Prysgeld van R270 000 op die spel in SA se enigste Afrikaanse wiskundekompetisie

Suid-Afrika se enigste aanlyn Afrikaanse wiskundekompetisie, die Netwerk24-wiskundekompetisie, vind weer vanjaar op digitale platforms plaas, volgens Rentia Deysel, n projekbestuurder vir Cum Laude Media. Die kompetisie word sedert 2020 aanlyn aangebied, as gevolg van die Covid-19-pandemie, het Deysel verduidelik. FOTO: William Brederode

Hoër- en laerskoolleerders kan vanjaar weer hulle wiskundevaardighede opknap by die jaarlikse Netwerk24-wiskundekompetisie. Dit is volgens Rentia Deysel, ’n projekbestuurder vir Cum Laude Media, wat in samewerking met Netwerk24 die wiskundekompetisie gereël het. ’n Totale bedrag van R270 000 se prysgeld is op die spel. 

Die vraestelle sal slegs in Afrikaans beskikbaar wees, het Deysel per e-pos aan MatieMedia gesê. “Die borge is Afrikaanse nuusplatforms,” het sy verduidelik. “Dit is dus net logies dat die kompetisievraestelle in Afrikaans is.”

As gevolg van die Covid-19-pandemie word die kompetisie sedert 2020 aanlyn aangebied, wat dit, volgens Deysel, die enigste aanlyn wiskundekompetisie in die land maak.

Volgens Deysel is die hoërskoolafdeling oop vir leerders in graad 10, 11 en 12 en die laerskoolafdeling vir leerders in graad 6 en 7. Aansoeke vir hoërskoolleerders het op 19 Julie gesluit, maar aansoeke vir die laerskoolleerders is oop tot 27 Julie, volgens die Cum Laude Media webtuiste.

“[Daar is] min kompetisies wat prysgeld vir die kinders gee,” het Johlene Fourie, die wiskundevakhoof by Laerskool Stellenbosch, gesê. Fourie het verduidelik dat Laerskool Stellenbosch ’n deel van die geld wat hulle in 2021 gewen het, op wiskunde-toerusting bestee. FOTO: Verskaf/Rentia Deysel 

Dink buite die boks

Wiskundeolimpiades gee aan studente die geleentheid om wiskundevaardighede te ontwikkel wat hulle moontlik nie andersins sou nie, het Dirk Basson, ’n wiskundedosent aan die Universiteit Stellenbosch, gesê. 

Volgens Basson ervaar die universiteit dat leerders wat goed gedoen het in hoërskoololimpiades ook in hulle verwante kursusse presteer. “Wiskunde kan op ’n baie formule-gedrewe manier aangebied word […] en sommige leerders kan baie verveeld raak met hierdie benadering. Olimpiades neem ’n teenoorgestelde benadering,” meen hy. 

“Ons ervaar dikwels dat leerders wat goed doen in hoërskoololimpiades ook goed doen in ons […] kursusse,” het Dirk Basson, n wiskundedosent by Universiteit Stellenbosch, gesê. FOTO: William Brederode

“Kinders verras ’n mens altyd. Die van wie jy dit partykeer die minste verwag, kan buite daai boksie dink en vaar uitstekend,” het Johlene Fourie, die wiskundevakhoof by Laerskool Stellenbosch, gesê.

Raad van ’n voormalige wenner

Hano Krige, ’n oud-leerling van Laerskool Stellenbosch en verlede jaar se derdeplekwenner, meen dat die kompetisie hom meer selfvertroue gegee het wat wiskunde betref. “Ek dink wiskunde sal my baie help in die toekoms, want ek wil miskien ingeneurswese gaan studeer,” het Krige gesê. 

Volgens Fourie het Laerskool Stellenbosch ’n gedeelte van die prysgeld gebruik om wiskunde-toerusting aan te skaf en ’n gedeelte daarvan vir Krige gegee. Merenka Krige, Krige se ma, het genoem dat hy ’n rekenaar met sy prysgeld gekoop het, omdat hy dit geniet om te kodeer. 

“My wenke vir die ander leeders is: Glo in jouself, moenie te veel stres nie, en onthou die tyd tel,” het Hano Krige, ’n oud-leerling van Laerskool Stellenbosch en verlede jaar se derdeplekwenner, gesê. FOTO: Verskaf/Merenka Krige

, ,