SA se top drie matrikulante kies Maties

Die Universiteit Stellenbosch (US) het vanjaar die land se top drie matrikulante van 2021 verwelkom. Ulrich le Roux, Simone Wessels en Ah-Young Moon – wat verlede jaar onderskeidelik die eerste, tweede en derde posisies in die land behaal het – het vanjaar by die Fakulteit Ekonomiese en Bestuurswetenskappe aangesluit.

top drie matrikulante

Universiteit die kant toe! Die Universiteit Stellenbosch verwelkom vanjaar die land se top drie matrikulante. Foto: Karla van der Merwe

Volgens Le Roux het die dele van studentelewe wat hy vantevore gesien het, hom oorreed om die US te kies. Hy volg vanjaar saam met Moon ’n BCom (Aktuariële Wetenskap)-program en het verduidelik dat hy veral uitsien na die wiskundig-georiënteerde vakke.

“Die program gaan definitief moeilik en uitdagend wees, maar dit is ook goed, aangesien dit my sal lei om ’n meer afgeronde, doeltreffende en produktiewe persoon te wees,” het Le Roux verduidelik.

Wessels het vertel dat sy ook uitsien na haar BCom-graad in Rekeningkunde en het gesê die universiteit se hoë gehalte onderrig het haar gelok. Sy het vertel dat haar kampuservaring tot dusver beter is as verwag. 

“Ek het die oomblik wat ek by die koshuis ingeloop het, welkom en tuis gevoel. Ek kon nie meer gelukkig gewees het met my keuse van universiteit tot dusver nie,” het sy gesê. Wessels woon vanjaar in Nerina, een van die US-vrouekoshuise op kampus.

top drie matrikulante

Universiteit die kant toe! Die Universiteit Stellenbosch verwelkom vanjaar die land se top drie matrikulante. Foto: Karla van der Merwe

Stephen Burgess, ’n senior lektor by die fakulteit, het gesê hy is bly dat hulle gekies het om juis daar te kom studeer. Hy het aan MatieMedia gesê dat die fakulteit spog met ses gekwalifiseerde aktuarisse met praktiese- en onderrigervaring as deel van hul personeel. “Ons het ook ’n bewese prestasierekord van ons studente wat baie vinniger as ander universiteite s’n as aktuarisse kwalifiseer,” het hy aangevoer.

Die CGW Schumann-gebou is een van die Fakulteit Ekonomiese en Bestuurswetenskappe se hoofgeboue. Foto: Karla van der Merwe

Martin Viljoen, US-woordvoerder, sê dat dié drie studente elkeen gedurende die eerste jaar van hul studies kwalifiseer vir akademiese merietebeurse wat “tot en met ’n 40% korting op hul studiegelde” sal bied. Hierdie beurse word volgens die US se webwerf elke jaar toegeken aan eerstejaarstudente wat 90% of meer vir hulle matriekgemiddelde behaal.

Moon was nie vir kommentaar beskikbaar nie.

, , , ,