Rupert Museum roep kunstenaars

’n Plaaslike museum het vanjaar vir die tweede keer ’n uitnodiging aan kunstenaars gestel om inspirasie uit een van die uitstallings in dié museum te put en dan hul eie kunswerke daarvolgens te produseer. Die Rupert Museum in Stellenbosch se uitnodiging is vanaf 18 Februarie tot 8 Julie oop aan enige kunstenaars. Dit is volgens die Rupert Museum se webwerf.

“Futurist Garden” deur Giacomo Balla is ’n voorstelling van ’n versameling simplistiese en denkbeeldige blomme van die toekoms. Deelnemers wat die uitnodiging aanvaar het, kan onder meer inspirasie put vanuit hierdie kunswerk. FOTO: Dominique Fuchs

Uitnodiging oop vir enigiemand

“Die aansoeke is oop vir almal omrede die bewegings wat in die werke gemerk word oor verskeie dissiplines strek, nie net in die skone kunste nie en dit maak die open call wyer vir inskrywings vanuit verskeie velde,” het Eliz-Marié Schoonbee, kurator by die Rupert Museum, gesê. Volgens Schoonbee kan kunstenaars van enige kreatiewe industrie, platform of professie deelneem.

Die eerste uitnodigings is in 2020 uitgereik, het Schoonbee gesê. “Daar was 135 aansoeke wat vanaf 128 individue gekom het en elkeen kon meer as een werk ingedien het,” het sy gesê. Volgens Schoonbee was vier van die finale 38 kunstenaars wat hulle kunswerke in 2020 uitgestal het, van Stellenbosch afkomstig.

Die Rupert Museum in Stellenbosch het vir die tweede keer ’n uitnodiging aan kunstenaars gestel om op die kuns in die museum te reageer met hulle eie kunswerke. FOTO: Dominique Fuchs

“Die doel van die uitnodiging is om interaksie met die permanente uitstallings in die museum te bevorder en vir kunstenaars die geleentheid gee om hulle kunswerke uit te stal en te verkoop,” het op die webwerf verskyn. Kunstenaars moes inspirasie put uit die IN-MOTION: Art of the Space Age-uitstalling en dan kunswerke as ’n antwoord daarop produseer. Hierdie kunswerke kan dan moontlik vanaf September 2022 tot Maart 2023 by die Jan Rupert-kunssentrum in Graaff-Reinet uitgestal word. Só lui die Rupert Museum se webwerf.

Hierdie kunswerk deur Duitser Gerhard von Graevenitz vorm deel van die IN-MOTION: Art of the Space Age-uitstalling wat tans by die Rupert Museum te sien is. FOTO: Dominique Fuchs

Publiek put genot uit inisiatief

“Dit is ’n wonderlike manier om die publiek deel te maak van die kreatiewe proses,” het Strijdom van der Merwe, bekroonde Stellenbosse kunstenaar, aan MatieMedia gesê. Van der Merwe was in 2020 deel van die projek. “In die verlede het galerye en museums altyd soos geslote private plekke voorgekom, maar met só ’n inisiatief maak hulle dit toeganklik en reik uit na die publiek.”

Nog ’n fokus van die geleentheid is om die publiek aan verskeie aspekte, werke en kunstenaars wat die museumversamelings verteenwoordig, bekend te stel, het Schoonbee gesê.

“Besoekers het dit geniet om van die ‘minder bekende’ kunstenaars in die Jan Rupert-kunssentrum te sien,” het Audré du Preez, inligtingsbeampte van die Jan Rupert-kunssentrum in Graaff-Reinet, gesê. Die geleentheid het ook vir die publiek blootstelling aan nuwe kuns en kunstenaars gebied, en die kunstenaars wat deelgeneem het, kon ook daarby baat vind, het Du Preez verduidelik. 

Kunstenaars se kunswerke kan moontlik later vanjaar by die Jan Rupert-kunssentrum in Graaff-Reinet uitgestal word. FOTO: Dominique Fuchs

, , , , , , , ,