Refentse ‘praat’ met feesgangers se harte by US Woordfees

Dit sit nie in enige sanger se broek om in verskeie tale te kan sing nie, maar vir die jong sanger Refentse Morake sou sy vertoning by vanjaar se US Woordfees nie volmaak wees sonder liedjies van byna alle genres en boonop nog in vyf verskillende tale nie.

Refentse het vir die tweede maal by dié fees opgetree en vanjaar is hy slegs deur sy kitaar, ’n baskitaarspeler en ’n stel voettromme vergesel terwyl hy ’n reënboognasie van feesgangers uit volle bors en dansend in Afrikaans, Engels, isiZulu, isiXhosa en Vlaams laat saamsing het.

“Ek dink dis baie belangrik om met ’n ou te kan praat in sy eie taal,” het Refentse verduidelik.

“Jy praat met sy hart. Almal verstaan beter in die tale waarin hulle dink. So ek dink almal voel net meer deel van die vertoning as jy hulle taal praat.”

Foto 1

Refentse kry dit reg om die gehoor met humor en ernstige oomblikke in sy vertoning te vermaak. FOTO: Arleen Stone

Skare het die geleentheid gehad om na ’n mengelmoes van bekende Afrikaanse liedjies, soos “Sonvanger”, “Halala Afrika” en “Rooirokbokkie”, Country-treffers soos “Country Roads”, Blues-liedjies en selfs wyle Miriam Makeba se “Pata Pata” te luister.

Veeltaligheid is egter nie waar sy talente eindig nie, want hierdie rasperstemsanger kan ook pen op papier sit en het reeds twee albums agter sy naam. Hy het van sy eie treffers soos “Vuil Vanderbijl”, “Anoret” en “Sal jy?” tot verblyding van aanhangers gesing en moes selfs vir ’n encore terugkeer verhoog toe.

Tussendeur het hy ook die gehoor met sy vlymskerp humor vermaak waarmee hy graag die draak steek met homself, sy tuisdorp, Vereniging, en die inwoners.

https://soundcloud.com/matiemedia/refentse-by-us-woordfees-2018

Refentse vermaak die gehoor met gekskeerdery tydens sy optrede by die US Woordfees. KLANK: Arleen Stone

Refentse het met lof van die Stellenbosch-skare, by die Jan Marais Natuurreservaat, gepraat en verduidelik dat die rede vir sy veelsydigheid eenvoudig is: om rassisme en klassisme te vernietig deur die grense van musiekgenres en tale te verskuif.

“Ek wil amper sê die [Stellenbosch] mense het ’n beter waardering vir musiek. Dié mense bly stil en luister na die songs. Dit gaan nie net altyd oor partytjie en dans nie. Dit gaan eintlik oor musiek,” het Refentse vertel.

“Hierdie Woordfees was definitief een vir die boeke gewees.”

Foto 2

Honderde feesgangers drom saam om na die veelsydige Refentse te luister. FOTO: Arleen Stone

Hy beloof om volgende jaar terug te keer na die fees, hierdie keer met sy volledige orkes.

Sy laaste boodskap aan Stellenbosch was: “Julle ruk en rol. Baie dankie dat julle ons akkommodeer tydens hierdie awesome fees. Hou aan en mag dit reën waar julle beeste wei.”

Foto 3

Refentse tree vanjaar vir die tweede keer by die US Woordfees op. FOTO: Arleen Stone

Refentse het in 2015 die land aangenaam verras toe Facebook-video’s van hom verskyn het waarin hy die liedjies “De La Rey” en “Lisa se klavier” gesing het. Teen die volgende dag het daardie einste video’s byna 160 000 likes  gehad.

 

,