Selfoonwinkel in Andringastraat geteiken gedurende gewapende roof

Twee verdagtes is steeds op vrye voet nadat hulle aan die einde van Julie by ’n gewapende roof in Andringastraat betrokke was. Die sellulêre herstelwinkel, Ali’s Repair-Centre in die Stelmark-winkelsentrum in Andringastraat is op 25 Julie kort voor 9:15 beroof, het kaptein Nathalie Martin, kommunikasiebeampte by die Stellenbosch-polisiestasie, gesê. 

Een van die werknemers van Ali’s Cellular Repair Centre, wat anoniem wou bly, het die voorval bevestig. 

Ali’s Cellular Repair Centre, ’n winkel geleë in die Stelmark-winkelsentrum in Andringastraat, is onlangs in ’n gewapende roof geteiken. Dit is volgens Kaptein Nathalie Martin, kommunikasiebeampte by die Stellenbosch-polisiestasie.   FOTO: Keziah Bailey

Nog geen arrestasies gemaak 

Volgens Kapt. Martin het twee onbekende manne die winkel op 25 Julie betree en die werknemer aan diens gevra of sy hulle selfone kan laai. Die werker het hulle aangeraai om oor 10 minute terug te keer om die selfone te kom haal. Met hulle terugkoms, het hulle die winkel betree en die werknemers aan diens gedreig met gewere. 

Geen skote is egter afgevuur nie en niemand het enige ernstige beserings tydens die voorval opgedoen nie. Die oortreders kon egter wegkom met twee skootrekenaars en selfone, het Kapt. Martin gesê.

Die insident is omstreeks 09:15 gerapporteer, volgens Kapt. Martin. Die verdagtes word steeds gesoek, het sy gesê. 

Die twee verdagtes wat op 25 Julie Ali’s Cellular Repair Centre beroof het, is steeds op vrye voet, volgens Kaptein Nathalie Martin, kommunikasiebeampte by die Stellenbosch-polisiestasie.  FOTO: Keziah Bailey

Alhoewel Debonairs Pizza langs Ali’s Cellular Repair Centre geleë is, was Keasha Jefferies-Abrahams, bestuurder van Debonairs, glad nie bewus van die rooftog wat besig was om plaas te vind nie. Sy het wel agterna van die voorval gehoor.  

“Teen die tyd dat ons van die rooftog gehoor het, was alles verby. [Die slagoffers] het net vir die polisie gewag,” het sy gesê. 

Besighede gewaarsku om versigtig te wees 

Dit is nie die eerste keer dat winkels in die area beroof word nie, volgens Kapt. Martin. Besigheidseienaars en werknemers word aangeraai om waaksaam te wees vir kriminele aktiwiteite en moet hul eie veiligheid prioritiseer, het sy gesê. 

“Besigheidseienaars behoort nie gunste soos bogenoemde aan vreemdelinge of enige klant te doen nie,” het sy gesê.

Kaptein Nathalie Martin, kommunikasiebeampte by die Stellenbosch-polisiestasie, waarsku werknemers en besigheidseienaars om waaksaam te wees en om hulle veiligheid eerste te stel. FOTO: Keziah Bailey

, , ,