R40 000 se toerusting by plaaslike leersentrum gesteel

Derduisende rande se toerusting is onlangs by ’n plaaslike leersentrum vir kinders met outisme, gesteel. Dit is volgens Lurika Munnik, die bestuurder van Inuka, ’n sentrum vir kinders op die outisme-spektrum.

Drie skootrekenaars, ’n mikrogolf, lamineer-masjien en bluetooth-luidspreker is onder meer tydens ’n inbraak op 18 Maart gesteel. Dit is volgens ’n Facebook-plasing op ’n gemeenskapsblad deur Amanda Mostert, ’n ouer van ’n leerder by die sentrum. Mostert woon ook langsaan die Inuka-sentrum.

Volgens Munnik is die waarde van die gesteelde toerusting sowat R40 000.

Toerusting ter waarde van R40 000 is onlangs by ’n plaaslike leersentrum gesteel. Die misdadigers het Maandag, 18 Maart, by ’n venster ingebreek, volgens Lurika Munnik – die bestuurder van Inuka, ’n leersentrum vir kinders op die outisme-spektrum. FOTO: Rachel Jonker

Die saak is op 18 Maart by die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD) in Cloetesville aanhangig gemaak, het Zenobia Sedeman, adjudant-beampte en woordvoerder van Cloetesville-polisiestasie, bevestig.

“Die saak is oorgeplaas na die SAPD in Stellenbosch vir verdere ondersoek,” het Sedeman gesê.

Leersentrum omgegooi deur skelms

“Lurika-hulle het vanoggend kwart oor sewe aangery gekom, en sy sê toe dit lyk vir haar of die skuifdeur bietjie oop is, maar sy het gedink dis dalk maar net die blink van die venster,” het Mostert op die dag van die inbraak gesê.

Die misdadigers het onderdeur die heining gekruip en by ’n venster wat buite sig is, ingeklim, het Munnik beweer.

Volgens Munnik lyk dit asof die misdadigers deur al die leersentrum se toerusting gegaan het.

“Speelgoed is uit die kratte gegooi en die waaier het plat op die vloer gelê,” het Munnik gesê.

Wakker gemeenskap help met opspoor van goedere

Intussen het gemeenskapslede Inuka in kennis gestel dat hulle die misdadigers gesien het. Hierdie gemeenskapslede het Mostert-hulle op die spoor van die gesteelde besittings gesit, het Mostert gesê.

Volgens Mostert het die gemeenskap van Cloetesville dadelik wenke gestuur wat Mostert-hulle kon volg om hul mikrogolfoond by ’n plaaslike pandjieswinkel te gaan uitken.

Die bestuurder van die pandjieswinkel het bevestig dat hy bewus is van die inbraak by die skool. Hy het egter gesê dat hy geen vuilspel verwag het toe ’n mikrogolf, wat vermoedelik gedurende die voorval gesteel is, by hulle ingeruil is nie. “Ons het baie kliënte in Cloetesville. […] Dit was ook nie ’n nuwe model nie.” Die bestuurder het versoek om anoniem te bly.

Die bestuurder van ’n plaaslike pandjieswinkel het bevestig dat ’n mikrogolf, wat na bewering by die Inuka-leersentrum gesteel is, by hulle ingeruil is. FOTO: Rachel Jonker

Volgens Munnik het die polisie intussen die mikrogolf gekonfiskeer, maar Inuka het nie voldoende bewyse gehad dat dit aan die leersentrum behoort nie.

“Baie van die toerusting is geskenke of donasies,” sê Mostert. “Daar is nie altyd bewyse dat Inuka dit gekoop het nie.”

Kaptein Mthetheleli Mkhafu, ’n skofbevelvoerder by die SAPD in Stellenbosch, het gesê dat die tak tans aandag gee aan die saak. Die oorplasing van die saak vanaf Cloetesville, sowel as Menseregtedag, het die ondersoek uitgerek, het Mkhafu gesê.

Volgens Zenobia Sedeman, adjudant-beampte en woordvoerder van Cloetesville-polisiestasie, is ’n diefstal-saak by die Cloetesville-polisiestasie aanhangig gemaak, maar hulle het die saak verwys na Stellenbosch-polisiestasie. FOTO: Rachel Jonker

,