Selfoondiewe slaan helder oordag toe by plaaslike koffiewinkel

Vier onbekende mense is onlangs op ’n plaaslike koffiewinkel se sekuriteitskamera vasgevang terwyl hulle ’n personeellid se selfoon gesteel het. Dit is volgens Carlyn Williams, die bestuurder van Shift Espresso Bar in Stellenbosch. Williams se selfoon het op 8 Julie helder oordag van agter die toonbank verdwyn.

koffiewinkel

Shift Espresso Bar is op 8 Julie deur vier mense geteiken wat die bestuurder se selfoon van agter die toonbank gesteel het. FOTO: Nazley Wilschutt

‘Trek die aandag af’

Volgens Williams het ’n man en vrou eerste by die winkel ingestap, gevolg deur twee ander mans wat sekondes daarna ingestap het. “Die man en vrou het by die voorste tafel gaan sit nadat hulle vir ’n ruk lank in die deur bly staan het. Die ander twee mans het direk na die agterste tafels gegaan en daar gaan sit,” het Williams gesê.

Sy het verduidelik dat een van die mans daarop aangedring het om die toilet te gebruik terwyl die ander een dadelik iets wou bestel. 

Williams het gesê sy het “na agter” gegaan om die twee mans “wat net rondgestaan het” te help. “Ek was nie eers lank weg nie en toe ek terugkom, was my selfoon en die man en die vrou weg,” het Williams gesê.

koffiewinkel

Carlyn Williams, die bestuurder van Shift Espresso Bar in Pleinstraat, staan agter die kasregister, vanwaar haar selfoon op 8 Julie gesteel is. FOTO: Nazley Wilschutt

Die ander twee mans het, volgens Williams, direk daarna ook die koffiewinkel verlaat. 

Volgens Shané Timmey, ’n werknemer by Shift Espresso Bar wat ook ten tyde van die insident teenwoordig was, was dit asof die ander twee mans daar was om almal se aandag af te trek. 

“Die een het aanhoudend na die toilet gevra. Hoe meer ek sê die toilet is beset, hoe meer wou hy die toilet gebruik,” het sy gesê. “Die oomblik toe ek my draai, gryp die man die selfoon en vlug uit die winkel uit.” 

“My selfoon is die eerste ding waarna ek gesoek het toe ek terug na die toonbank gaan,” het Carlyn Williams, die bestuurder van Shift Espresso Bar in Stellenbosch, gesê. FOTO: Nazley Wilschutt 

Volgens Timmey, het hulle die koffie wat hulle gekoop het in die straat gegooi en die kolwyntjie op die toonbank gelos.

Almal op hul hoede

Curry Thyme, nóg ’n restaurant op die dorp, is ook deur dié vier mense besoek, het Johanne Loubscher, die bestuurder van Curry Thyme, aan MatieMedia gesê, maar niks is daar gesteel nie. 

Volgens Loubscher was die vier ook by La Coco, Col’Cacchio en ’n juwelierswinkel, waar hulle ook met leë hande vort is. 

koffiewinkel

Johanne Loubscher, die bestuurder van Curry Thyme in Stellenbosch, is ook bewus van die vermeende selfoonrowers wat na bewering restaurante teiken. “Hulle is besig om hul rondtes in Stellenbosch te maak en was al reeds by verskeie restaurante en koffiewinkels in Stellenbosch,” het Loubscher gesê. FOTO: Nazley Wilschutt

“Mense waarsku mekaar en baie winkels is op hul hoede. Die sekuriteit is intussen ook baie sigbaar en aktief sedert hulle by talle winkels opgedaag het,” het die eienaar van ’n ringverstellingswinkel gesê. Die eienaar wou egter anoniem bly. 

koffiewinkel

Volgens ’n kelnerin van Col’Cacchio het die vermeende selfoondiewe ook by dié restaurant opgedaag, en was daar iets verdag aan hulle optrede”. “Een van die mans wou die toilet gebruik, een het geskuif om agter die toonbank te kan sien, maar danksy die video en die bestuurder wat by die selfone gesit en werk het, kon hulle niks vat nie,” het die kelnerin, wat anoniem wou bly, gesê. FOTO: Nazley Wilschutt

Kaptein Nathalie Martin, woordvoerder vir die Suid-Afrikaanse Polisiediens in Stellenbosch, het bevestig dat sulke soort diefstalle ’n nuwe fenomeen is. 

“Niks is volgens die stasie se daaglikse misdaad-databasis op die genoemde datum aangemeld nie,” het Martin per e-pos aan MatieMedia gesê. 

Geen arrestasies is sover, volgens Martin, gemaak nie.