Rugbywêreldbeker-geselskap bring US-alumni en wynliefhebbers bymekaar

Die Rugbywêreldbeker het ’n groot rol te speel in die bevordering van sosiale samehorigheid. Dit is volgens Christélle Cronjé, hoof van alumni by Stellenbosch Sakeskool en organiseerder van ’n onlangse sport- en wyngeleentheid vir alumni by L’Avenir-wynlandgoed.  

Dié alumni-geleentheid is op 7 September deur Stellenbosch Sakeskool in samewerking met Universiteit Stellenbosch (US) gehou en is ook aan die Stellenbosch Sakeskool-alumni in Parys aanlyn beskikbaar gestel, volgens Cronjé.

Ongeveer 80 mense het die geleentheid in persoon bygewoon en sowat 20 alumni-lede was aanlyn, het Cronjé vertel.  

Van links na regs: Noel Bastian, ’n entrepreneur en sakeman, Edward Heynes, voorsieningsdirekteur by die maatskappy Servest, Drickus Hancke, voormalige Maties-rugbyafrigter en hoof van die Universiteit Stellenbosch (US) se rugbyprogram en Gio Aplon, voormalige Springbok-rugbyspeler, was almal deel van die paneel tydens die onlangse sport- en wyngeleentheid. FOTO: Instagram/lavenir_wine_estate

Die gees van Suid-Afrikaners

Pieter de Villiers, voormalige Springbok-rugbyafrigter, het tydens die geleentheid gesê dat rugby ’n baie “trotse gevoel” in Suid-Afrikaners wakker maak.

Sport het ’n unieke manier om Suid-Afrikaners bymekaar te bring, het De Villiers gesê. Hy het tydens die geleentheid ook gesels oor sy ervaring as Springbok-afrigter. 

“Ek is baie geëerd om my land te kon trots maak gedurende my tyd as Springbok-rugbyafrigter,” het De Villiers gesê. “Ek glo dat die 2023 Rugbywêreldbeker [baie] Suid-Afrikaners gaan herenig.” 

Een van die paneellede, die voormalige Springbok-rugbyspeler Gio Aplon, het die geleentheid as ’n “volsirkel-oomblik” beskryf. 

“As voormalige Springbok-rugbyspeler en iemand van ’n klein dorpie, sou ek nooit kon raai dat ek in ’n [vertrek] sou sit en oor rugby praat met mense wie regtig na my opinies oor die sport wil luister nie,” het Aplon tydens die geleentheid gesê.

Heindrich Wyngaard, TV-aanbieder en skrywer, was die gasheer van ’n sport- en wyngeleentheid wat onlangs deur Stellenbosch Sakeskool aangebied is. Volgens Wyngaard was dit vir hom ’n groot eer en voorreg om die geleentheid aan te beid. FOTO: Sebastian Paulus

Entrepreunerskap in sport 

Entrepreneurskap in sport was een van die kernonderwerpe gedurende die paneelbespreking, het Cruz Pedro, ’n entrepreneur en gas by die geleentheid, gesê. 

“Geleenthede soos hierdie is baie belangrik vir entrepreneurs weens die feit dat dit [ons] kan help om [ons] besighede te bemark en in die proses ’n netwerk te bou,” het Pedro aan SMF News gesê.

Burton Francis, ’n voormalige rugbyspeler vir onder meer die Bulle, Stormers en Griekwas, en deesdae ’n sakeman, het saamgestem met Pedro se siening.

“Ek het onlangs my eie wyn begin produseer, en in die laaste paar maande het [ek] begin om my besigheid [te] bemark. Hierdie geleentheid is ook een van die maniere waar ek my besigheid kan bemark en kontakte opbou,” het Francis gesê.

Volgens Edo Heyns, bemarkingsdirekteur van Advini, die maatskappy wat  L’Avenir-wynlandgoed besit, kon gaste van sowat vyf verskillende  L’Avenir- wyne probeer as deel van die sport-en wyngeleentheid.  VIDEO: Sebastian Paulus

, , ,