Resensie: Jong akteurs in ‘Vlerke vir almal’ skitter met eerlike spel

Seer mense maak mense seer. Só meen Marion Erskine, skrywer van die jeugroman Vlerke vir almal wat vanjaar as toneelstuk by die US Woordfees geopen het. Die stuk gaan op ’n subtiele manier om met die tema van verlies en spreek tot jonk en oud.

Die regie is behartig deur Vicky Davis, wat ook verantwoordelik was vir die verwerking van die teks. Met die verhoogteks skep Davis ’n fyn balans tussen drama en komedie sonder om afbreek te maak aan die belangrike temas in die roman.

Die produksie bied die geleentheid vir jong akteurs om skouers te skuur met groot name in die bedryf soos Leon Kruger en Leanna Dreyer.

Vlerke vir almal is ’n uitvloeisel van die Nasionale Toneelspelkompetisie vir hoërskoolleerders wat jaarliks in die Kunstekaap-teater aangebied word. Die akteurs word gekies uit al drie finale rondtes van die kompetisie, en hulle ding dan mee vir onder andere ’n plek in ’n professionele produksie.

Vicky Davis (regisseur), Marion Erskine (skrywer van die boek Vlerke vir Almal) en Ilza Roggeband (gespreksleier) by ’n US Woordfees-gesprek oor die roman. FOTO: Nicolette van Schalkwyk

Vicky Davis (regisseur), Marion Erskine (skrywer van die boek Vlerke vir Almal) en Ilza Roggeband (gespreksleier) by ’n US Woordfees-gesprek oor die roman. FOTO: Nicolette van Schalkwyk

Die produksie vertel die storie van die sewentienjarige Dewald (vertolk deur Wian Taljaard) wat ná ’n groot verlies ’n spraakprobleem ontwikkel. Met die hulp van sy vriende vind hy ’n manier om sy boelies les op te sê. Op dié manier vind hy sy ‘vlerke’

Die toneelstuk raak temas aan wat verband hou met seksualiteit, afknouery en mishandeling. Die akteurs slaag daarin om die emosies rondom hierdie temas oortuigend te vertolk. Dit is veral Taljaard wat in sy vertolking van die hoofrol weerloosheid en eerlikheid oordra. Dit spreek van besondere talent.

Die jong akteurs wys die vlerk-handgebaar. Van links na regs: Banele Mthembu, Mia van der Merwe, Wian Taljaard, Maria Strauss en Sithembile Zungu. FOTO: Nicolette van Schalkwyk

Die jong akteurs wys die vlerk-handgebaar. Van links na regs: Banele Mthembu, Mia van der Merwe, Wian Taljaard, Maria Strauss en Sithembile Zungu. FOTO: Nicolette van Schalkwyk

Die produksie stel die uitsonderlike talent van jong akteurs ten toon. Davis meen dat dit ’n wonderlike geleentheid is vir jongelinge om professionele ervaring op te doen.

Die eerlikheid in die akteurs se spel is bewys dat daar baie aandag gegee is aan dié spesifieke dinge wat elke karakter uniek maak.

“Vicky gee ons baie vryheid om ons karakters te vind,” sê Banele Mthembu wat die rol van Beesbal vertolk.

Verder het Davis ook daarin geslaag om met ’n minimalistiese stel ’n boeiende visuele ervaring te skep. Die stel is op ’n kreatiewe manier gebruik om die gehoor te betrek, en selfs deel te maak van die aksie.

Die stel van Vlerke vir Almal is effektief gebruik om die kyker te boei. FOTO: Verskaf

Die stel van Vlerke vir Almal is effektief gebruik om die kyker te boei. FOTO: Verskaf

Volgens Dreyer, ’n ervare aktrise wat die rol van Dewald se ma vertolk, is die jong akteurs vreesloos.

“Daar is ’n ongelooflike naïwiteit aan hul spel.”

Net so bewonder Kruger, in die rol van Dewald se pa, ook hul gewilligheid om kanse te waag.

Die finale rondtes van vanjaar se Nasionale Toneelspelkompetisie vind plaas van 3 tot 5 Mei by die Kunstekaap waar die tienerakteurs vir 2019 se produksie gekies sal word.

-Grethe Bestbier en Nicolette van Schalkwyk

, ,