Raadslede uit stadsraadsvergadering verwyder na “ontwrigtende” gedrag

Twee raadslede is gedurende ’n onlangse Stellenbosch Munisipaliteit-stadsraadsvergadering uit die vergadering verwyder, nadat hulle dit glo ontwrig het. Dit is volgens Quintin Smit, speaker van die raad en ook plaaslike raadslid vir die Demokratiese Alliansie (DA). 

Dié twee raadslede, onderskeidelik van die Economic Freedom Fighters (EFF) en African National Congress (ANC), is gedurende ’n stadsraadsvergadering wat via Microsoft Teams op 29 Maart plaasgevind het, verwyder as gevolg van ontwrigtende gedrag.

Stellenbosch Munisipaliteit het op 29 Maart ’n stadsraadsvergadering via Microsoft Teams gehou. FOTO: Keziah Bailey

Mikrofoon glo onklaar

Beide die raadslede ontken egter dat hulle ontwrigtend was. Ayanda Tomoso, ’n ANC-raadslid van Wyk 12 , het aan MatieMedia gesê dat hy glad nie tydens die vergadering gepraat het nie, aangesien sy mikrofoon nie wou werk nie. 

“Toe ek die vergadering verlaat en terugkom, toe kon ek die mikrofoon gebruik,” het Tomose gesê.

Tomose beweer dat hy die speaker van die vergadering wou korrigeer omdat die speaker “altyd insinueer dat ek die een is wat geraas maak”.

“Toe ek dit probeer verduidelik, het [die speaker] my uitgeskop,” het Tomoso beweer.

Volgens Zola Ndalasi, proporsionele raadslid (PR) van die EFF, het hy, nadat Tomose uit die vergadering verwyder is, vir ’n spreekbeurt gevra sodat hy ’n verklaring vir die verwydering van Tomose kon kry. Daarna is Ndalasi óók gevra om die vergadering te verlaat. 

“Die ANC-raadslid het die kans gekry om te praat [en was gewaarsku]. Hy het my net uitgeskop,” het Ndalasi vertel. 

Tomose het gesê dat hy gedisrespekteer en gemarginaliseerd gevoel het omdat hy nie die reg gegun is om in die vergadering te wees nie.

Ayanda Tomose, ANC-raadslid van Wyk 12, deel sy ervaring van die Stellenbosch Munisipaliteit se stadsraadsvergadering wat op 29 Maart plaasgevind het. STEMGREEP: Keziah Bailey

Speaker hou by die reëls

Volgens Smit is een van die reëls van die stadsraadsvergadering egter dat alle persone se mikrofone afgeskakel moet wees terwyl ander individue aan die beurt is. 

“Hulle was ontwrigtend en disrespekvol teenoor ander raadslede terwyl hulle besig was om aan te bied,” het Smit gesê. Volgens Smit het Tomose en Ndalasi tussendeur gesels, en is dus gevra om die vergadering te verlaat. 

Ndalasi se bewering dat sy mikrofoon nie wou werk nie, is ongeldig, meen Smit, aangesien almal teenwoordig van nuwe toestelle gebruik gemaak het en die vergadering op dieselfde platform bygewoon het.

Volgens die Orderëels wat deur die raad aangeneem is, en die stel reëls is waaraan raadslede moet voldoen, het Smit korrekte stappe teenoor Ndalasi en Tomose gevolg, het Stuart Grobbelaar, kommunikasiebestuurder van Stellenbosch Munisipaliteit, gesê. Dit is die taak van die speaker, as die hoof van die raad, om orde tydens die vergadering te handhaaf, het Grobbelaar bevestig. 

Wrywing het tussen raadslede ontstaan tydens die Stellenbosch Munisipaliteit se stadsraadsvergadering op 29 Maart. Twee raadslede is uit die vergadering verwyder, het Quintin Smit, speaker van die raad, gesê. FOTO: Keziah Bailey

, , , ,