKNK te oorleef, en terselfdertyd ten volle te beleef.

1. Kyk na die weer

Oudtshoorn is bekend vir warm dae waar die kwik tot bo 40 grade styg, maar die afgelope paar jaar het onverwagte reënbuie feesgangers verras. Daar is gewoonlik nie baie plek in studente-tente of karre nie, so maak seker of jy die ekstra spasie vir sonskerm of ’n reënbaadjie wil gebruik.

2. Kry musiek vir die pad

Aangesien ’n groot deel van die pad na Oudtshoorn uit bergpasse bestaan, is radio-opvangs sleg. Daarom is jy beperk tot ’n statiese geraas of Derick se ontbytprogram op RSG. Tensy jy graag wil hoor hoekom Tannie Kotie van Kakamas graag “Going Back West” vir haar kleinkind wil speel, word dit aanbeveel dat jy jou eie musiek saamvat. Vir feesdoeleindes word Afrikaans is Groot of Bokradio Top 40 aanbeveel.

’n Foto van die woord wat feesgangers by die sogenaamde “Rivierbuurt” van die KKNK verwelkom FOTO: LIDA MALHERBE

3. Kuiertuin

Die Kuiertuin is soos die Nubar van die KKNK-wêreld. As jy wil voel of jy terug in Stellenbosch is, sal dit die eerste plek vir studente wees om te gaan soek. Vir R50 kry jy ’n hele dag – tot eenuur die oggend – toegang tot opkomende kunstenaars. Hulle is gewoonlik meer as gewillig is om studente op die verhoog toe te laat.

4. Koedoeburger-stalletjie

As die Kuiertuin die Nubar van Stellenbosch is, is die Koedoeburger-stalletjie die McDonalds. As een van die enigste kosstalletjies wat oop is in die vroeë oggendure, verstaan hulle die studentelewe goed (en met billike pryse vir ’n koedoeburger en skyfies lyk dit of hulle die student se beursie ook verstaan).

5. KKNK-hemde

As jy nog nooit op KKNK was nie, kan dit vreemd lyk om mense te sien rondloop met hemde wat se “Ek is nie jou Tannie nie!” of “Hier is ek, wat is jou ander twee wense?” Hemde met hierdie slagspreuke is eie aan feeste soos die KKNK. As jy ooit so ’n hemp sou wou dra, is hierdie dit die regte tyd. Hoewel jy miskien terug op kampus snaakse kyke mag kry (sou jy dit klas toe dra) is dit ’n lekker feesaandenking , of ‘n lekker tema vir ’n “You will never see me like this again”-huisfondsdans.

6. “What happens at KKNK, stays at KKNK”

Die heel belangrikste is: geniet dit! KKNK is ’n verskynsel op sy eie, waar selfs toeriste ’n bietjie Afrikaans binne hulself vind. Die aande is dalk lank, en beursies kom leeg terug, maar die “grootvoël-paradys” is iets wat jy nooit weer soos ’n student sal kan beleef nie.

Lida Malherbe