Sekuriteitshekke aan Stellenbosch hospies geskenk ná tweede inbraak in een maand

’n Kliënt het onlangs twee sekuriteitshekke aan die Stellenbosch Hospice Shop geskenk om hul sekuriteit op te skerp ná ’n tweede inbraak by die winkel in minder as ’n maand. 

Dit is volgens Lana Dippenaar, bestuurder van die winkel. 

inbraak

Die Stellenbosch Hospice Shop het onlangs ’n tweede inbraak in minder as ’n maand gehad. Om hul sekuriteit op te skerp, het ’n kliënt twee sekuriteitshekke aan hulle geskenk. FOTO: Candice Jantjies

Die kliënt, wat anoniem wil bly, het die hekke ter nagedagtenis aan haar pa wat onlangs oorlede is, geskenk, volgens Dippenaar. 

“In hierdie deurmekaar tye is daar steeds sulke wonderlike en liefdevolle mense daarbuite,” het Dippenaar op die winkel se Facebook-blad gedeel. “Sy het ons selfs met donuts bederf.” 

Die sekuriteitshekke sou op 15 Oktober by die kombuisdeur en een van die kantoordeure van die Stellenbosch Hospice Shop geïnstalleer word, volgens Lana Dippenaar, bestuurder van die winkel. FOTO’S: Candice Jantjies

‘Late night shopping’

Die eerste inbraak by dié winkel in Borcherd-weg, Stellenbosch, het “om en by” 20:30, 8 September plaasgevind, waartydens ’n tablet en rekenaarskerm gesteel is, het Dippenaar beweer. Dié voorval is nie by die polisie aangemeld nie, het sy gesê. 

Die tweede een het net ná middernag op 5 Oktober plaasgevind, en is wel by die Stellenbosse Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD) aangemeld, volgens Dippenaar. “Die rekenaarskerm wat ons gebruik vir security footage-kameras, het hulle probeer steel,” het sy gesê. “Maar hulle het dit nie uitgekry nie. Maar ons het nog steeds skade gely – die skerm is uitgeruk.” 

imbraak

Die rekenaarskerm wat die Stellenbosch Hospice Shop gebruik om die winkel te monitor, is gedurende die inbraak uitgeruk, en die personeel moes iets “aanmekaar” sit om die winkel te monitor, het Lana Dippenaar, bestuurder van die winkel, gesê. FOTO: Candice Jantjies

Alle vensters was toe en die deure gesluit ná die laaste personeel die winkel om 17:00 op 4 Oktober verlaat het. Toe hulle om 8:30 die volgende oggend teruggekeer het, het hulle ontdek dat een van die vensters stukkend was. 

Dit is volgens Kaptein Nathalie Martin, mediaskakelbeampte van die Stellenbosse SAPD. Die saak word tans ondersoek, het Martin per e-pos aan MatieMedia gesê. 

“Ons het net die oggend ingekom en gesien dat die venster stukkend is en dat daar ingebreek is,” het Kuda Mataga, ’n winkelassistent by die hospies, gesê. 

Hulle het drie dae later die hekke ontvang, en dit sou op 15 Oktober geïnstalleer word, volgens Dippenaar. Hulle gaan ook die stukkende venster vervang en diefwering voor al die vensters laat installeer, het sy gesê. 

venster

Een van die vensters van die Stellenbosch Hospice Shop is beskadig toe daar onlangs by die winkel ingebreek is, volgens Lana Dippenaar, bestuurder van die winkel. FOTO: Candice Jantjies

Dit is die vierde of vyfde inbraak by die hospies in twee of drie jaar, en “dis genoeg om jou gatvol te maak!” het Dippenaar gesê. 

“Ons is nie die nuwe aandpartytjie-winkel nie. Nee!” het sy op hul Facebook-blad gedeel. “Hierdie late night shopping moet end kry.”

, , ,