Stellenbossers beplan 2 000km-staptog vir Rooikruis

Stellenbosse brandbestryders en plaaslike inwoners maak gereed om meer as  2 000km vanaf Richardsbaai na Kaapstad te stap in ’n poging om fondse vir die Rooikruis-Kinderhospitaal in te samel. 

Dié staptog, wat oor 36 dae gaan strek, sal vanaf 13 Mei tot 17 Junie plaasvind, het Malcolm Johnson, stigter van die nie-winsgewende-organisasie genaamd Heal Our Children, gesê.

“Ek moet iets doen vir my medemens, en die kinders het hierdie keer in my hart opgekom,” het Johnson aan MatieMedia gesê. Dit sal Johnson se vyfde liefdadigheidstaptog wees.

Malcolm Johnson (links), stigter van die nie-winsgewende-organisasie, Heal Our Children en Franklin Peceur (regs), senior brandbestryder en paramedikus by Stellenbosch Brand en Redding. “Opgewondenheid heers onder die stapspan soos wat die datum nader kom,” sê Peceur. FOTO: Kara van der Merwe

Die fondsinsameling

“Hierdie projek het ten doel om alle kinders te voorsien van versterkte en toegewyde ortopediese dienste by die Rooikruis-Kinderhospitaal,” het Pauline Solomons, skenkerverhoudingsbestuurder by die Kinderhospitaaltrust, gesê. Solomons het ook bevestig dat al die fondse wat deur die Kinderhospitaaltrust ontvang word, gebruik sal word vir die bou van ’n ortopediese eenheid. 

Die persone wat saam met Johnson die staptog gaan aandurf, sluit in Rudolph Williams, ’n inwooner van Stellenbosch, sowel as Brian Daniels wat van Oudtshoorn afkomstig is. 

“Dit is belangrik vir ons om te bevestig dat die inisiatief in Stellenbosch gebore is,” het Malcolm Johnson, stigter van die nie-winsgewende-organisasie genaamd Heal Our Children, gesê, oor die beplande staptog om geld in te samel vir die Rooikruis-Kinderhospitaal. FOTO: Kara van der Merwe.

Motivering agter die staptog

Franklin Peceur, senior brandbestryder en paramedikus by Stellenbosch Brand en Redding, gaan ook aan die staptog deelneem. “My skoonsussie se kleinkind is ’n pasiënt by die Rooikruis-Kinderhospitaal. In 2021 het hulle ’n gewas in haar brein gekry wat te klein is om uit te sny. Hierdie staptog doen ek uit en uit sodat sy die moontlikheid kan hê tot ’n vol lewe,” het hy gesê.

Solomons het ook bevestig dat al die fondse wat deur die Kinderhospitaaltrust ontvang word, gebruik sal word vir die bou van die ortopediese eenheid.  Pasiënte sal by die nuwe ortopediese eenheid gedurende ’n enkele besoek toegang hê tot ’n veelvuldige professionele span, insluitend arbeidsterapeute, fisioterapeute, dieetkundiges en sjirurge. “Die gespesialiseerde dienste en multidissiplinêre sorg is daarop gemik om hierdie kleintjies te help om gesonder en genormaliseerde lewens te lei,” het Solomons gesê.

’n Uiteensetting van die staproete wat die Stellenbosse brandbestryders en inwoners op hulle liefdadigheidstaptog gaan volg. FOTO: Verskaf/Malcolm Johnson

, , , , , ,